Stropery: Beter jaar vir renosters, olifante steeds geteiken

edna-molewa-2018-01-konferensie-op-governmentza-twitter

Bongani Bongo, minister van staatsveiligheid, en Edna Molewa, minister van omgewingsake, by die Donderdag se mediakonferensie (Januarie 2018) oor renosterstropery. Foto: Government ZA/Twitter.com

Daar was ʼn geringe afname in die aantal renosters wat plaaslik in 2017 gestroop is, maar die kommerwekkende tendens van stropers wat nou toenemend hulle visier op olifante rig, het ongelukkig vergroot.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het Donderdag tydens ʼn nuuskonferensie in Pretoria terugvoer gegee oor haar en verskeie ander staatsdepartemente se plan om renosterstropery te bekamp.

Volgens Molewa is daar 1 028 renosters in 2017 gestroop, ʼn klein afname van 26 minder renosters wat vir hulle horings gedood is Stropery van die grys reuse is sedert 2014 stadig aan die afneem nadat dit ʼn rekordgetal van 1 215 in dié jaar bereik het. Die getal is egter steeds veel hoër as wat dit voor 2012 was.

In die Krugerwildtuin, wat steeds as ʼn brandpunt vir stropery beskou word, was daar ʼn 24% afname in renosterstropery – van 662 na 504 gevalle in 2017. Daar is ook op 220 beslag gelê in gevalle waar stropers in die wildtuin gevang of verhinder is om tot stroping oor te gaan.

“Die samewerkende benadering [tussen die departemente van omgewingsake, verdediging en staatsveiligheid] is die rede waarom ons gekom het tot waar ons nou is en dit is ʼn veel beter plek as waar ons ʼn paar jaar gelede was. Dit is vir ons duidelik uit hierdie verslag dat ons span deurlopende suksesse behaal, maar ons is net so bewus daarvan dat hierdie stryd nog nie verby is nie,” het Molewa gesê.

Sy het ook genoem dat die verskuiwing van renosters ʼn effektiewe plan bly, wat help om die diere te beskerm terwyl dit sommer die bevolkingsaanwas van renosters vergroot het.

Boonop was daar verlede jaar ook meer skuldigbevindings van stropers en sindikate wat by die stropery van dié diere betrokke was. Sowat 117 mense is vir dié misdaad in 2017 skuldig bevind, nadat net 58 mense in 2016 aan stropery skuldig bevind is. Verder is 502 stropers en handelaars in die jaar vasgetrek.

“Die Valke het opgemerk daar is nuwe tendense in die manier waarop handelaars renosterhoring uit Suid-Afrika smokkel. Die departement het egter uitstekende werk gedoen, hande gevat met nasionale en internasionale owerhede en daarom sien ons in hegtenisnemings van smokkelaars wat hulleself op hoër vlakke in sindikate bevind,” het Molewa gesê.

Sy het genoem dat daar heelwat opleiding gedoen word rondom die beskerming en bewaring van renosters, terwyl selfs die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nou by die stryd teen onwettige oorgrens-verskuiwing van wildlewe en wildleweprodukte betrek word.

Handel in renosterhoring

Molewa het ook terugvoer gegee oor die plaaslike handel in renosterhoring, wat steeds deur talle omgewingbewustes as ʼn baie omstrede onderwerp beskou word.

Sy het weer eens benadruk dat die internasionale kommersiële handel van renosterhoring nog onwettig is soos dit deur die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies van wilde fauna en flora (Cites) bepaal word.

Suid-Afrikaners mag wel plaaslik met die regte permit van die departement van omgewingsake binne die land se grense met renosterhoring handeldryf. Die minister het verduidelik watter vereistes vir so ʼn permit gestel sal word:

“Vir iemand om te kwalifiseer vir verkoop- of kooppermitte van renosterhoring moet die persoon kan bewys dat hy of sy wettiglik die renosterhoring besit, geen kriminele rekord het nie en die renosterhoring moet op die nasionale databasis geregistreer wees en ʼn DNS-sertifikaat besit,” het Molewa verduidelik.

Haar departement is glo tans besig om permitte vir die plaaslike handel van renosterhoring in sewe provinsies uit te reik, terwyl die finale reëlings in die twee oorblywende provinsies ook hiervoor getref word.

Olifante nou ook al meer geteiken

Molewa het gesê die 67 olifante wat verlede jaar in die Krugerwildtuin gestroop is, is vir haar ʼn groot bron tot kommer. Nog ʼn olifant is ook in dieselfde tydperk in KwaZulu-Natal gestroop.

Die departement van omgewingsake wil nou in ʼn poging om olifantstropery te bekamp voordat dit heeltemal handuitruk, die gebiede waar olifante die kwesbaarste is identifiseer en strategieë ontwikkel om dié stropery hok te slaan.

Molewa het wildbewaarders, plaaslike owerhede en die Groen Skerpioene bedank vir wat hulle doen in die stryd teen renosterstropery. Sy het ook haar waardering uitgespreek vir al die organisasies wat help om die diere te bewaar en die mediakonferensie afgesluit deur Suid-Afrikaners aan te moedig om enige verdagte aktiwiteite rondom wildlewe by die omgewingsmisdaadnoodnommer by 0800 205 005 of by die Suid-Afrikaanse Polisiediens by 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.