Struweling met parkbeamptes: Fietsryer sterk aan ná operasie

Nic Dlamini in die hospitaal. (Foto: Facebook)

Nic Dlamini, een van Suid-Afrika se topfietsryers, sterk goed aan sedert ʼn operasie aan sy arm wat verlede week beseer is tydens ʼn struweling met parkbeamptes in die Tafelberg Nasionale Park.

Dlamini sê Maandag in ʼn verklaring op sy Facebookblad die operasie het goed verloop.

“Vir eers moet ek kundige sorg en fisioterapie in die hospitaal ontvang of tuis rus totdat ek goed genoeg herstel het om ʼn verklaring by die polisie af te lê. Ek is nog nie seker wanneer dit sal wees nie, maar voorlopig is dinge ʼn bietjie ongemaklik en ek kom nog tot verhaal oor wat gebeur het.”

Dlamini sê dit is nie in dié stadium duidelik wanneer hy weer op ʼn fiets sal kan klim nie.

Maroela Media het vroeër berig Dlamini se arm is moontlik gebreek nadat hy deur bewaarders agter in ʼn bakkie ingeboender is. ʼn Video hiervan is op sosiale media versprei.

‘n Skermgreep uit die video wat wys hoe die fietsryer Nic Dlamini hardhandig in hegtenis geneem word. (Skermgreep: Twitter)

Volgens ʼn verklaring Vrydag deur SANParke sê ʼn wildbewaarder Dlamini het die Silwermyn-gebied binnegekom sonder om die bewaringsgeld te betaal. Hy kon ook geen permit toon toe hy daarna gevra is nie.

Wildbewaarders is van die voorval in kennis gestel en in die daaropvolgende “situasie het die verdagte homself beseer”, lui die oorspronklike verklaring.

Vyf wildbewaarders is sedertdien geskors hangende die uitkoms van ʼn ondersoek.

Luidens die verklaring oorweeg Dlamini regstappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.