Stryd om water vir Koster, Swartruggens lank nie verby

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners-aksiegroep (KBI) en Pionier het aansoeke om verlof tot appèl ingedien teen die onlangse uitspraak dat water- en rioolaanlegte op Koster en Swartruggens aan die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in Noordwes teruggegee moet word.

Die dorpe sit sedert die uitspraak “meer sonder water as met water” nadat die water- en rioolwerke van die Kgetlengrivier-munisipaliteit in Mei ingevolge ʼn hofbevel weer aan die beleërde munisipaliteit oorhandig is.

Carel van Heerden, ʼn verteenwoordiger van KBI, het Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê die aksiegroep het ook ’n hersieningsaansoek teen Magalies Water ingedien om meer inligting rakende die waterverskaffer se aanstelling deur die Kgetlengrivier-munisipaliteit te bekom.

Magalies Water het die bedryf van die aanlegte namens die munisipaliteit oorgeneem en inwoners van Koster en Swartruggens sit sedertdien – nes in die verlede – met gebrekkige waterverskaffing.

“Die situasie is maar weer net waar dit was,” het Van Heerden Dinsdagmiddag by navraag oor die stand van water in Koster en Swartruggens gesê.

Maroela Media het vroeër berig aanlegte het maande lank sonder voorval gewerk en skoon drinkwater het uit inwoners se krane gevloei nadat die KBI in Desember beheer daarvan oorgeneem het.

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit het egter in Maart vanjaar ʼn dringende aansoek ingedien om die bestuur van die water- en rioolwerke in die dorpe van die KBI terug te neem.

Regter A.J. Mahlangu het die aansoek in die hooggeregshof in Mmabatho toegestaan.

Die hof het boonop bevind dat Joseph Mogale, munisipale bestuurder, nie aan minagting van die hof skuldig is nie. Daar word ook teen dié beslissing appèl aangeteken.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die burgerregteorganisasie verwelkom die aansoeke om verlof tot appèl teen die “twyfelagtige” uitspraak wat Mahlangu gelewer het.

“Die belang van die saak vir gemeenskappe is te groot om nie te appelleer nie,” meen Kruger.

“Pionier en die KBI bied oortuigende redes aan waarom regter Mahlangu gefouteer het, regtens en feitelik. Die bevinding dat Mogale nie skuldig is van minagting van die hof nie, gaan mens se verstand te bowe.

“Die beginsel van groter inspraak en betrokkenheid van gemeenskappe in die bestuur van dienste waar munisipaliteite voortploeter te midde van korrupsie, wanbestuur, bankrotskap en gebrek aan vaardighede is ononderhandelbaar. Vir regeringsamptenare om vas te klou aan ’n mislukte stelsel is ’n klap in die gesig vir belastingbetalers en gemeenskappe wat geregtig is op dienslewering,” sê Kruger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Moenie enigeits vir die ANC gee, of aan die ANC oorhandig dan is daar ‘n gemors. Dink nie eers van die raadslede het die brein krag om te weet hoe op ‘n kraan aan en af te draai nie!

Frank

Ai toggie, hierdie munisipale amptenare is nie moedswillig of iets nie, verstaan mooi!!!
Hulle is net TOTAAL onbekwaam en onbevoeg en ongeskik vir die poste waarin hulle aangestel word. Het net eenvoudig nie die vermoë om so iets te bestuur nie. Potgietersrus (Mokopane) gaan net so dramaties agteruit. Was eers Pêrel van die Noorde…..

Gert

Die regter sukkel nie met water nie so dit pla hom nie. Sy broers moet bevoordeel word

Francois

Dagvaar sommer die regter ook vir swak beslissings. Van sy familie werk seker by die munisipaliteit