Stryd oor Noordwes-dorpe se riool-, waterdienste weer in hof   

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek formeel hofstukke beteken om as vriend van die hof (amicus curiae) tot die voortslepende Koster-hofgeding toe te tree.

AfriForum sê sy toetrede volg nadat die departement vir samewerkende regering en tradisionele sake ’n dringende hofaansoek namens die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in die Noordwes-hooggeregshof in Mmabatho gebring het om die bestuur van Koster en Swartruggens se water- en rioolwerke uit die hande van die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) terug te neem. Die KBI bestuur dit sedert Desember 2020 ingevolge ’n hofbevel.

Volgens Corné Cronjé, bestuurder van AfriForum se gemeenskapstrukture, sal die saak op 11 Mei  aangehoor word. “Die gebeure in die Kgetlengrivier-munisipaliteit en die frustrasie van die plaaslike gemeenskap is ’n mikrokosmos van die landwye munisipale verval en gevolglike radeloosheid van gemeenskappe wat nie basiese dienste ontvang nie.

“AfriForum voer in sy hofstukke aan dat Koster nie in isolasie gesien moet word nie. Die oplossings wat hier gevind word, is egter uiters belangrik vir ander gemeenskappe in die land om op gestruktureerde wyse dienste self te kan bestuur waar munisipaliteite misluk het,” sê Cronjé.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook reeds tot die saak toegetree. Die eenheid tree namens die KBI-inwoners op in die hofaansoek wat eerskomende Dinsdag in dieselfde hof aangehoor word om te verklaar dat die munisipale bestuurder ’n hofbevel geminag het.

Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verduidelik dat die munisipale bestuurder, Joseph Mogale, deur die hooggeregshof beveel is om onder meer aan die hof verslag te doen oor watter stappe gedoen is om die rioolvloei op te klaar en in die toekoms te voorkom, by gebreke waarvan hy 90 dae tronkstraf opgelê sal word.

“Die minagting van ’n hofbevel hou in dat die howe se gesag ondermyn word en dat dit gevolglik beskerm moet word. Die doel van ’n bevinding van minagting is juis om die howe se gesag te beskerm en verdere dade van minagting af te weer.

“Ons voer aan dat Mogale sy plig ingevolge die hofbevel versuim het en dat hy verantwoordbaar gehou moet word. Die aansoek om minagting het ten doel om te verseker dat geregtigheid geskied en dat die howe se gesag nie geskend word nie,” voeg Swanepoel by.

Die dienstemaatskappy Pionier – wat deur die KBI aangestel is om die werke te bestuur – is ook tot die hofstryd gevoeg, maar verdedig ook die hofaansoek. “Die aanlegte funksioneer nou beter as ooit en die watergehalte is baie hoog.

“Cogta en die munisipaliteit is paniekerig en wil teen wil en dank die aanlegte aan Magalies Water teruggee, wat saam met die munisipaliteit vir die aanlegte se verval verantwoordelik is. Dit gaan die verstand te bowe,” sê Johan Kruger, uitvoerende voorsitter van Pionier Dienstemaatskappy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Omgewingsterrorisme onder die ANC. Die grondwet waarborg ‘n skoon omgewing, maar dit word ook vertrap.

Aikie

Ek sit werklik tussen twee vure oor die saak. Ek dink dit is reg dat die burgers die plek bedryf, want die munisipalireit kon dit nie doen nie. Dis die hof geding wat my dwars in die krop steek. Wen die ANC, verval die werke weer. Wen die burgers, gaan die hof beveel dat die ANC die kostes moet dra. Drie raaie oor wie uiteindelik die geld moet uitvurk? Die belasting betaler natuurlik. Die hof moet beveel dat Mogale uit sy eie sak die kostes moet dek en in alle verdere vertoë by die hof moet die belastingbetaler NIE betrek… Lees meer »

Jack

Ek staan agter Afriforum en die inwoners. Die werke het in die verlede nie net verval nie maar ek glo die gelde daarvoor het ook verdwyn daaroor dus die hofaansoek. Ons sal self. Dit is die oplossing.

Jacobus

Kannie glo dat amptenary so hard baklei om hulle riool te behou! Lyk my vernietiging is deel van ANC agenda!

Grassie

Die munisipaliteite voel vere vir die verskaffing van dienste en lewering van skoon water. Die riool kan maar in die strate afloop en die drinkwater vol wurms wees solank hulle net beheer oor die begroting kan kry sodat hulle dit kan plunder, meestal na hulle eie gatsakke toe. Die ANC is besig om die land te vernietig – hul etos en toegewydheid om die land te regeer ruik na daardie ongesuiwerde goed wat hulle in ons strate en riviere laat afloop.