Stryd oor venue wat gay paartjie wegwys, woed voort

(Foto: pixbay)

Die eienaars van die Beloftebos-trouvenue in die Wes-Kaap ontken in hofstukke in die gelykheidshof dat sy beleid onregverdig diskrimineer teen die LGBT-gemeenskap.

Die venue voer boonop aan dat die Menseregtekommissie (MRK), wat die klagte teen hom aanhangig gemaak het, onbillik diskrimineer op grond van gewete, godsdiens en geloof en dat die MRK bevooroordeeld is.

Maroela Media het in Maart berig die MRK het aangevoer hy het talle klagtes ontvang teen die trouvenue oor sy beweerde diskriminasie teen paartjies van dieselfde geslag. Weens die eienaars se geloofsoortuigings word dié paartjies nie toegelaat om daar te trou nie.

Die organisasie Freedom of Religion SA (For SA) sê nou die MRK se saak teen Beloftebos se eienaars spruit uit ʼn voorval in 2017 toe hulle – op grond van die Bybelse beginsel dat ʼn huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou is – ʼn selfdegeslagpaartjie se versoek om daar te trou van die hand gewys het.

Selfs al het die paartjie uiteindelik by ʼn ander venue getrou en woon nou in die VSA, het die MRK, namens verskeie ander klaers, drie jaar later besluit om regstappe teen Beloftebos te doen. Die MRK vra die hof om Beloftebos se beleid ongrondwetlik te verklaar en hulle te dwing om selfdegeslagtroues daar toe te laat, het Michael Swain, uitvoerende hoof van For SA, gesê.

Hy sê die eienaars van Beloftebos het juis ʼn trouperseel geopen omdat die huwelik vir hulle ʼn heilige sakrament is: ʼn Verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou wat deur God self ingestel is en ʼn weerspieëling is van die verhouding tussen Jesus Christus as bruidegom, en die kerk as bruid.

Beloftebos sal dus enige ander geleentheid wat ook teenstrydig met hul Christelike geloof is, wegwys. Hulle gaan nie ʼn sogenaamde Halloween-partytjie, ʼn geesoproepgeleentheid, fortuinvertellery of die viering van ʼn poligame huwelik daar toelaat nie.

Die eienaars van Beloftebos sê mense van enige seksuele oriëntering is welkom daar en sal altyd bedien word. Daar word geen onderskeid getref tussen mense wanneer hulle bedien moet word, of wanneer hulle die fasiliteit wil gebruik nie. “Dit is 100% wat Jesus van ons verwag. Wanneer ons egter gevra word om te help met iets wat ons opreg glo nie in ooreenstemming is met Jesus se leringe nie, kan ons nie, om die redes reeds uiteengesit, met ʼn rein gewete daaraan voldoen nie,” lui die hofstukke.

“Ons besluite het absoluut niks te doen met ʼn persoon se ras, geslag, seksuele oriëntasie, welvaart of enige ander persoonlike aspek nie, maar word gegrond op ons begeerte om te doen wat reg is vir God, in ooreenstemming met ons geloof.”

Swain sê die Heilige Skrif en siening dat ʼn huwelik eksklusief tussen een man en een vrou is, is een van die oudste leringe en word al byna 2 000 jaar lank gehandhaaf en gevier.

“Dit was ʼn geloofsakrament lank voordat enige wetgewing dit gereguleer het. Ons Suid-Afrikaanse regstelsel het nie die huwelik geskep nie, dit word bloot erken en gereguleer as ʼn instelling wat die bestaan van ons land ver voorafgaan.”

Swain sê die saak gaan verreikende gevolge hê. Hy sê as die hof teen hulle beslis, gaan die eienaars van Beloftebos gedwing word om aan geleenthede deel te neem of dit te vier, wat teen hul waardestelsel indruis. Andersins gaan hulle die venue dalk moet sluit.

“Die uitkoms van die saak gaan eweneens elke dienste- en goedereverskaffer in Suid-Afrika raak, wat dan gedwing kan word om dienste te verrig waarmee hulle wesenlik verskil. Uiteindelik gaan die saak oor vryheid – die vryheid vir almal van ons om te kies om te leef op ʼn manier wat met ons geloofsoortuigings ooreenstem.

“Dit is dus moontlik om selfdegeslaghuwelike te steun en terselfdertyd saam met Beloftebos te staan, want as die hof hulle kan dwing om werk te doen wat teen hul gewete, geloof en oortuigings indruis, kan die hof enigiemand dwing om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

Wilhelm ·

Reg van toegang voorbehou… respekteer ‘n besigheid se reg om jou weg te wys, sonder dat hulle ‘n rede hoef te gee.

Fluisterwind ·

Kan ek as Christen nie die “muntstuk” omdraai nie, en die vraag vra of die LGBT gemeenskap nie teen ons as Christene diskrimeneer deur ons te dwing om teen ons geloof op te tree?

Leeu ·

Soos ek in my eie kommentaar uitwys is ek ook gay, en ek stem saam met jou kommentaar. Die venue, volgens my, het net soveel reg om hulle geloofsvoorkeur te bevorder aswat die LGBT-gemeenskap het om hulle sin uit te leef.

Jessey ·

Maar geld dieselfde beginsel nie maar hier dat ek respekteer die Moslem geloof en dus sal ek nie in ‘n Moslem eetplek vra vir spek en eiers nie? Ek stem dit is teen hulle geloof en so is dit, maar die Christen geloof word die hele tyd ge ” challenge”.

As ons die argumente “entertain”, dan kan mens regtig Petty wees en se dat daar op my regte tot spek en eiers ingedruis word as ‘n Moslem restaurant dit nie vir my bedien nie

Hennie ·

Probeer ‘n bier saam met jou spek en eiers, anders diskrimineer die Moslems teen my. Interessante saak dié, maar ek kry die gevoel dat ek weet wat die uitkoms gaan wees

Pierre ·

Volgende gaan seker ‘n Muslim paartjie in die N.G.Kerk wil wees.

Xain ·

Wilhelm, ek stem saam. As ‘n besigheids eienaar myself kan niemand my dwing om besigheid met sekere persone te doen nie. Dis my reg en ek dra die finansiele gevolge om geld weg te wys of nie.

Duck ·

Ja, en jou hardegat geid gaan jou besigheid geld kos.
Ai, sal nooit leer nie

Oranje-Blanja-Blou ·

Duck vir my as Christen is daar dinge groter as geld…

Die Wolf ·

Klink vir my so asof jy n geld jakkals is. n Persoon staan by sy beginsels. Party van ons het net beter beginsels as andere.

LD ·

Bly dit nie maar die eienaar se keuse of hy wil geld weg wys of nie? Dis in elkgeval verkeerd, man en vrou is vir mekaar geskape!

Drico ·

Beloftebos, bly by jul standpunt. Daar staan uitdruklik in die Bybel wat God se woord en wet spreek, dat man en man nie bymekaar mag slaap nie en so ook nie vrou by vrou nie, slegs man en vrou.
Ek is dankbaar dat jul gestand doen aan God se woord.

Die Wolf ·

Dit is privaat eiendom en die eienaar het die finale se, al sien ander dit nie so nie. Kry maar vir julle n ander venue.

Niklaas ·

Ons moet begrip en simpatie hê met hierdie LBGT gemeenskap. Ek ken ‘n aantal en voel eintlik baie jammer vir hulle. Hul lewe is eintlik nie so maklik nie. Ek het dit jare gelede al gesien in my destydse weermag diensplig dae.

Die Wolf ·

Niemand diskrimineer teen hulle nie. Hulle het ook n reg maar as privaat eienaar het ek ook n reg.

babbelblapsie ·

Ek stem saam met jou. My broer is gay en is uit die land en kerk uit net oor dit. Maak dit van jou ‘n minder Christen omdat jy ander voorkeure het? Wat van die pedofiele, molesteerders en alle ander daar buite. Baie van die wat in die voorste gestoeltes sit is daar net vir die skyn en as die kerk verdaag dan is hy ook een van die sondaers. Van my vriende wat gay is is meer Christen as baie van die mense wat so aangaan oor alles.

ES ·

Ons het die reg om enige geloofsoortuiging te volg in Suid Afrika. Ek kan nie sien hoe enigiemand gedwing kan word om hul deure vir almal oop te maak nie.

Die paartjie het vele ander keuses gehad.

Aan die ander kant van die spektrum is Beloftebos net ‘n besigheid, en trou word nie aan hulle gesweer nie, maar deur die predikant, dominee of wie ookal voor God.

Die venue word net gebruik vir die kapel met sy dekor en vir die onthaal van jou gaste. Hoekom moet Beloftebos kan aanspraak maak op wie en wat enigiemand, ongeag van hul suksuele voorkeur, in belofte aan God sweer?

Lourens CFG ·

Dit is nie wat Beloftebos doen nie. Hulle weier net (tereg) dat dit by hulle gedoen word. Net so mag sulke paartjies by my kom kuier, maar hulle drukkies en soenkies ens. nie in my huis nie.

Pieter ·

Gemors van so ‘n hofsaak is dat die MRK met onuitputbare belastinggeld befonds word, terwyl die verweerder (Geloftebos in hierdie saak) met hul eie finansies die saak moet voer, reeds ‘n ongelykheid in die Gelykheidshof. Al wen Geloftebos die saak met kostes, dek dit kostes aangegaan tot so min as 20%. Indien Geloftebos verloor en wil appèlleer gaan dit kostes verhoog. In so ‘n geval wonder ‘n mens indien so ‘n besigheid die moeite werd is, al jou opofferings en winste word vernietig deur die ongelykheid en onregverdigheid. Net aanhoudende ondersteuning van die regte mense bring jou weer staande.

Die Wolf ·

MRK? sal maar nie uitbrei nie. Word dalk aangekla by hulle.

Pandora ·

In 2008 wou my suster graag by ‘n sekere venue trou. Die pragplek is bestuur deur mense van ‘n sekere geloof en in ooreenstemming met hulle geloof was die plek nie beskikbaar vir dans nie, en dit was ‘n danstroue. Hulle het ook net sekere kosse daar aangebied. Die venue is nie verkla nie, geen vinger is na iemand gewys nie. My suster het net hul onthaal by ‘n ander plek gehou.
Dis belangrik, om ongeag wie jy is, nie emosioneel te wees oor besigheid nie. As daar reëls is, is daar reëls. Die mark is groot genoeg om almal te huisves.

JohanR ·

MRK – het julle en Buang Jones al die Eben Etzebeth saak afgehandel? Klomp rassiste!

Danie ·

Ek glo dit is enige eienaar va n besigheid se reg om mense toegang te wyer en ek sou dit ook gedoen het omdat dit teen my beginsel is vir n man om met n man te trou en dieselfde geld vir vroue. Dit is ook my rede hoekom ek glad nie meer lid is van die NG Kerk of enige ander kerk wat so n huwelik bevestig want dit is teenstrydig met God se Woord. Mense moet ophou om God se woord te wil verander en eerder hul self verander na God se woord dan sal hulle nie als wil regverdig wat hulle as mens se harte streel.

Blomme ·

Die woord ‘menseregte’ weeg deesdae swaarder as ‘ die woord van God’. Hartseer dat die mens God so teleurstel.

Botterblommetjie ·

Ek kry die idee dat mense uit “eiegeregtigheid en selfsug” optree. Waarom jouself opdring as jy nie kwadebedoelings het nie. Selfde met ‘n opmerking van die Bybel. Of jy vat die Hele Bybel of jy los dit. Elkeen vry om sy eie geloof te kies. As jy nie saamstem nie, beweeg aan. Iemand jare terug vir my gesê hulle gaan nie kerk toe nie, want watter is nou reg. Toe sê ek, dit soos musiek. Kies vir jou die musiek waarvan jy hou. Kies die kerk, geloof of wat ook al wat jou pas, moet nie jou wil en jou sienswyse opdring aan ander net omdat jy verskil of anders is nie. As jy by my huis instap en jy wil rook en ek sê nee, gaan rook buite, gaan jy my hof toe sleep…. hier so baie kwaadwillige mense… altyd met ‘n agenda. Jy sien soms al as hulle na jou aangestap kom…. hardloop..

fs ·

Ek ontwerp en maak trou rokke en ek is baie jammer maar ek het nog nooit en sal ook nooit aan ‘n gay paartjie klerasie verskaf. Ek glo ek het ‘n God gegewe talent ontvang en indien ek direk in stryd met God se instruksies van 1 man met 1 vrou gaan sal ek my geloof in God verraai en sal my talente weggeneem word. Dit is MY keuse met watter kliente ek wil werk! Ek het al ‘n gay paartjie weggewys (ek was onbewus dat die “bruidegom” ook ‘n vrou was…..Ek het bloot haar geld vir haar terug betaal en aangedui dat ek ongelukkig nie die uitrustings kon maak nie. Geen rede verskaf….. DIT BLY MY KEUSE MET WIE EK BESIGHEID DOEN

Jackie ·

Wêreldwyd word mense wat in Jesus Christus glo op verskeie maniere aangevat oor wat hulle glo en hoe hul geloof uitleef. Indien Gelofde Bos sou instem tot ‘samesex’ huwelike, sou hul binne hulle regte optree deur daarop aan te dring dat die ‘paartjie’ ‘n verklaring op hul uitnodiging aanbring wat dit duidelik stel dat die soort ‘huwelik’ indruis teen Gelofte B se geloofsoortuiging? Kan ‘n onpartydige regskenner dalk sy/haar opinie gee.

Petrus Johannes ·

Dit is hul volle reg om dit te doen Hul luister na God se Woord O ja daar is mense regte gou,maar waar staat weier dat wit kinders kos kry daar is hul stil.Staan op God se Woord die belonning is groot

Tommie ·

Die Bybel het nog nooit verander nie. Ons kan nie die Bybel aanpas bd wereld nie. Dis een vd grootste sondes in God se oe, God is groter as die regering.

Nico ·

Die Woord van God sal nooit verander nie, dit is die mens wat die Bybel verander om hulle te pas.

Japsnoet ·

Hoe belaglik is dit? Hoekom mag die gay paartjie n reg he om wat hul doen op die venue af te dwing? Waar is die reg dan van die venue? Hoekom word hul mense reg van tafel afgevee en dan ook hul reg op hul geloof dit word ook van die tafel af gevee? Wanneer gaan ons as gelowige opstaan teen dit als? Ons hande word orals af gekap want ons word geforseer teen ons eie geloof en beginsels. Ek staan agter die venue en ondersteun hul ten volle. Well done julle het nie toegelaat dat geld jul n blinde oog laat draai teen jul geloof nie mag jul geloof en beginsels seevier.

Leeu ·

Ek self is gay, maar ek respekteer die venue om hulle geloof uit te leef, net soos ek ook gespekteer wil word vir my seksualiteit. Elke mens het die reg om sy voorkeure uit te oefen en sy geloofsoortuigings sowel as seksualiteit en enige ander oortuiging uit te oefen – solank dit net geen ander persoon te na kom nie. Ek kan nie sien dat die venue iemand te na kom as hulle die troues van selfdegeslaglewensmaats weier nie – gaan dan na die volgende venue…

Tienie ·

Wat reg is volgens die Woord van God…
…is vandag verkeerd vir die Wêreld…..

Wat vandag reg is vir die Wêreld…..
……sal altyd teenstrydig wees met die Woord van God.

My Skepper in n onveranderlike God.

Filistyn ·

Pragtig Beloftebos. Ek respekteer julle standvastigheid. – moet julle ook nie laat intimideer nie.

Pieter J ·

Hierdie MRK se optrede is dieselfde as die van Lesufi. Hulle is gedurig op die uitkyk om te sien wat daar rondom hulle is wat hulle hulle kan vernietig. As ń mens egter kyk wie almal deel van die MRK is en na hul agtergrond of geskiedenis kyk dan maak alles vir jou sin.

Peet ·

Die sogenaamde Menseregtekommissie, narre en rassiste. Wat ‘n kommissie!!!!

rotsvygie ·

Daar is ‘n woord vir mense (in hierdie geval die gay paartjie / die MRK) wat hulle siening op iemand anders wil afdwing: boelies! Hoekom iemand ten alle koste dwing om jou siening te aanvaar, as daar soveel ander plekke is wat jou kan en wil akkomodeer.

Warrior ·

As Bruid v Christus is dit ons plig en reg om op tree met wat d Woord v Jesus sê. As ek gedwing word om te kies, maak ek dan eerder my venue toe. Jesus sal, omdat hul gehoorsaam is, vir hul n ander uitkoms gee. HY is getrou en seën ons as ons doen wat reg is in Sy oë. Staan vas, kom ons kyk wat gebeur. Ons het n awesome en getroue Heer!! Jesus is d oorwinnaar. Ons as Christene moet opstaan en doen wat d Here eer. Ek is vol vertroue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.