Stryd teen inenting van kinders woed voort

Die organisasie sê selfs die kleinste kindertjies is vreesbevange om enigiets sonder ʼn masker te doen en dat hulle toenemend van hul gesinne, maats en die samelewing vervreem word. (Argieffoto: Unsplash)

Die organisasie Free the Children Save the Nation, wat appèl aangeteken het teen Covid-19-entstofproewe op kinders tussen ses maande en 18 jaar oud, sê hy voer ʼn opdraande stryd met die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) om sy saak aangehoor te kry.

John Taylor, stigter van die organisasie, sê benewens ʼn hofsaak wat saam met onder meer die ACDP teen die inenting van kinders gevoer word, het Save the Children ook by Sahpra geappelleer teen die besluit om die inenting van kinders toe te laat.

Ingevolge voorgeskrewe wetgewing oor die proses het die organisasie op 26 Oktober aanvanklik met die hoof van Sahpra vergader, maar geen ooreenkoms kon bereik word nie. Save the Children het die volgende dag reeds die uitvoerende hoof van Sahpra daaroor ingelig, maar Sahpra se hoof het eers 20 dae later dieselfde gedoen, “ondanks die dringendheid en moontlike mediese kwessies wat kan spruit uit die inenting van dié kwesbare groep”.

Free the Children het daarna gevra dat ʼn ministeriële appèlkomitee op die been gebring word om die saak te besleg. Die organisasie het ook gevra dat hy kwytgeskeld word van die R51 000 wat hy boonop moet opdok vir só ʼn komitee om sy appèl aan te hoor.

Taylor sê groot farmaseutiese maatskappye teken gewoonlik dié soort appèl aan en is in veel beter finansiële posisie – as ʼn welsynsorganisasie wat na die regte van kinders omsien – om die bedrag te betaal.

Volgens hom sleep die owerheid moontlik voete met die proses in die hoop dat al hoe meer kinders ingeënt sal word wanneer die appèl uiteindelik aangehoor word.

Taylor sê die aansoek hou hoofsaaklik verband met die beskerming van kinders se regte ingevolge die Grondwet en die Handves van Menseregte. Hy het die organisasie verlede jaar op die been gebring toe hy besef het die land “stuur af op ʼn ramp en dat kinders die slagoffers van veel groter wandade gaan word”.

Hy sê selfs die kleinste kindertjies is vreesbevange om enigiets sonder ʼn masker te doen en dat hulle toenemend van hul gesinne, maats en die samelewing vervreem word.

Die hofproses oor die inenting van kinders duur intussen voort. Alle uitstaande verklarings behoort vandeesweek nog by die hof ingedien te word. Daar is ook twee aansoeke van organisasies om as vriende van die hof toegelaat te word wat na verwagting teen Maandag ingedien sal word.

Taylor sê die adjunk-regter-president het die betrokke partye reeds ingelig dat hy die saak as van groot belang beskou en dat ʼn volbank regters dit sal aanhoor.

Geen hofdatum is egter nog vasgestel nie, maar die saak sal hopelik teen die middel van volgende maand aangehoor kan word.

Free the Children Save the Nation voer in die hofsaak onder meer aan dat “die mediese wetenskap saamstem dat kinders wesenlik geen risiko vir ernstige siekte of sterfte het wanneer hulle SARS-COV-2 opdoen nie en dat daar geen behoefte is om kinders teen SARS-COV-2 vir hul eie beskerming of veiligheid in te ent nie”.

Die organisasie beweer voorts die inenting van kinders ingevolge noodgebruiktoestemming, of die uitvoer van proewe op kinders om die doeltreffendheid van entstof teen die koronavirus te toets, “kan nooit in die beste belang van kinders wees nie”.

Free the Children en die ACDP meen daar is geen wetenskaplike, billike of rasionele rede waarom kinders tans teen die virus ingeënt moet word nie en tot die appèl aangehoor word, moet kinders ingevolge hul grondwetlike en menseregte beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andrew ·

Gaan na webtuiste en kyk hoe om te skenk aan die Free the Children . Ongelukkig kos howe baie geld , en vat die sake onsaglik baie tyd en kennis.

Francois Le Cochon ·

piet, juis. Verlede jaar het n 2-jarige in my familie 8 van ons familie lede aangesteek. Die oorsprong was die creche. Altesame 34 mense was aangesteek deur daardie creche kinders.

Pierre ·

My kind en my kind se keuse, my kind het die inenting geneem uit eie keuse en ek is baie trots op my kind.
Dit is almal se keuse, as jou kind voel dus nie nodig nie dan so, maar niemand kan namens hulle besluit nie ek staan by die standpunt,

Johnny ·

Jou minderjarige kind is oud genoeg en het genoeg onafhanklike feite en insig om daardie besluit te kan neem? Of het hy/sy bloot op jou weergawe van dinge staatgemaak om sy/haar besluit te neem?

Dirk Mostert ·

Hou almal agter die entveldtog aanspreeklik. Hopelik sal die Nurnberg-verhore nog in my leeftyd plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.