Stryd tussen Gordhan en OB raak vuil

Pravin Gordhan. Foto: Thobile Mathonsi/ANA

Die stryd tussen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, ontwikkel in ʼn vuil oorlog wat minstens een, en miskien albei van hulle, hul pos gaan kos.

Mkhwebane het nou al vanjaar oor twee afsonderlike kwessies bevind dat Gordhan die wet verbreek het. Haar mees onlangse bevinding is dat Gordhan skuldig is aan onwettige optrede deur die handelinge van ʼn intelligensie-eenheid (die beweerde sogenaamde rampokker-eenheid of rogue unit) by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens tydens sy ampstermyn.

Sy het reeds in Mei bevind Gordhan het die wet oortree deur die toestaan van vroeë- aftrede-voordele aan sy jare lange hegte politieke vennoot, Ivan Pillay, as adjunkkommissaris van die Inkomstediens toe Gordhan minister van finansies was.

Pillay is direk daarna op Gordhan se aanbevelings vir ses jaar op kontrak aangestel teen dieselfde salaris as voor sy aftrede. Gordhan laat hersien daardie bevinding ook.

Gordhan is ʼn sleutelvennoot van pres. Cyril Ramaphosa in die stryd om die siel van die ANC wat Ramaphosa voer teen ondersteuners en kornuite van oudpres. Jacob Zuma in die era van staatskaping.

Mkhwebane se tydsberekening met haar eerste bevinding teen Gordhan – die een oor Pillay – het die wenkbroue behoorlik laat lig. Sy het dit aangekondig net twee dae voor die geskeduleerde aankondiging van Ramaphosa se nuwe kabinet ná vanjaar se verkiesing.

Die kabinetsaankondiging is uitgestel en het eers plaasgevind nadat Gordhan begin het om die bevindings teen hom na die hooggeregshof in hersiening te neem, met die doel om dit tersyde te laat stel.

Dit beteken dat die bevindings teen hom opgeskort is hangende die bevinding van die hooggeregshof.

In die hofstukke vir die jongste hersieningsaansoek gebruik Gordhan sulke sterk taal teen Mkhwebane dat dit duidelik is hy meen sy is onbevoeg. Hy noem haar oneerlik en roekeloos, en voer aan dat sy haar grondwetlike plig versaak het om sake sonder vooroordeel te hanteer. By die vroeëre hersieningsaansoek oor die Pillay-aangeleentheid het hy haar reguit van politieke motiewe beskuldig.

Die aard van die wedersydse beskuldigings tussen Gordhan en Mkhwebane is so ernstig dat wie ook al in die hof verloor, waarskynlik hul pos kwyt gaan wees. As die hof vir Mkhwebane gelyk gee, sal Gordhan se voortgesette lidmaatskap van die kabinet weens die erns van haar bevindings onhoudbaar wees.

Indien die hof saamstem met Gordhan dat Mkhwebane oneerlik, roekeloos, bevooroordeeld of polities gemotiveerd is, sal ʼn uiters sterk saak uitgemaak kan word dat sy aan wangedrag skuldig en boonop onbevoeg is, en dus deur die parlement van haar amp onthef kan word – veral gegewe die bevindings wat reeds deur die howe teen haar gemaak is betreffende spesifiek drie daarvan, naamlik oor die mandaat van die Reserwebank, die Gupta-gekoppelde suiwelprojek by Vrede in die Oos-Vrystaat en die Absa/Bankorp-saak.

Indien die hof in een saak vir Mkhwebane bevind en in die ander vir Gordhan, kan albei hul magsposte kwyt wees.

In die wandelgange van die parlement word beweer daar is groeiende aptyt by veral Ramaphosa-ondersteuners in die ANC om Mkhwebane van haar amp te onthef. Die DA het reeds ʼn proses begin om dit te doen op grond van onbevoegdheid.

So ʼn verwydering word gereël deur die bepalings van art. 194 van die Grondwet, wat lui dat die OB voor die einde van haar ampstermyn van sewe jaar uit haar pos verwyder word weens wangedrag, erge siekte of onbevoegdheid, mits tweederdes van die lede van die Nasionale Vergadering daarvoor stem.

Mkhwebane se drie belangrike vorige foutiewe bevindings (soos hierbo gelys), haar bevindings teen Gordhan én dat pres. Cyril Ramaphosa skuldig is daaraan dat hy die parlement mislei het, asook haar aandrang dat hy skenkers vir sy suksesvolle veldtog om in 2017 ANC-leier te word, se name en die betrokke bedrae bekend moet maak, het haar baie vyande in die ANC besorg, veral aan die Ramaphosa-kant.

Haar bevindings teen Ramaphosa word ook tans hersien, en die hofbevinding daaroor kan ewe ernstige gevolge inhou vir haar of Ramaphosa se loopbaan, na gelang van in wie se guns die hof beslis.

Busisiwe Mkhwebane. Foto:
Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

By al meer ANC-parlementslede is ʼn gevoel aan’t ontstaan dat Mkhwebane haar amp misbruik as politieke wapen, en dat sy polities kant kies teen Ramaphosa en sy ondersteuners. Die ontevredenes in die ANC stem saam met die DA dat so ʼn situasie nie nog vier jaar lank (dis hoeveel van haar ampstyd oor is) kan aangaan nie.

Indien ʼn mosie voor die Nasionale Vergadering sou dien dat Mkhwebane as OB onthef word en die ANC steun dit, is die kanse baie goed dat die mosie die vereiste steun van tweederdes (267 LP’s uit 400) sal kry, veral omdat die OB deur ʼn ope stemming aangewys en dus deur ʼn ope stemming onthef kan word.

Die DA se 84 lede, die IVP se 13, die VF Plus se tien, die ACDP se vier, die UDM se twee, die NFP se twee, Good se twee en Cope se twee sal dan sekerlik by die ANC se teenwoordige LP’s getel kan word (as al die ANC’s daar is, is hulle 230, maar teenstanders van Ramaphosa sal waarskynlik ʼn rede vind om afwesig te wees).

Die enigste party wat in hierdie stryd beslis aan Mkhwebane se kant is, is die EFF met 44 lede. ʼn Paar van die klein partye, te wete die AIC met twee lede, die ATM met twee lede, die PAC met een lid en Al-Jamaah met een lid, se standpunt oor Mkhwebane is onbekend.

Al hierdie intrige beteken dat Suid-Afrika straks binnekort met ʼn ligte grondwetlike hoofpyn kan sit. Soos Mkhwebane reeds uitgewys het, skryf die Grondwet in art. 181 voor dat parlementslede, staatsorgane en ampsdraers die OB moet help en verdedig. Sy meen Gordhan se sterk bewoorde bewerings teen haar is dus ongrondwetlik.

Die vraag, indien sy hom dienooreenkomstig sou aankla, is waar die grens lê, want hoewel die instelling van die OB so ondersteunend en beskermend hanteer moet word, het die persoon wat die amp beklee nie carte blanche om te doen wat hy of sy wil nie.

Waar daardie grens lê, is maar een van die sleutelpunte in hierdie stryd, met bepalende implikasies vir die toekoms van nie net die magshebbers daarby betrokke nie, maar ook dié van die Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

11 Kommentare

Pieter ·

Zupta se sussie hulle doen niks verkeerd nie net soos die anc regering

Arno Scheepers ·

Maroela julle het nou nog nie verduidelik wat “vroue-aftrede” is nie

Gert van Wierdapark ·

Dis pateties dat die OB nie summier in die pad gesteek kan word weens onbevoegdheid nie!! Betrek die mini-Ster van Vervoer ook in die saak, sodat hy kan seker maak dis veilig om dit te doen. Padreels nommer een is mos, kyk links, kyk regs, en gaan oor tot aksie!

nabetragting ·

Dis presies wat gaan gebeur. Ek hoop net nie daar is iewers ‘n derde rot wat met die oorskied gaan wegkom nie

Cherokee ·

Ek glo nie die OB se bevinding dat Gordhan aan Pillay vroue-aftrede-voordele toegestaan het nie. Dit behoort baie maklik as verkeerd bewys te word.

Hennie ·

Die vroue-aftrede-voordele in die derde paragraaf moet seker lees vroeë-aftrede-voordele.

Nico Strydom ·

Dagsê Hennie
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Hans ·

Hoe lank gaan die die madam nog aangaan. Almal weet wie haar aanpor… natuurlik zumpie en ys!¡!

Julie Jansen van Rensburg ·

Maar is sy nie alreeds 2-3keer deur die hooggeregshof (of watter hof ookal) oor verkeerde beslissings oor die vingers getik nie? Feit is dat hierdie sogenaamde “Rogue”-eenheid glo wél “wettig” was – persoonlik is ek daarvanoortuig dat daardie “madam” is om een of ander duistere rede besig met haar eie agenda… sy moet Gordhan liewer uitlos en haar volle aandag op Magashula begin vestig…veral insoverre die Estina debakel betref…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.