Stryd tussen Lichtenburg-leeuboer en NDBV woed voort

Van die leeus op die plaas naby Lichtenburg.

ʼn Boer van Lichtenburg in Noordwes hou vol hy sien uitstekend om na sy diere, ten spyte van herhaalde bewerings van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) dat hulle in swak toestande aangehou word.

Inspekteurs van die NDBV het vandeesweek nóg klagte teen die boer van Lichtenburg aanhangig gemaak, nadat leeuwelpies wat na bewering in ʼn uiters swak toestand is, wéér op die plaas in Noordwes gevind is.

Douglas Wolhuter, bestuurder van die NDBV se wildbeskermingseenheid, het gesê die eenheid het dieselfde plaas in April vanjaar besoek en leeus in haglike omstandighede aangetref. Volgens die NDBV was die hokke waarin die diere aangehou is te klein, daar was onvoldoende skuiling, geen water nie, die kampe was oorbevolk en vuil en parasitiese toestande het geheers in kampe met leeus, tiere, luiperds en rooikatte.

Inspekteurs het ook twee welpies verwyder wat nie kon loop nie en tekens van ʼn neurologiese toestand gewys het, het Wolhuter gesê. Die welpies is verwyder en in die sorg van ʼn veearts geplaas. Die DBV het gevolglik op 2 Mei strafregtelike klagte by die Lichtenburg-polisie aanhangig gemaak.

“Die optrede van die polisie op Lichtenburg was tot dusver droewig. Gister het hulle gesê hulle is nog besig om verklarings af te neem,” het Wolhuter gesê.

“Die polisie se reaksie is geweldig stadig en dit is uiters frustrerend. Hulle móét hierdie sake ernstig opneem.”

Na vandeesweek se opvolgbesoek het die NDBV nóg klagte aanhangig gemaak, het Wolhuter gesê.

“Inspekteurs het ʼn lasbrief bekom en minimale verbetering in die toestande op die plaas bespeur. Die oorskot van ʼn leeuwelpie is in ʼn koelkamer gekry en nog twee welpies is versteek in ʼn krat in ʼn pakhuis gevind. Die diere het soortgelyke simptome getoon as die welpies wat in April verwyder is,” het Wolhuter gesê.

Die welpies is van kant gemaak en nadoodse ondersoeke sal gedoen word.

Die NBV het gesê hy het ook nagenoeg 20 karkasse van leeus en tiere van verskillende ouderdomme in ʼn kisvrieskas gekry. Nadoodse ondersoeke sal op vyf van die karkasse gedoen word, het Wolhuter gesê.

Andreas Peens, die boer se regsverteenwoordiger, het Vrydag aan Maroela Media gesê dié diere is by geboorte of kort daarna dood. Sommige van hulle word as trofees vir private gebruik opgestop.

Peens het gesê ná die NDBV se aanvanklike waarskuwing, is verskeie verbeteringe op die plaas aangebring. “My kliënt kan met ʼn oop gemoed sê hy sien uitstekend om na sy diere.”

Peens het gesê die boer het ook die nodige permitte om die roofdiere aan te hou en dat van die diere intussen na ander fasiliteite verskuif is.

Hy het gesê ʼn veearts, dr. Fritz Ras, is nou betrokke by die behandeling van diere op die plaas en probeer die afgelope ruk vasstel wat die oorsaak van die siekte by die welpies is. Dit kan glo enigiets van ʼn genetiese afwyking tot ʼn virus wees.

Volgens hom was die welpies wat die NDBV tydens sy vorige besoek weggeneem het, óók onder Ras se sorg, maar is hulle verwyder voordat ʼn diagnose gemaak is. “Hy probeer vasstel wat die welpies siek maak, sodat ons dit kan voorkom,” het Peens gesê.

Die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging, waarvan die boer ʼn lid is, het na die aanvanklike bewerings ʼn ondersoek na die boer se bedrywighede gelas.

“Die ondersoek is afgehandel en my kliënt is onskuldig bevind,” het Peens gesê.

Die NDBV sê egter die welpies se toestand wys dat daar groot tekortkominge in die kennis oor en versorging van leeus in aanhouding is.

“Met die vrystelling van die rolprent The Lion King en die hulde wat vandeesmaand op Internasionale Leeu‑dag gebring gaan word, vereer die res van die wêreld hierdie majestueuse diere.

“Hier in Suid-Afrika, waar leeus inheems is en ʼn enorme deel van ons erfenis uitmaak, verdoem ons duisende leeus tot ʼn lewe in gevangenisskap waar daar nie aan hulle basiese behoeftes voldoen word nie.

“Ons onderwerp dié diere wat bekend staan as die koning van die diereryk, aan ʼn patetiese lewe in ʼn hok waar hulle vir die dood wag,” het Wolhuter gesê.

Hy het gesê die twee welpies wat in April verwyder is, toon intussen uitstekende vordering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marie ·

Daar is n sekere tipe mens wat glad nie diere mag hê nie, en ek vrees die persoon Steinman is een van hulle. As jy nie n talent het om met diere te werk nie is dit miskien beter vir jou om met mielies te boer, want vir seker is die diere in jou sorg nie gelukkig nie.

Kobie Welgemoed ·

Dit is ‘n skande dat die DBV so moet sukkel om hierdie dieremishandeling te stop. Hulle moet ‘n subsidie van die staat kry sodat hulle, hulle werk kan doen Dit is ons belasting geld in elk geval. Hierdie tipe mens moet verbied word om enige diere aan te hou. Dit is die skuim van ons samelewing.

Francois le Cochon ·

Dit is wildbewaring! Hou 20 Budgies aan in ‘n koutjie, en gee hulle een keer ‘n week kos, dan bewaar jy budgies.

Ras & Peens ·

Sies julle twee behoort in ‘n paar honger leeus se kamp gegooi te word.
Dankie DBV en ek bid dat julle harde werk nie tevergeefs sal wees nie. Ek bid ook vir daai arme diere.

Cora Simpson ·

Oe dis so hartseer. Wilde diere MOET vry kan rondloop. Dis een rede dat ek Sirkus haat

Suzette Geringer ·

Hierdie ou hoort in die tronk…. Baie waarheid aan die volgende woorde: kyk hoe iemand diere behandel en jy sien presies wie hierdie persoon in sy wese is.

Edd ·

Die DBV gaan hulle allies behoorlik met die een sien. Dit sal interesant wees om te sien hoe ver hulle hierdie lieg storie gaan vat voor hulle die storie gaan toe smeer. As jy wil weet hoe dit op daai leeu plaas lyk gaan kyk self. Die dbv kry nie aandag as hulle die staat hof toe sleep nie want mense verwag dit van die staat, maar nou kan hul sensasie veroorsaak.

madels ·

Nou Edd, weet jy iets van wat op die plaas aangaan? Indien wel, sal jy ons ook inlig, fotos publiseer ens ens sodat die “leuens” sal uitkom. Dankie

Wonder maar ·

Ek blameer SAPA. Ipv optree teen hulle lede beskerm hulle, hul maatjies. Die huidige bestuur van SAPA moet ontbind en n behoorlike raad aangestel word. Hulle bestuur SAPA as n mafia. SAPA het geen tande nie. Sies ek skaam my gedaan vir wat in die leeubedryf aangaan.

Christa ·

As jy nie vir n Dier lief is nie, hoort jy nie diere te he nie. Daar is verskil tussen “Hou van ” of lief vir diere. Die “Hou van” mense hoort ook glad nie diere te he nie. Dis hulle diere wat in strate tesien is, koud slaap, verwaarloos word.

Quentin Viljoen ·

As die ondersoek en uitslag van Lichtenburg-polisie afhang, gaan ons nog LANK wag en ons sal in elk geval nie van die ware stand van sake te wete kom nie, weens die kwaliteit van hulle ondersoek . Hulle vermoens en bereidwilligheid spreek boekdele.

Gustav Venter ·

Ek was in Mei op Jan Steinman se plaas. Die leeukampe is ruim, daar is oorgenoeg water en die diere is goed versorg. Jy sal nie sommer wilde leeus kry wat beter lyk nie. Die diere is ontspanne en besig met leeudinge: Rondlê, speel en eet. ‘n Vrylopende leeu in die wildernis kan maar net droom van so ‘n leefstyl. Ons as mense projekteer ons ideale op diere af en as alles nie by ons droomwêreldbeelde inpas nie, is ons verontwaardig.
‘n Leeu in die wildtuin is vry ja: Vry om te moet veg, elke dag, vir oorlewing. Vry om óf ‘n gewelddood te sterf of weens siekte of weens verswakking. Daar is minder as 3,000 vrylopende leeus in Suid-Afrika oor, die oorgrote meerderheid in die Kruger Nasionale Park. Dis ‘n bevolking wat kwesbaar is vir epidemie en wildstropery. Maar solank daar leeus op plase in kampe is, is die spesie se toekoms verseker.

Wonder maar ·

Ek hoor wat jy se. En daar sal seker boere in julle bedryf wees wat dinge reg doen. Maar sapa is n vrotkol wat moet weg. Of ten minste die huidige bestuur moet bedank. Hierdie situasie kon heeltemal anders verloop het as sapa ordentlike bestuur gehad het en nie mense wat hul eie belange bevorder nie.

Gaitsigubib ·

Dankie Gustav vir jou insette. Jy moet ook byse dat die Kruger Leeus is vol TB, katvigs, wurms en wat nog alles. Dit is moontlik dat hul populasie dieselfde pad kan loop as die Kruger Sables. Die greeny’s sal nog die SA jagter en wildboer omverskoning moet vra vir hom kortsigtige, onkundige en domastrante benadering t.o.v bewaring.

REE LIEBENBERG ·

Ek dink dit is soos met enige ander situasie as hulle nie sorg soos hulle moet vd diere nie moet hulle eenvoudig nie permitte kry nie end van storie. Ons is dit verskuildig aan die diere want ons mensdom is die oorsaak dat hulle in hokke geplaas word sonder n keuse om vry te mag wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.