Stryd woed oor onafhanklike kandidate

Spesiale stemme word die naweek uitgebring, terwyl miljoene ander kiesers Maandag by die stembusse verwag word. (Foto: OVK)

Suid-Afrikaners trek Maandag hul kruisies in die plaaslike regeringsverkiesing en ʼn fel stryd woed onder meer oor of ʼn stem vir ʼn onafhanklike kandidaat gaan hond haaraf maak.

In die 2016-verkiesing het 855 onafhanklike kandidate deelgeneem het, sê Sy Mambolo, hoofkiesbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). Vanjaar het hierdie syfer bykans verdubbel en dit staan nou op 1 546 onafhanklike kandidate.

Mmusi Maimane, leier van die One South Africa-beweging (OSA), sê Suid-Afrika het nie nóg politieke partye nodig nie en Suid-Afrikaners moet oorweeg om in Maandag se verkiesing vir ʼn onafhanklike kandidaat te stem.

OSA steun verskeie onafhanklike kandidate wat deur hul gemeenskappe benoem is en het onder meer gehelp met ondersteuning, opleiding, toerusting en stemwerwing vir dié kandidate.

Hy sê wanneer groot partye betrokke raak, word spesifieke mense in spesifieke poste ontplooi. “Wat aljimmers gebeur, is dat nie net die raad verdeel is nie, die burokrasie word ook verdeel. Dan beland jy in ʼn situasie waar talle mense sê ‘ek gaan net aan dié mense dienste lewer en nie aan dáárdie nie’ en dit word ʼn probleem.”

Maimane sê onafhanklike kandidate is nie deel van ʼn faksie nie, maar deel van ʼn gemeenskap.

“Jy kan nie sê die mag moet aan die mense gegee word en dan, wanneer jy ʼn probleem het, sê jy mense moet met ʼn politieke party gaan praat nie,” sê hy.

Miljoene mense word Maandag by stempunte verwag, hoewel die opkoms moontlik laer as tevore kan wees. (Foto: OVK)

Jan de Villiers, ʼn DA-LP, stem nie saam nie en sê ʼn mens moet “mooi dink voor jy jou stem op ʼn onafhanklike kandidaat mors”.

Kandidate kan slegs op ʼn wykstembrief, waar kiesers stem vir wie hulle wyk moet verteenwoordig, vir ʼn onafhanklike kandidaat stem, maar nie op ʼn proporsionele stembrief vir ʼn dorp of distrik nie. ʼn Onafhanklike kandidaat staan as ʼn persoon en kan dus net een sitplek op die plaaslike munisipaliteit se raad beklee.

“Die werklikheid is dat ʼn onafhanklike kandidaat ʼn belastingbetaler-geborgde salaris verdien om op te daag vir raadsvergaderings waar hulle geen invloed kan uitoefen nie,” sê De Villiers.

Hy meen dit is hoegenaamd nie waar dat ʼn onafhanklike kandidaat ʼn gemeenskap se belange beter gaan verteenwoordig as ʼn politieke party nie. “ʼn Onafhanklike kandidaat kan net een sitplek op ʼn raad wen. In enige raad waar daar nie ʼn koalisie of volstrekte meerderheid is nie, beteken dit letterlik die onafhanklike kandidaat se stem beteken niks nie.

“Raadsbesluite word deur die regerende party gekoukus en besluit, lank voor dit in die raad dien. ʼn Onafhanklike kandidaat het geen manier om die regerende party se raadsbesluite te beïnvloed nie,” sê De Villiers.

Die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria. (Foto: OVK)

Dawie Scholtz, ʼn onafhanklike verkiesingsontleder, sê stemme kan nie gemors word nie. Hy verduidelik egter dat stemme vir onafhanklike kandidate wat uiteindelik glad nie ʼn setel in die verkiesing wen nie, buite rekening gelaat word wanneer daar ingevolge die proporsionele verteenwoordigingstelsel bepaal word hoeveel setels aan ʼn party toegeken word.

Scholtz sê mense moet stem vir wie hulle wil en omdat daar vanjaar moontlik ʼn kleiner stemopkoms gaan wees, is dit juis belangrik dat mense hul stemme uitbring – ongeag vir wie dit is.

Die Republican Conference of Tshwane is ʼn nuweling op die politieke toneel. Sy grondwet bepaal dat elke wyk sy eie kandidaat moet verkies en in daardie opsig word kandidate as onafhanklik beskou. Die kandidate betwis die verkiesing saam onder die sambreel van die Republican Conference.

Leo Middelberg is een van dié kandidate.

Hy sê dit is belangrik dat die persoon wat jou verteenwoordig, jou belange op die hart dra. “Ek moet verantwoording doen aan die kiesers van die wyk en as hulle met ʼn meerderheid besluit ek doen nie my werk nie, moet ek waai. Dit is die mooi van die stelsel.”

Hy sê die proporsionele stelsel verseker boonop dat elke stem tel.

“As jy vir ʼn ander party stem as waarvoor jy werklik staan, abdikeer jy mos dit waarin jy glo. Dit is totale snert om te sê dat ʼn stem vir ʼn kleiner party of onafhanklike kandidaat ʼn mors is. Dit is nie waar nie.”

Middelberg sê kiesers moet verseker hulle kry ʼn stem op die raad oor kwessies wat munisipaliteite raak, soos krag, water, rioolsuiwering, en dat dié stem tel selfs al word koalisies gevorm.

Hy meen sommige partye gebruik “angstaktiek” om mense te oorreed om te stem vir iets waarvoor hulle nie staan nie. “Dit is jammer dat politieke partye sulke taktieke gebruik. Die partye moet eerder sê presies waarvoor hulle staan en dan kan mense kies of hulle daarvoor wil stem.”

Sommige onafhanklike kandidate benadruk ook die feit dat hulle nie verbonde is aan ʼn politieke party se mandaat nie, maar dié van die gemeenskap. Hierop sê De Villiers dit is waar, maar kiesers moet hulself afvra wat dit presies beteken.

“As jy vir ʼn politieke party soos die DA stem, stem jy vir die waardes en beleid van die DA. Jy kan dit gaan opsoek op ons DA-webwerf en naslaan in ons verkiesingmanifes.

“Wie hou ʼn onafhanklike kandidaat verantwoordelik om sy besluitneming in die raad te neem volgens die waardes of beloftes wat hulle verkondig het voor die verkiesing? Niemand doen dit nie, want ʼn onafhanklike kandidaat wat op ʼn raad dien kan vir vyf jaar doen en sê wat hy wil, sonder enige reperkussies.

“Hulle is verantwoordelik aan geen mens en aan geen waardes nie.”

Maimane sê egter OSA het ʼn vereniging vir onafhanklike kandidate op die been gebring wat deur kandidate self bestuur word. “As daar dan ʼn probleem is en jy die gemeenskap se vertroue verloor, moet hulle jou [van die raad] kan laat verwyder.”

Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê die talle kleiner partye en onafhanklike kandidate wat aan vanjaar se verkiesing deelneem, wys dat mense op voetsoolvlak afstand wil doen van groter partye. Hulle eis dienste en hoop dat verandering dalk uit ʼn ander oord gaan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Martie Smartie ·

Die proporsionele stelsel is dus eintlik ‘n verneukery, want wanneer dit by setels kom, word net party-stemme getel en nie onafhanklikes sn nie.

Willem ·

“Raadsbesluite word deur die regerende party gekoukus en besluit, lank voor dit in die raad dien” MAW alle besluite is vooraf geneem en maak nie saak hoeveel mense vir of teen ‘n besluit stem tydens ‘n raadsvergadering nie, die besluit is reeds geneem en die uitkoms vooraf bepaal. Die raadsvergadering en bespreking van die onderwerp is net vir “show”.

Harley Davidson ·

So as jy nie DA stem nie dan mors jy ‘n stem,grootste bog wat ek gehoor het as ‘n DA LP so lieg voor verkiesing hoe moet ek hom vertrou om na my belange om te sien?

Yvonne ·

Moenie alles glo wat in die media beland nie….modder gooiery is aan die orde van die dag

annie ·

Die ANC is ‘n ongesonde oorgewig draak wat sy poot oor alle besluite en die staatskas hou. Dit moet gestop word. Die eintlike probleem lê by skelmstreke om hierdie vet pens te behou want so bly al die fat cats in hul poste en hul spense vol. Gaan dit ooit gestop word?

Waarnemer ·

Ongelukkig dink n onafhanlike kandidaat presies soos n politieke party kandidaat…now you see me and after the election for 5 years you dont see me.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.