Strydende Kaapse regters kry kans om hul saak te stel

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die huismoles in die Kaapse hooggeregshof tussen die regterpresident van Wes-Kaapland, regter John Hlophe, en adjunk-regterpresident Patricia Goliath gaan spoedig deur die regterlike dienskommissie (RDK) getakel word, met beide senior regters wat die kans sal hê om hul saak voor die kommissie te stel.

Die hooggeregshof is in chaos gedompel nadat Goliath verlede maand ‘n verdoemende klagte van veertien bladsye teen Hlophe ingedien het, waarin sy onder meer beweer dat hy ‘n mede-regter aangerand het en dat hy toegelaat het dat sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, wederregtelik besluit wie as waarnemende regters in die afdeling kan dien.

Nadat oudregter Johann Kriegler, voorsitter van die burgerlike organisasie Freedom Under Law, verlede week skerp kritiek gelewer het op die lakse gebrek aan optrede oor die kwessie deur hoofregter Mogoeng Mogoeng as voorsitter van die RDK, het optrede nou skielik gevolg.

Hoewel die twis tussen Goliath en Salie-Hlophe nog nie deur die RDK oorweeg word nie, is daar aksie wat die stryd tussen Goliath en regterpresident Hlophe betref.

Goliath en Hlophe sal elk die kans hê om teen eerskomende Maandag, 17 Februarie, hul saak skriftelik aan die RDK se komitee oor regterlike gedrag te stel. Die komitee sal die kwessie volgende Vrydag, 21 Februarie om 16:00 die middag tydens ‘n sitting by die konstitusionele hof in Johannesburg bespreek, en sowel Goliath as Hlophe kan ‘n versoek rig om die komitee toe te spreek.

Die komitee sal dan ‘n aanbeveling aan die RDK doen oor watter optrede gepas sal wees in die stryd tussen die Wes-Kaap se twee mees senior regters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

henndrik ·

Die regbank is nie so onafhanklik soos hulle graag wil beweer nie

antieke antie ·

ek glo nie eers hier gaan reg geskied nie…..die een regte is die hoogste en het al baie klagte gehad teen hom wat niks van gekom nie… en sy vrou lyk of sy die septer swaar….. is die 2 saam nie nepotisme nie? …… en saam sal hulle die ander regters ‘ondermyn en oorheers’…. ons wag maar om te sien of die grootbase hulle in die bek kan ruk…

Jakes ·

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het so wyle gelede skerp kritiek gelewer oor mense wat die regbank onder verdenking plaas. Daar is n saak teen regter Hlope wat na meer as n dekade nog nie aangespreek is nie. Oudregter Kriegler het die hele huidige debakel skerp veroordeel en is dit nou tyd dat die hoofregter sy staal wys en optree sodat die regbank in ere herstel kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.