Strydom nie enigste slagoffer van ongeluk

Hannes Strydom (Foto: SARU)

Nóg ʼn persoon is dood en vier ander ernstig beseer in die ongeluk wat Sondag die lewe van oud-Springbok Hannes Strydom (58) in Mpumalanga geëis het.

Solange Soares, woordvoerder van die N4-tolkonsessie, het Maandag by navraag gesê die noodlottige ongeluk het op die N4 tussen Kromdraai en Balmoral plaasgevind.

Luidens die aanvanklike inligting wat die N4-tolkonsessie ná die ongeluk ontvang het, het ʼn ligte voertuig ʼn minibustaxi van agter getref en die bestuurder van die minibustaxi het beheer oor die voertuig verloor.

Die identiteit van die ander slagoffers was teen Maandagmiddag nog nie bekend nie.

Medelye stroom intussen in nadat dit vanoggend bekend geword het dat Strydom in die ongeluk omgekom het.

“Hannes was een van die beste slotte van sy generasie en as lid van die Springbok-groep van 1995 een van die helde van ons plaaslike spel,” het Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Maandag in reaksie op die nuus gesê.

Strydom het op sy dag Suid-Afrika van 1993 tot 1997 in 21 toetse verteenwoordig.

Hy was ook lid van die Leeus toe hulle die Super 10, Curriebeker en Vodacombeker in die 1990’s gewen het, en het provinsiaal vir die Oostelike Provinsie en die Bulle uitgedraf.

“Hy het meer as 100 wedstryde vir die Leeus gespeel in ʼn tyd toe hulle rugby in Suid-Afrika oorheers en die Super 10 gewen het voordat dit Superrugby geword het, wat die kwaliteit van daardie span onderstreep het,” sê Alexander.

Hannes Strydom destyds. (Foto: Twitter)

“Hannes het saam met ander spelers van daardie Leeus-span, soos Francois Pienaar, Balie Swart, Kobus Wiese en Hennie le Roux, die kern gevorm van die bekende Bok-groep wat die Webb Ellisbeker in 1995 in Suid-Afrika omhoog gehou het.

“Hy was ʼn hardwerkende slot wat nooit weggeskram het om vas te sit en die vuil werk te doen nie. Om nog ʼn lid van die ikoniese Bok-span van 1995 te verloor, is ʼn swaar slag vir die rugbybroederskap hier in Suid-Afrika en ons gedagtes en meegevoel is met sy vrou, Nikolie, hul kinders, Annalie, Hannes en Lucy, en familie en vriende in hierdie baie moeilike tyd.”

Strydom, ʼn apteker, was ten tyde van sy dood die eienaar van verskeie apteke in die Pharma Valu-apteekgroep.

“Te gou weg, my werkgewer. Jy het jou Pharma Valu-familie onverwags verlaat. Tot ons weer ontmoet Hannes Strydom, die voormalige amabhokobhoko-speler,” skryf Duduzile Owaka Mwelase, op sosiale media.

“Dankie vir al jou hulp met die Pharma Valu-apteekgroep in die verlede waar ons pasiënte kon werf vir kliniese navorsingstudies. Dankie vir jou vriendelikheid en bereidwilligheid om te help. Rus in vrede. Mag jou gesin, familie en vriende vertroosting vind,” lui nog ’n boodskap van die kliniese farmakoloog Morné Strydom.

Pharma Valu was kort voor Strydom se dood in die nuus oor verdoemende bewerings dat daar ʼn kodeïen-sindikaat in die apteke bedryf is.

Strydom het alle betrokkenheid ontken.

Maroela Media het vroeër vandag berig Strydom is die vyfde speler van die Wêreldbekerspan van 1995 wat onlangs dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Hy het vir my redelik skuldig gelyk ivm met die kodeien storie toe Carteblanche hom wou ondervrae oor die bewerings.

Bolandse Nooi ·

Pieter, en almal wat nou hierdie man se “sondes” oprakel – HOU NET OP!!! Sy familie, vriende, kennisse, kollegas … mense vir wie hy dierbaar was, lees hier. Al het hy wát gedoen terwyl hy geleef het – hy is nou dood. Wys tog asseblief ‘n bietjie respek vir ‘n man wat meer vir die land beteken het as net Piet-van-langsaan.

Cassie Carstens ·

RIV Hannes. Ons treur or jou heengaan. Innige meegevoel aan sy nagelate eggenote en die kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.