Stryery oor huurgeld eindig in moord

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Vrystaatse vrou het Woensdag glo haar verhuurder se dood veroorsaak nadat hulle stry gekry het oor huurgeld.

Die verhuurder het die vrou glo tydens ’n onderonsie in ’n huis in Navalsig, Bloemfontein, gewurg waarna sy ’n glasbord oor sy kop gebreek het. Die man het hom eindelik doodgebloei.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die vrou (67) het omstreeks 20:33 saam met die verhuurder se vrou op die balkon gesit.

Die verhuurder (63) het met sy aankoms die vrou daarvan beskuldig dat sy nie haar huur betaal nie en gedreig om haar elektrisiteit af te sny. Die verhuurder het die huis binnegegaan en die twee het op pad na die hoofskakelaar in die slaapkamer met mekaar slaags geraak.

Die twee het verder in die slaapkamer baklei en die verhuurder het glo die huurder op die bed neergedruk en gewurg.

Die huurder het toe na bewering ’n glasbord gegryp en die man daarmee oor die kop geslaan. Die man het ’n diep sny aan sy nek opgedoen en geweldig baie gebloei.

Die nooddienste is na die toneel ontbied waar die man dood verklaar is.

Die vrou is in hegtenis geneem en sal binnekort in die landdroshof in Bloemfontein op aanklag van moord verskyn.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het ’n beroep op Vrystaters gedoen om konflik beter te hanteer ten einde noodlottige voorvalle van dié aard te voorkom.

“Kom ons probeer om mondelings te kommunikeer en kwessies aan te pak sonder om te baklei,” sê die polisiehoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marius ·

Dis noodweer . Het hierdie polisie nie een breinsel tussen hulle almal wat funksioneer nie ?

Nuus leser ·

Skokkend dat bejaarde (oumensies) op hul oudag so slaags kan raak

Cherokee ·

Waarom bestempel die skrywer van die berig se titel, selfverdediging as moord? Ander tye gaan julle mal met aanhalingstekens, maar hierdie keer nie. Dit klink na selfverdediging.

Tino ·

Betaal net jou huur dan is daar niks om oor te kommunikeer nie

Cherokee ·

Tino, as verhuurder stem ek met jou saam, maar steeds moet daar perke wees om huurgeld in te vorder.

Piet parys ·

En die vraag is wat het sy gedoen om die geveg te begin toe hy haar krag wou afsit . Lees tussen die lyne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.