Student beurs kwyt ná rassistiese video

Die foto van Catherine Michelle Reynders het op die Blou Bulle se webtuiste verskyn, maar is intussen verwyder.

ʼn Student aan die Universiteit van Pretoria (UP) is haar studiebeurs kwyt nadat ʼn video waarin sy rassistiese uitlatings maak aan die lig gekom het.

Sy en ʼn medestudent wat saam met haar in die video te sien is, is ook intussen uit die universiteit geskors hangende ʼn dissiplinêre ondersoek na die voorval.

Die video, wat sedert verlede week wyd op sosiale media gedeel is, het aan die lig gekom nadat dit skynbaar per abuis op ʼn WhatsApp-groep vir studente gedeel is. Op die video kan twee vrouestudente gesien word wat herhaaldelik die k-woord gebruik. Die studente is later as Catherine Michelle Reynders en Bodene Benade geïdentifiseer.

In ʼn skermskoot van die WhatsApp-gesprek wat volg nadat die video 23:00 die aand op die groep gedeel is, vra Benade om verskoning vir die video en sê sy dat dit per ongeluk gestuur is. “Ek is met my hele hart jammer as ek julle ontstel het. Dit is nie enigsins my opinie nie. Ek kan nie genoeg jammer sê nie. Ek is so jammer,” skryf sy.

Iemand reageer dan op haar boodskap: “So sê vir my, verwag jy ons almal moet nou net stilbly na al die drama wat jy sopas geplaas het. Kan jy asseblief vir ons duidelikheid gee oor wat jy sopas gesê het?”

Die Cyril Ramaphosa Education Trust (CRET) het in ʼn verklaring bevestig dat een van die studente wat in die video gesien kan word ʼn CRET-beurshouer is. “CRET veroordeel die afskuwelike gedrag wat in die video gesien kan word en het die student se beurs met onmiddellike effek teruggetrek,” lui die verklaring.

In ʼn skermskoot van die WhatsApp-gesprek wat volg nadat die video op die groep gedeel is. Foto: Twitter

“Die CRET-beursprogram roem homself op sy nie-rassige, niediskriminerende program wat benadeelde studente oor alle rasgroepe ondersteun. In 2017 het die CRET altesaam 66 studente ondersteun, waarvan 64 swart en twee wit is. Ons is platgeslaan om te hoor dat een van ons eie familielede ons tot so mate teleurstel in ʼn tyd wat Suid-Afrika diversiteit moet omarm.”

Die trust het gesê hy sal enige verdere stappe wat deur UP gedoen word na afloop van ʼn dissiplinêre ondersoek ondersteun.

UP het Vrydag in ʼn verklaring bevestig dat die twee meisies wat in die video gesien word UP-studente is. Die universiteit het gesê die twee studente is geskors hangende die dissiplinêre ondersoek na die voorval. “Die Universiteit van Pretoria veroordeel die gebruik van sulke neerhalende en rassistiese taal,” lui die verklaring.

Intussen het die Blou Bulle-maatskappy ook bevestig dat Reynders na aanleiding van die video uit haar posisie as rasieleier by die Vodacom Bulls Babes verwyder is. Die maatskappy het gesê die Vodacom Bulls Babes word bestuur deur ʼn eksterne konsultant en Reynders was dus nie direk in diens van die Blou Bulle-maatskappy of deur die maatskappy gekontrakteer nie. Die maatskappy het wel versoek dat sy uit die groep verwyder word.

“Die Blou Bulle-maatskappy, tesame met die konsultant wat die Vodacom Bulls Babes bestuur, wil dit kategories stel dat ons nie enige misbruik op grond van ras goedkeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Haan ·

Eerstens : dankie aan MM dat die kommentaar platvorm weer terug is!

Tweedens: leef ons nou in n wêreld waar ons n jongmens se toekoms sonder om te huiwer vernietig omdat sy n woord gesê het? Ek ken BAIE mense wat daardie woordjie soms laat uitglip en ek is seker julle doen ook. Nou word duisende rande wat aan haar opvoeding spandeer is net so tot niks gemaak? Haar hele toekoms. Oor n woord? Is dit die samelewing waarin ons vandag leef?

FM ·

Ek vind dit weer vreemd dat 23 jaar in ons nuwe bestel, daar steeds Afrikaanse mense is wat die k-woord gebruik, wettende dat dit ‘n woord is wat swart mense verneder en minderwaardig laat voel.

Hopelik besluit mense wat dié woord nog gebruik om die gewoonte te staak, sodat hulle kinders en kleinkinders nie dit aanleer en eendag ook in die moeilikheid kom nie.

Jorrie ·

Stem heeltemaal saam met jou. Waar is die genade? Mense is “trigger happy” om al wat n witmens is se lewe op te mors net oor n fout en wil nie eers hul opregte verskonings aanvaar nie. Dis nie in belang van nasie-bou nie.

Jack ·

Die eerste ding wat ek gedink het was waar kom n jong mens aan sulke taal. Het sy geen respek teenoor haar naaste nie.

Leahim ·

Dit is agresie wat onderdruk word omrede daar gediskrimineer word teen die wit jeug en meng alkohol hierby dan is dit wat jy gaan kry.

Willem ·

Diskriminasie? Sy het ook ‘n beurs ontvang van Cyril Ramaphosa se beursfonds.

gawie ·

hou op verskoning maak ons moet ons kinders leer reg is reg en verkeerd is verkeerd.ons soek regverdigheid maar is nie bereid om dit te gee nie..geen samelewing kan so bestaan nie..elke aksie het ook n reaksie ongelukkig het sy n fout gemaak en moet nou die na gevolge dra van so n reaksie…in vandag se lewe kan geen nugter denkende mens meer enige rasistiese uitlatings maak nie maak nie saak hoe dronk hoe kwaad hoe onderdruk hoe onregverdig jy behandel word nie…ONS as Afrikaans sprekendes moet besef almal is uit om te bewys ons is rassiste so ons moet dit wat ons doen reg doen en 7x 70 keer dink voor ons iets op sosiale media of in die publiek se of doen.
dit is ook net my opinie.

Valentino ·

Kom manne. Skep ń rekening dat ons kan geld insamel vir haar vir nog ń beurs. Malema en kie kan volksmoord aanhits dan is dit niks. #doublestandardsmustfall

Corrie ·

Valentino jy is 100% reg. Hoop jou versoek kom van die grond af sodat mens daardie meisie kan help. Laat ons saam staan

Chris ·

Dink julle nie dat jul ook nou dubbel standaarde het nie? Ons verwag almal moet ons beter hanteer, maar is nie self bereid om ander beter hanteer nie? Verandering begin tuis… Ek stem saam dat die strawwe een sydig is, maar ons moet ons kant skoon hou as ons wil verwag dat “Malema en kie” hulle kant moet skoon hou…

Basjan ·

Dit gaan my verstand te bowe dat daar enigsins ‘n video opname van die voorval gemaak is én Dan nog versprei is ook. WAT het hulle gedink? Kyk wat het met daai twee ovens gebeur wat die “doodskis video” gemaak het.

Charmain ·

Ja-nee Basjan, WAT het hulle gedink?!? Gedrag van individue soos hierdie, nugter of onder die invloed van alkohol, doen ongelooflike afbreuk aan ander pogings om die teendeel te bewys. Hoe minder aandag hierdie insident kry, hoe beter.

Johan ·

Weet nie wat erger is nie die video of dat sy bloubul is nie…

Hanna ·

Ek hoop net alle studente, swart en wit gaan dieselfde behandel word.

Daar is nie meer plek in Suid Afrika vir enige vorm van rassisme nie.
Eerstens: dit is nie wat Jesus Christus sou doen nie.
SY laaste opdrag aan die dissiples was:
“Gaan maak dissiples van alle nasies en leer hulle wat EK julle geleer het”

Net daardie laaste opdrag kan ons land red. As jy nie in n Jesus liefde lewe loop nie, sal jou hart nie reg wees nie.

Hierdie land is ons almal se land. Nie net wit of swart nie.

Annatjie Kruger ·

Daar is die spreke wat sê: “wat die hart van vol is, loop die mond van oor”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.