Student dood ná verkiesing in chaos ontaard

TUT Soshanguve. Foto: Facebook

ʼn Student aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) is Donderdagaand doodgeskiet.

Die voorval het by TUT se noordkampus in Soshanguve, noord van Pretoria, plaasgevind. Volgens berigte het daar ʼn geskil ontstaan tydens ʼn verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) wat tot ʼn bakleiery gelei het.

Die polisie is ontbied. Volgens ooggetuies het die polisie glo met skerp ammunisie op studente losgebrand. ʼn Student is doodgeskiet en nog ʼn student gewond.

Dit is egter in dié stadium nog nie duidelik of die student deur die polisie doodgeskiet is en of iemand anders ook skote afgevuur het nie. Daar is ook brande gestig en paaie versper.

ʼn Woordvoerder van die universiteit het gesê ʼn vergadering is met die polisie belê om vas te stel of daar wel met skerp ammunisie op studente losgebrand is. Die noordkampus bly oop, maar veiligheid is opgeskerp.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het intussen bevestig hy ondersoek die voorval.

Foto: Twitter

“Volgens berigte is die polisie omstreeks 18:00 na die kampus ontbied nadat die voortsittende beampte van die verkiesing glo gyselaar gehou en deur studente aangerand is,” het Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, gesê.

Volgens Dlamini het die polisie met sowat 10 voertuie opgedaag en kon hulle daarin slaag om die voortsittende beampte te bevry. “Studente het die polisie se pad versper toe hulle die kampus probeer verlaat en polisievoertuie met klippe bestook het. Daar was omtrent 2 000 studente.”

Dlamini het gesê polisiebeamptes wat op die toneel was, beweer hulle het met R5-aanvalsgewere waarskuwingskote na die grond afgevuur en dat niemand beseer was toe hulle die toneel verlaat het nie.

“Die polisie het later verneem dat ʼn student geskiet is. Die student is onderweg na ʼn hospitaal oorlede. Daar is op die polisiebeamptes se vuurwapens beslag gelê sodat dit vir ballistiese toetse gestuur kan word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Al ·

Dis nou die jeug wat leiers van die gemeenskap en land gaan word. Kriminele gedrag om iemand gyselaar te hou en aan te rand?!

Grys ·

Iemand jou gooi met klippe, om trug te skiet is dan om jouself te verdedig? 2000 studente tussen n geraaide 40 tot 50 polisie beampetes.

Eliz ·

Die destydse stokers van die steenkool treine kry seker vandag skaam as hulle sien hoe vinnig hierdie wesens ‘n vuur kan maak. Waar hulle die klippe so vinnig in die hande kry is ook my deksel want daar is altyd as hulle bymekaar is. Dra hulle dit in sakke saam of wat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.