Student in hof ná hy tiener glo met naakfoto’s dreig

selfoon2_vuurvreters.jpg

Foto: pixabay.com

ʼn Mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn tienerseun met naakfoto’s probeer afpers het.

Die student het glo aanvanklik deur sosiale media met die 14-jarige seun kontak gemaak, voordat hulle later op WhatsApp begin gesels het.

Konst. Wendy Nkabi, woordvoerder van die polisie, het gesê die student het die tiener oortuig om naakfoto’s van homself aan te stuur. Daarna het die student glo die 14-jarige gevra om hom in persoon te ontmoet. Volgens Nkabi sou hierdie ontmoeting vermoedelik seksueel van aard gewees het.

Die tienerseun het na bewering die student se versoek geweier en gesê hy kan hom nie ontmoet nie omdat hy by sy ouers woon en hulle bewus is van sy bewegings. Die student het daarna glo die seun gedreig dat hy die naakfoto’s op sosiale media sou versprei indien hy nie instem om hom te ontmoet nie.

Die seun en sy ouers het die saak by die polisie aangemeld en die student is Donderdag in hegtenis geneem. Hy het Vrydag in die hof verskyn op aanklag van seksuele gereedmaking van ʼn minderjarige waarna hy op borgtog vrygelaat is.

Volgens Nkabi het die hof die saak verwys na die polisie se eenheid wat kubermisdaad ondersoek en dié eenheid is drie maande kans gegee om al die nodige bewyse te versamel voordat die student weer in die hof sal verskyn.

Weens die seksuele aard van die aanklagte kan die beskuldigde se naam nie bekendgemaak word totdat hy gepleit het nie.

Nkabi het gesê daar is ook versoek dat die naam van die skool waar die 14-jarige ʼn leerder is nie bekendgemaak word nie.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het gesê die universiteit gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stella ·

Kommerwekkend, belaglik, siek……. het nie woorde nie……. mediese student ???? Waarheen is ons oppad?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.