Student kan niks onthou van ure in wrak

Esmari en Liani Glinister in die hospitaal. Foto: Verskaf

Esmari en Liani Glinister in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die jong student van Johannesburg wat ses weke gelede vir ure in die wrak van haar motor vasgekeer was nadat haar motor in ʼn stroom beland het, kan niks van die ongeluk onthou nie.

Liani Glinister (21), ʼn student in industriële ontwerp aan die Universiteit van Johannesburg, is op 14 Mei ernstig beseer toe haar motor in ʼn stroom in Albertville beland het terwyl sy op pad was na ʼn vriendin se huis.

Sedert die ongeluk is sy weke lank  in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal behandel, waar sy meestal onder verdowing gehou is. Liani is Dinsdag na ʼn rehabilitasiesentrum geskuif waar sy nou weer moet leer loop en ten volle haar onafhanklikheid moet herwin.

“Ek voel goed! Ek geniet dit hier by die rehabilitasiesentrum waar ek weer bietjie kan oefen en leer om op my eie oor te weg te kom,” het Liani Donderdag aan Maroela Media vanuit haar hospitaalbed gesê. “Ek dink ek sal seker nog ongeveer ses weke hier bly. Ek dink ek sal eers huis toe kan gaan wanneer ek self kan loop.”

Liani vertel dat sy tot omtrent 19:00 die aand van haar ongeluk kan onthou. Die ongeluk het vermoedelik ure daarna plaasgevind. “Ek het half vermoed wat ek alles daardie dag gedoen het en dat ek die aand by die werk was. ʼn Vriendin het [onlangs] vir my kom kuier en my vertel dat sy die aand by die werk vir my kom hallo sê het en toe sy dit vir my vertel, kon ek dit onthou. Maar ek onthou niks wat gebeur het nadat ek by die werk weg is 19:00 nie.”

Esmari, Liani se ma, het vroeër aan Maroela Media vertel haar dogter was die aand op pad van Melville na ʼn vriendin se huis toe die ongeluk gebeur het. Nadat Liani nie by haar vriendin se huis opgedaag het nie, het verskeie mense na haar begin soek, maar kon haar nie kry nie. Die volgende oggend het ʼn man, net bekend as Wilson, tussen 06:00 en 07:00 op die ongelukstoneel afgekom terwyl hy op pad was werk toe.

Liani het ernstige beserings opgedoen en is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Sy het verskeie bene gebreek, waaronder ’ʼn gedeelte van haar regterbeen se femur, wat vergruis is en haar aorta is geskeur. Sy moes deurentyd ook teen infeksies veg.

Hoe voel Liani om te weet dat sy bo alle verwagting só ongeluk oorleef het? “Ek voel trots. Ek voel trots om te hoor hoe ek dit hanteer het en hoe ek daardeur gekom het. Ek kry myself nie jammer nie. Ek is trots om te weet dat ek herstel het en dat selfs die dokters verbaas is dat ek dit oorleef het.”

Volgens Liani is sy nie haastig huis toe nie, maar sy sal so gou as moontlik haar studies hervat. “Ek dink ek sal moet ekstra werk doen om in te haal, maar ek is seker ek sal weer kan verder swot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rikku ·

Liani ek is so bly om te hoor dat dit goed gaan met jou. Vas byt met die rehabilitasie.
Rikku

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.