Student moontlik betrokke by Rhodes-brand

Foto:  Chelsea Haith, The Oppidan Press

Foto: Chelsea Haith, The Oppidan Press

ʼn Student aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad in die Oos-Kaap word moontlik verbind aan die brand wat op die kampus gestig is, het die instansie Woensdag gesê.

“ʼn Derdejaarstudent is Dinsdag by Settlers-hospitaal opgeneem nadat hy petrol ingekry het,” het Zamuxolo Matiwana, woordvoerder van die universiteit, gesê. “Hy is na die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas vir verdere waarneming en behandeling.”

Matiwana sê ʼn voorlopige interne ondersoek dui daarop dat die student moontlik aan die brand verbind kan word wat Dinsdagoggend by die Rhodes-snoekerklub (die Purple Horse) in die Steve Biko-gebou uitgebreek het. “Die polisie en die universiteit ondersoek die moontlike verband tussen die student se hospitalisasie en die brand.”

Die student se gesin is in kennis gestel en ʼn algemene studentevergadering is Dinsdagaand gehou.

Kaptein Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn saak van brandstigting ondersoek word. “Die oorsaak van die brand is nie bekend nie en sal deur forensiese kenners ondersoek word,” het sy gesê.

Intussen berig een van die kampus-publikasies, die Oppidan Press, die student is in hegtenis geneem nadat hy ‘n petroljoggie by ‘n vulstasie gedwing het om petrol oor hom uit te gooi en hy dit vermoedelik op so manier ingekry het. Die koerant berig verder die universiteit het glo aangedring op kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval. Klik hier om meer te lees. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.