Student nog nie wakker ná gru-botsing

Christo Reyneke. Foto: Verskaf

Twee weke nadat Christo Reyneke (19), ʼn student van Klerksdorp, kritieke beserings in ʼn botsing buite Wolmaransstad in Noordwes opgedoen het, wag sy familie steeds angstig vir hom om wakker te word.

Hendrik Reyneke, Christo se pa, sê sy seun word steeds in die waakeenheid van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein behandel. “Hulle het al Vrydag sy verdowing gestop, maar hy het nog nie wakker geword nie. Hy maak met tye sy oë oop en as hulle hom seermaak, sal hy beweeg. Maar hy is nog steeds nie behoorlik wakker nie,” het Hendrik gesê.

Maroela Media het vroeër berig Christo, ʼn student in natuurbestuur, was op pad na sy ouers wat op Wesselsbron in die Vrystaat woon, toe die bakkie waarmee hy gery het met ʼn vragmotor gebots het. Christo het ʼn groot skedelbreuk opgedoen en moes uit die wrak van die voertuig gesny word. Christo het ook erge swelling op sy brein gehad. Sy lewer en slukderm is geskeur, sy bobeen is gebreek en hy het ʼn groot snywond aan sy skouer en kleiner snywonde aan sy lyf opgedoen.

Hy is eers in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp opgeneem voordat hy na die Bloemfonteinse hospitaal oorgeplaas is.

Volgens Hendrik het die swelling op Christo se brein intussen baie verminder en is die dreineringspyp wat die vog uit sy lyf dreineer het, ook verwyder. Hy haal ook nou op sy eie asem en is nie meer van ʼn asemhalingsmasjien afhanklik nie. Christo het verlede week ʼn operasie ondergaan om staalpenne in sy been te sit en dit het goed afgeloop.

Dit is egter moeilik om te bepaal of Christo enige langtermynskade opgedoen het omdat hy nog nie wakker is nie, sê Hendrik. “Die dokter sê dat dit vir hom langer vat om wakker te word as wat hy verwag het, maar dit is nog nie ʼn probleem nie. Ons moet hom nou maar net kans gee,” het hy gesê.

Intussen bly Christo se ma in Bloemfontein oor sodat sy hom daagliks kan besoek, terwyl Hendrik so gereeld as moontlik vanaf Wesselsbron ry om hom in die hospitaal te besoek. “Dit is baie moeilik dat ek nie heeltyd by hom kan wees nie, maar ek probeer soveel as moontlik daar wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanna ·

Hou aan om te bid, moenie moedeloos word nie. Glo en hou vas aan God. Hy sal uitkoms gee op Sy tyd.

Franchen ·

“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Filippense 4:13.
Baie sterkte en positief bly.
Julle is in my gebede ?

Deon ·

‘n Familielid van my was 40 jaar gelede in ‘n motorongeluk, en my pa se neef was vir 11 maande in ‘n koma, en toe hy bykom was sy eerste woorde, Waar is my ma? Hy leef nou nog!

Lollie ·

Sterkte aan die familie. Hou moed, elke ding gebeur op sy tyd. Dalk is dit beter so dan het hy dalk minder pyn want hy het baie seer gekry. Hy herstel dalk vinniger omdat hy meer rus. Ons dink aan julle

J ·

Glo Hoop Vertrou sonder ophou ..omarm mekaar want liefde sal alles te bowe kom. Spesiale Sterkte aan die vader en moeder.

Pf joubert ·

Hallo Christo.ek wil net se Jesus is al reeds daar.Groete van Pf Joubert

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.