Student ondervra wat sê polisie het haar geskiet

Wits-studente versper paaie by die universiteit met brandende bande (Foto: Jo’burg Metro Police Department – JMPD, Twitter)

Die polisie het die 20-jarige vrouestudent wat glo Maandag tydens studentebetogings by die Universiteit van die Witwatersrand deur polisiebeamptes geskiet is, opgespoor. Sy is na die polisiestasie in Hillbrow geneem waar die polisie ʼn onderhoud oor die voorval met haar gevoer het. Sy het bevestig dat sy wel deur ʼn polisiebeampte geskiet is. Dit volg nadat die polisie aanvanklik die voorval ontken het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die student het tydens die onderhoud beweer dat sy en haar vriend Maandag deur polisiebeamptes in ʼn polisievoertuig gelaai is. Toe die beamptes hulle naby die Braamfontein-begraafplaas wou aflaai, het ʼn onderonsie tussen die student en die beamptes onstaan. Sy beweer dat sy toe uit die polisievoertuig gedwing is en daarna in haar regterbeen geskiet is.

“Hierdie voorval het glo in ʼn gebied plaasgevind waar geen studente betoog het nie,” sê Naidoo.

ʼn Saak van poging tot moord is by die Hillbrow-polisiestasie aanhangig gemaak. Die betrokke polisiebeamptes wat glo met dié skietery verbind word, is nog nie geïdentifiseer nie. Die saak is na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) vir verdere ondersoek verwys.

Maroela Media het vroeër berig dat die polisie die voorval ontken het omdat die saak nooit by die polisie aangemeld is nie. Daar is ook vasgestel dat geen polisiebeamptes wat in Braamfontein ontplooi is, enigsins skote tydens die betoging afgevuur het nie. Daar is wel ʼn rookgranaat in een geval en waterkanonne in ʼn ander geval gebruik in ʼn poging om die oproerige skare uiteen te jaag.

Naidoo het aangedui dat die polisie dié vrouestudent moet opspoor om uit te vind wat presies gebeur het.

Studente betoog weer sedert Maandag as deel van hul eise vir gratis onderrig, asook dat studente toegelaat moet word om by universiteite te registreer al het hulle uitstaande skuld. Daar word ook geëis dat studieskuld afgeskryf word.

Intussen het die vier polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is in verband met die skietdood van Mthokozisi Ntumba (35) tydens die Wits-studentebetogings, Woensdag vlugtig in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Konst. Tshepiso Kekana (27), sers. Motseothata Boitumelo (43), sers. Madimeja Lekgodi (37) en ao. Victor Nkosinathi Mohammed (51) word aangekla van moord, poging tot moord en dwarsboming van die gereg.

Die vier sal na verwagting volgende Woensdag weer in die hof verskyn wanneer hulle dan formeel om borgtog sal aansoek doen.

Mthokozisi Ntumba, ʼn staatsamptenaar, het verlede Woensdag tydens die studentebetogings in die kruisvuur beland en is deur lede van die polisie – wat met rubberkoeëls op die studente losgebrand het – raakgeskiet. Hy was nie deel van die betoging nie en het pas ʼn dokterspreekkamer verlaat.

Paramedici het Ntumba omstreeks 10:25 op die toneel op die sypaadjie aangetref en hom dood verklaar. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Het ‘n dokter die been ondersoek en wel ‘n skietwond ondersoek? Ek mag verkeerd wees, maar ek ruik ‘n rot hier êrens.

Hulle moet ophou “demand” en alles vir mahala soek klaar ons almal WERK vir wat ons wil hê! Wat maak hulle spesiaal regtig?

Mariana ·

Ek stem saam, iewers klink iets net nie reg nie. Nee hulle is gewoond hul sin kry as hulle soos klomp kleuters tantrums gooi. Gn wonder die land val uitmekaar nie. Almal wil als verniet hê, omdat hulle dink dis hul reg. Wonder hoeveel van daai “studente” is regtig studente.

Persheks Adri ·

Ek stem Mariana! Hulle maak moeg die klomp wat hulle so gedra pffft en hulle dink dis reg. Moeg vir hulle “demands” en alles brand en breek hel man

Zombie ·

In die berig staan daar dat die polisiemanne wat met die (beweerde) voorval verbind word, nog nie geïdentifiseer is nie. Hoe kan ongeïdentifeerde persone met ń voorval verbind word?
Die storie van die student klink maar vreemd vir my.
(Wat is die verskil tussen ń betoging en ń opstand. As goed aan die brand gesteek word en klippe word gegooi, klink dit vir my meer na ń opstand as ń protesoptog. )

Misky ·

Die vrouestudent se weergawe van die been skietery klink maar vir my so bietjie vergesog…… Dink sy kyk teveel Netflix en studeer te min

Regverdigheid ·

Hou op betoog en als verniet wil he.. werk vir wat jy soek maar nee gee mos als verniet en dan vernietig hul en brand als af…. ons pragtige land word n sirkus .

Moedeloos ·

NOu moet die arme polisielede hul werk verloor en aangekla word oor studente wat nie hul plek ken nie. Sluit hulle eerder toe en kla hulle aan. Hoekom het die persoon die gebou verlaat indien hy weet hy kan in die moeilikheid kom agv die gevaar rondom hom. Nee wat almal wil n superheld in alle verhale wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.