Student sit handsakdiewe kaalvoet agterna

Ané van Rensburg. Foto: Verskaf

Ané van Rensburg. Foto: Verskaf

Twee handsakdiewe se planne het Saterdag ernstig skeef geloop toe die jong vrouestudent, wat hulle beroof het, besluit het om hulle sommer kaalvoet agterna te sit om haar handsak terug te kry.

Ané van Rensburg (22) is dalk jonk en skraal gebou, maar dié Stellenbosch-student is beslis baie dapperder as wat sy lyk. Sy vertel aan Maroela Media sy het Saterdag omstreeks 17:00 huis toe gestap van die salon waar sy haar praktiese ure as haarkapper, as deel van haar studies, voltooi.

“Ek het twee mans aan die oorkant van die straat opgemerk, maar niks daarvan gedink nie. Ek was ingedagte en het deur so dun stegie gestap op my normale roete huis toe, toe ek skielik agtergekom het hulle agtervolg my,” het sy gesê.

Die volgende oomblik was die twee mans voor haar en het hulle haar in ʼn hoek in die stegie ingedwing. Een van die mans het sy hand op haar skouer gesit en gesê, “Hi, how are you?” voordat hy haar selfoon geëis het. Volgens Van Rensburg het sy geweier om die handsak te oorhandig en die man het ʼn mes uitgehaal.

“Ek het gevoel hoe ek letterlik lam raak van vrees. Ek het na daardie mes gekyk en gedink hy gaan my enige oomblik daarmee steek. Ek kan dit self nie verstaan nie, maar so bang as wat ek was, wou ek nog steeds nie my handsak vir hom gee nie. Ek kon myself net nie so ver bring om my besittings net so vir hom te gee nie. Ek het net geweier,” het sy gesê.

Die volgende oomblik het die rower Van Rensburg liggies op haar hand gesny en die handsak uit haar hand geruk. Een van die rowers het die handsak onder sy hemp in gedruk en laat spaander, terwyl die ander een met die mes agtergebly het.

Van Rensburg sê sy vermoed die plan was om haar lank genoeg daar te hou om die ander rower kans te gee om eers ver weg te hardloop. Sy het egter aan die rower by haar se liggaamstaal opgemerk hy is self onseker wat om volgende te doen en dit is toe dat haar veggees die oorhand kry. “Ek het na die mes in sy hand gegryp en ʼn stoeiery het ontstaan. Ek kon in ʼn stadium daarin slaag om die mes uit sy hand te kry en toe stamp hy my terug, gryp die mes en hardloop.”

Van Rensburg was egter nie bereid om haar handsak met haar paspoort, ID-dokument, beursie, selfoon en bankkaarte net vaarwel toe te roep nie. Sy het die plakkies aan haar voete uitgeskop en die twee boosdoeners kaalvoet agternagesit.

“Ek hardloop kaalvoet op daardie teerpad agter hulle aan en die volgende oomblik is daar ʼn man langs my wat gesien het wat gebeur en my help om hulle te jaag. Hy gooi hulle sommer so in die hardloop met klippe. Toe is daar ʼn tweede man langs ons wat my ook wil help om hulle te vang,” vertel sy.

Die verdagte met die handsak het uiteindelik boedel oorgegee en die handsak op die sypaadjie neergegooi. Voordat hy egter op die vlug kon slaan, was polisiebeamptes, wat roetine-patrollie gery en gesien het wat gebeur, by hom en het hulle hom op die plek in hegtenis geneem. Die tweede verdagte kon daarin slaag om te vlug.

Van Rensburg was gelukkig om haar handsak met al die inhoud terug te kry. “Ek het so gehuil en gebewe ek kon skaars vir die twee mans wat my gehelp het dankie sê. Ek wens so ek kon hulle weer sien dat ek hulle net behoorlik kan bedank. Ek dink as hulle my nie gehelp het om die [verdagtes] agterna te sit nie, sou hulle nie die handsak neergegooi het nie. Ek dink hy het moed verloor toe hy sien drie mense is agter hom aan en dit is hoekom hy handdoek ingegooi het.”

Van Rensburg was ook vol lof vir die polisie, wat blitsvinnig opgetree het om een van die verdagtes in hegtenis te neem en reeds op die spoor van die tweede verdagte is.

“As ek nou terugdink, weet ek my optrede was glad nie slim nie. Ek het my lewe in gevaar gestel deur hulle teë te gaan en toe nog boonop agterna te sit ook. Geen handsak is jou lewe werd nie,” erken Van Rensburg. “Ek het altyd gedink as ek ooit in so situasie moet beland, sal ek net in ʼn bondeltjie inmekaarsak van vrees. Hulle sê mos jy veg of vlug. Wel, ek het besluit om te veg! En dit het toe baie goed uitgedraai,” sê sy.

“Maar van nou af sal ek nie meer daardie pad huis toe stap nie. Dit is nou nie nodig om die noodlot te tart nie!”

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn saak van roof ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Valerie ·

Was dit die moeite werd? Die “boosdoeners” se vorige of volgende slagoffer was/is dalk nie so gelukkig nie. ‘n Mens moet vinnig dink, ek gee toe, maar sou ek met my lewe dobbel vir ‘n ID-kaart en sulke goed? Glo nie so nie. Dit is ‘n ander saak wanneer iemand anders se lewe in gevaar is, ek verstaan, dan gaan ek kop eerste in. Ek wonder maar net of dit die dobbel werd is, veral in SA, om “boosdoeners” aan te vat en veral as die misdadigers gewapend is.

Vicky Alberts ·

As jy hulle wys jy is bang, sak hulle soos aasvoëls toe. Maar as jy sterk staan, man óf vrou skrik hierdie lafaards baie vinnig. Ek weier om ‘n slagoffer te wees en maar net oor te gee. Hulle sal my moet dood maak, want baklei gaan ek baklei.

Jy moet sien hoe skrik die mense ·

My ma was in haar 60’s toe sy eenkeer in die kar saam met my pa sit en haar handsak onder haar uit gesteel word. Hulle was by die strand in Oos-London. Sy’t nie twee keer gedink nie. Sy’t agter hom aanghardloop in die bosse in en haar handsak terug gesteel. Want haar lisensie I.D en baie belangrik ballet kaartjies was daar in. My pa het die polisie se aandag getrek. Dit was so 10 jaar terug. Sy is nou oor die 70 en sal dit nog steeds doen…. Want dis haar goed. Hulle het die kar oop vergeet.

griet ·

ek het ook al my selfoon terug geruk al het hulle my met ‘n mes gedreig – en hulle het weggehardloop. Ek kon ook net nie dink dat ek my goed vir hulle moet gee nie. En hulle skrik as mens nie dadelik maak soos hulle wil hê nie. Maar omstandighede verskil. Ek het wel ‘n ander keer my nie teëgesit nie, en gegee wat ek kon om my kinders te beskerm.

DS ·

Ag genade Valerie jy is nou regtig ‘n voorbeeld van hoe ons ou boerevolk net die negatief in alles raaksien! Wel gedaan jonge Ané jy was dapper en ek is bly dit het goed vir jou afgeloop.

humor ·

Meisiejie ek sal maar draaie om jou stap want enige ou sal by jou 2de kom tensy jy hom baie liefhet.

SANNIE ·

Baie BRAAF! Maar dit kon soveel erger uitgedraai het. Jou lewe kan nie vervang word nie meisie. Meeste skelms daar buite voel ‘n veer vir jou lewe.

JWM ·

Mooi so, Ane. Probeer om maar nie weer alleen te loop of enigeiets van waarde saam met/aan jou te dra nie.

cor ·

Mooi so die verassings elment was daar teenwoordig hierdie boosdoeners is onder die indruk almal gaan skrik en boedel oorgee maar toe jy terug veg was hulle ban gatte

Cobus van Deventer ·

Pragtig jy was n dapper meisie!!! Ek dink dis hoogtyd dat ons almal moet terugveg teen misdadigers. Ek en my hele gesin het die meskursus gedoen. Ek kan my net indink wat met n aanvaller wat my studente dogter met n mes dreig gaan gebeur. Ek dink n ambulans sal te laat wees, die lykswa sal betyds wees vir die aanvaller!!!

Christa ·

Ek stem Cobus! Dis al hoe ons die stryd teen misdaad gaan wen!! Hulle reken mos daarop dat ons elke keer gaan bewe van vrees!! Ons moet ons man staan en hulle verkeerd bewys!!! Dan sal hulle 2 keer dink voordat hulle iemand sommer so voetstoots aanval!!!

Pepper ·

Almal moet pepperspry of iets sterkers aanskaf, veral as julle stap. Almal moet.

Ferdi ·

Knap gedaan ANÉ. Hoekom wil jy sit en kyk of hulle jou gaan dood maak of nie. Jy het ‘n 50% /50% kaans, doen iets jy gaan beter na die tyd voel. As om niks te doen en soos ‘n lafhart te voel of om te sê ek moes dit of dat gedoen het.

Willem ·

Ons is dankbaar dat die Here jou beskerm het. Probeer altyd iemand saam met jou hě en kry maar die pepersproei!

brt vd merwe ·

So ‘n blertsie PEPERSPROEI in die gesig van ‘n aanrander vehang die bordjies verbasend gou, onthou!

RC ·

10 uit 10 girl, dit neem guts! Dis hoogtyd dat ons wys wat se stofasie ons van gemaak is. Ons moet terug baklei.

RC ·

10 uit 10 girl, dit neem guts! Dis hoogtyd dat ons wys wat se stofasie ons van gemaak is. Ons moet terug baklei.

Penny ·

Trots op jou maar, kry dadelik vir jou peppersproei dit werk soos n bom!

Johan ·

Mooi so jy was , wat baie mense moet wees. Ek Laaik dit kwaai.

koos ·

Knap gedaan ook aan die wat kom help het. Laat my terugdink aan my seun wat ook in 2005 (of 2006) die dief van sy fiets kaalvoet probeer vang het en waar ‘n outjie met ‘n Golf hom gehelp het. (Dankie as jy DALK hier lees!)

RK ·

Absoluut keelvol vir die mense wat sê – ag dis nie jou lewe werd nie, gee maar eerder jou goedjies vir hulle dat hul kan gaan en jou in vrede los. Lê maar stil dat hul “doen” wat hul wil solank dit jou lewe spaar. Laat hul maar jou swaar verdiende kar vat want dis nie jou lewe werd nie.

Goed en wel, aardse dinge is nie jou lewe werd nie ja. Maar is ingee die moeite werd om permanent in vrees te lewe in ons eie land? Om ons self in tronke toe te sluit en permanent oor jou skouer te moet loer? Is dit werd om absoluut geen vryheid te hê nie?

Dis omdat ons altyd ingee, opgee, oorgee, laat gaan, die ander wang draai dat hul aanhou en sal aanhou. Want hul weet hul het ons waar hul ons wil hê. Bang.

Nee genade mense, groei ñ paar en laat ons onse vryheid terug vat!!!

Wel gedaan jonge dame. Fantastiese voorbeeld vir die slap agterkante…

van ·

Nelspruit ook sou ou agterna gesit, hom geduik, sodat al sy maters my toe skop… eers toe hul die handsak onder sy hemp sien uitkom opgehou… maar dit was die ribbes werd. Ek het hom mooi vertel as mens so is gaan jy net HEL toe. wees dit nou maar tronk of actual hel. hierdie land moet regkom.

Jacobus Krynauw ·

Bravo! Dit was lankal tyd om terug te baklei en nie papbroekig oor te gee nie.

stev ·

Welgedaan dame.
Give that Girl a BELLS !!!!

Jy het guts !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.