Student sterf op Puk-kampus

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

ʼn Eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het Donderdagmiddag in die universiteit se swembad verdrink.

Die universiteit het die tragiese voorval in ʼn verklaring bevestig. Volgens die verklaring het die voorval nie tydens formele studente- of universiteitsaktiwiteite plaasgevind nie.

Luidens die verklaring het die 34-jarige student omstreeks 15:00 saam met ʼn vriend by die swembad ontspan. Volgens die oorledene se vriend het die student in die diep kant van die swembad ingespring. Die vriend het besef iets is fout toe die student nie weer bo die wateroppervlak verskyn nie en hulp ontbied.

Volgens die verklaring het ʼn ander student ingespring om die man uit die water te haal. Paramedici is ontbied en hulle het kardiopulmonêre resussitasie op die man uitgevoer. Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas waar hy gisteraand gesterf het.

“Almal wat teenwoordig was ten tyde van die voorval het berading ontvang deur kundige universiteitspersoneel wat opgelei is om trauma-, sielkundige en emosionele ondersteuning in noodgevalle te bied. Dieselfde ondersteuning is ook aan die oorledene se nabye familie gebied wat vanoggend die kampus besoek het.”

ʼn Geregtelike doodsondersoek word deur die polisie gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.