Student vas ná polisieman in aanval sterf

Argieffoto: Kent Williamson

Een polisiebeampte is dood en ʼn ander in die hospitaal nadat die beamptes glo Saterdag tydens ʼn stop-en-deursoek-padblokkade in Sunnyside in Pretoria aangeval is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het glo op die hoek van Leyds- en Esselenstraat gebeur.

Peters sê die polisie het kort ná die voorval ʼn 21-jarige student in verband met die moord vasgetrek.

Volgens Peters is daar in dié stadium geen inligting oor die voorval nie. Hy sê ʼn ondersoek sal duidelikheid gee aan die verloop van die gebeure. “Ons weet net dat die beamptes met ʼn roetineondersoek besig was en toe aangeval is deur een of meer verdagtes wat van die toneel af gevlug het,” sê hy.

Die 34-jarige polisiebeampte is ná die aanval in die hospitaal dood weens die aard van sy beserings en die 41-jarige konstabel ontvang steeds mediese behandeling. Die beamptes is vermoedelik geskiet.

“Die presiese omstandighede rakende die voorval word ondersoek,” het hy gesê.

Die SAPD het intussen sy meegevoel met die familie van die slagoffer betuig en gesê hy is hartseer oor die verlies van nóg ʼn beampte.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, sê sy hoop dié inhegtenisneming kan ʼn mate van vrede vir die familie van die oorledene bewerkstellig.

Mense met meer inligting oor die voorval of wat in die polisieondersoek kan help, word versoek om die Sunnyside-polisie of die Misdaadnoodlyn te bel by 0860 010 111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

As die studente nou al begin is dit erg. Duidelik is hulle nie ernstig oor studeer nie maar eerder daarop uit om kriminele te word. Waar kry hulle wapens in elk geval?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.