Student vas oor antiretrovirale middels

Argieffoto ter illustrasie.
(argieffoto)

’n 24-jarige student van die Vrystaat is Donderdagoggend in hegtenis geneem nadat hy in die besit van meer as 1 000 antiretrovirale tablette betrap is.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die plaaslike K9-eenheid en die Thabong-misdaadintelligensie-eenheid het omstreeks 08:30 inligting ontvang van twee verdagtes in die besit van dwelms in Welkom.

Die mans is by ’n supermark in die dorp se sakesentrum opgemerk, waarna die owerhede hulle genader het. Een van die verdagtes, ’n student aan ’n kollege in Kroonstad, is voorgekeer. Die ander verdagte kon daarin slaag om te vlug.

Volgens Makhele het polisiebeamptes gevra om die verdagte se rugsak te deursoek, waarna hulle op 1 025 antiretrovirale tablette afgekom het. Dié tablette het los in die rugsak gelê.

Die verdagte is dadelik in hegtenis geneem en sal binnekort in die landdroshof in Welkom verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.