Student vas oor pakke dollars in rugsak

Die dollars waarop daar beslag gelê is. Foto: Verskaf

ʼn Suid-Afrikaanse student is vandeesweek by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat sy ʼn vlug na Hongkong wou haal met pakke dollar-note in haar handbagasie.

Sicelo Mkosi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), sê die vlug was op pad om op te styg toe beamptes die vrou op die vliegtuig voorgekeer het. Sy is opdrag gegee om die vliegtuig met haar twee sakke wat sy as handbagasie aan boord geneem het te verlaat.

“Aanvanklik het die vrou ontken dat sy enige geld in haar besit het, maar ná verdere ondervraging het sy erken sy het ʼn aansienlike bedrag kontant in haar rugsak,” het Mkosi gesê.

Die rugsak is deursoek en $630 700 kontant (meer as R9,4 miljoen) is in die sak gevind. Volgens Mkosi het die geld bestaan uit $50- en $100-note wat in pakke in ʼn plastieksak verpak was.

“Die vrou is na ʼn doeane-area geneem waar sy in ʼn onderhoudkamer versoek is om ʼn reisigerskaart in te vul. Sy het verbaal bevestig dat sy $650 000 in haar sak het. Sy het erken sy is nie die eienaar van die geld nie en kon ook geen bewys van eienaarskap lewer nie.”

Die dollars waarop daar beslag gelê is. Foto: Verskaf

Die student is toe in hegtenis geneem op aanklag van geldsmokkelary en versuim om die geld by die plaaslike polisiestasie te verklaar. Die vrou sou na verwagting vandag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

zoom zoom ·

Hoe is dit moontlik dat die scanners by OR Tambo nie die geld kon optel voordat die persoon op die vliegtuig geklim het. Iets nie lekker vir my om te verstaan oor werking by OR Tambo lughawe.

Wilma ·

Seker weer korrupte amptenare..niks verbaas my meer in SA ni

Marinda ·

Vra ek ook zoom zoom. En het sy regtig gedink sy gaan net ol die vliegtuig klim en geen haan gaan daarna kraai nie? Wat van die eindpunt?

Huh? ·

Geldwassery en oortreding v valutabeheer regulasies. Daar is nie so iets soos geldsmokkelary nie

Santjie ·

En wanneer gaan ons, ons kinders leer dat daar nie so iets is soos vinnig ryk word nie – en VERAL nie as iemand anders jou sommer so uit die bloute uit ‘n “pot vol goud” belowe nie – as iets te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik.

Karolis ·

Hoe het die geld die land ingekom?
Moes mos ook verby doane gekom het.

BB ·

En wat gaan nou van die geld word? in wie se sakke gaan dit land? Wonder maar net…

Gemaskerde Sopbeen ·

In die ou Suid Afrika was dit R670 000,00….waarmee jy baie kon doen….In die nuwe Suid Afrika is dit R9,4 miljoen…..waarmee jy nie veel kan doen nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.