Student vertel van kapingsnagmerrie

Die klip wat deur haar ruit geslinger is. Foto: Verskaf.

ʼn 19-jarige student van Pretoria het Sondag helder oordag die slagoffer van ʼn kaping geword nadat twee gewapende mans ʼn klip deur haar voertuig se ruit geslinger het.

Die tweedejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê sy was omstreeks 10:00 alleen in haar Ford EcoSport op pad winkels toe, toe die voorval in Centurion plaasgevind het.

“Ek het probeer om die sinkgat [in Jeanlaan] te vermy, maar het per ongeluk een straat te ver gery en in ʼn doodloopstraat ingedraai. Dit was in Aletheastraat en daar was nie plek om om te draai nie. Twee mans het in die middel van die pad gestaan. Een het omgedraai en vir my gestaar. Ek het gesien iets is nie reg nie en probeer omdraai, maar hy het na my begin hardloop. Hy het reeds die klip in sy hand gehad,” het sy gesê.

Sy vertel sy het probeer om agteruit te ry om van die man af weg te kom, maar het met die agterkant van haar motor teen ʼn boom gebots. “Toe was hulle klaar by my en het hierdie reuseklip na my geslinger. Ek weet nou nog nie hoe die klip my nié getref het nie. Dit was genade van Bo dat dit op die agterste sitplek geland het,” sê sy.

“Hulle het met hulle hande die res van die ruit oopgebreek en vir alles gevra.”

Die aanvallers het haar op die agterste sitplek van die voertuig gedwing, onder op die vloer laat lê en haar kop bedek met ʼn baadjie. Sy vertel dat een probeer bestuur het, maar dit nie reggekry het nie en die ander kaper het oorgeneem. Volgens die student was die kapers met ʼn mes en ʼn skerp stok gewapen en het hulle ook ʼn klein byltjie wat in haar voertuig was, gebruik as wapen.

Die mans het ongeveer ʼn uur lank met haar rondgery. “Ek kan nie verstaan dat iemand nie iets gesien het nie. Dit was ʼn halfgebreekte ruit waarvan die ‘shatterproof’ uitgehang het by die venster. Mens kon duidelik sien die man kon nie bestuur nie, klomp mense het vir ons toeter gedruk. Hy het baie vinnig gery en ek het nie geweet waar ons was nie.”

Sy vertel een van die mans het agter by haar gesit en die ander een het bestuur. “Ek kom nou so pas terug van ʼn kerkkamp en my Bybel was nog in my kar. Ek het letterlik bo-op my Bybel gelê.”

Sy vertel dat die mans agter ʼn vullishoop gestop en eers die res van die glas uitgebreek het dat dit soos ʼn afgerolde venster gelyk het. Die aanvallers het nie klapmusse of handskoene aangehad nie. Volgens haar het hulle heeltyd met mekaar gestry. Dit het geklink of hulle nie presies geweet het wat hulle wil doen nie.

“Hulle het heeltyd vir my vrae gevra soos ‘waar werk my pa’ en ‘maak hy baie geld’. Ek het vir hom gesê ek kan hom huis toe vat en vir hom alles daar gee. Ek wou net huis toe gaan en iemand kry om my te help.”

Die klip wat deur haar ruit geslinger is. Foto: Verskaf.

Die student vertel die mans het haar gedwing om haar bankkaarte te oorhandig en het haar vir haar PIN gevra. “Ons het ver gery en by ʼn bank gestop – ek het heeltyd taxi’s om my gehoor.”

Sy vertel dat hulle stilgehou het en een aanvaller uitgeklim en geld gaan trek het. “Hy het teruggekom en met my geraas dat ek nie vir hom die regte nommer gee nie. Die ander een het heeltyd gesê ‘moenie worry nie, ek dink hy lieg vir jou’, so asof hulle mekaar nie vertrou nie.”

Sy vertel dat hulle verder met haar gery en heeltyd met haar geredeneer het oor hoe goed sy die omgewing ken en of sy veilig terug by die huis sal kan kom. Sy het hulle probeer oortuig om by SuperSport-park te stop, maar hulle wou nie daartoe instem nie. Hulle het ook gesê sy moenie ʼn saak teen hulle aangee nie.

Hulle het toe gevra of sy Hatfield ken. “Ek het nee gesê, want ek was te bang hulle laai my in Sunnyside af. Hulle het my toe in Marabastad by ʼn taxi-staanplek gelos. Hulle het gesê hulle gaan weghardloop en as hulle die kar met ʼn klip gooi, dan moet ek wegjaag. Hy wys toe vir my die pad – hier moet ek ry met daardie pad op en dan is ek in Centurion. Hulle het heeltyd geskree ek moet afkyk en het hulle gesigte probeer toehou. Ek was so bang daar kom ander mense by die kar aan. Ek sê toe vir hom hy moenie dat ander mense hier aankom nie, toe sê hy nee hy sal húlle dan met ʼn klip gooi …”

Nadat sy uiteindelik terug agter die stuur van haar voertuig kon kom, het sy weggejaag na ʼn nabygeleë vulstasie en daar ʼn egpaar voorgekeer wat pas teruggekom het van die kerk af. Hulle het haar gehelp om haar ouers te bel, wat hulle dadelik tot by haar gehaas en na ʼn hospitaal geneem het. Daar is haar snywonde behandel wat sy tydens die voorval opgedoen het, voordat die gesin ʼn saak by die polisie aanhangig gaan maak het.

Die student vertel sy is getraumatiseerd ná die voorval. “Ek is baie skrikkerig, ek is bang vir enigiets wat kan omval of wat ek kan stamp. Dit is die Here se genade dat daar ʼn rustigheid oor my gekom het.”

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek sake van kaping en roof. “ʼn Saak van diefstal sal moontlik later bygevoeg word wanneer ons kan vasstel hoeveel geld van haar gesteel is,” het hy gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kweek haat ·

En HIERDIE AKSIES kweek glad nie haat nie ? Nadat apartheid al 24 jaar nie bestaan nie, gaan almal steeds tekere oor apartheid, terwyl diegene wat die meeste moeilikheid maak 20 jaar oud is en dus nie direk onder apartheid gely het nie. Diegene wie nou gekaap word en met klippe bestook en hulle huise uitgebrand en oumas en oupas op plase wreed en onskuldig vermoor word .. DINK NIEMAND aan die haat wat nou gekweek word nie? Hoe kan hierdie ooit ‘n reenboognasie wees? Hoe kan enigeen ooit op samewerking staatmaak as die aanslag op slegs een groep mense nou net erger word?

Johan ·

Omdat hy haar hierdie traumatiese insident laat deurgaan het???

Ada ·

Dankbaar jy lewe liewe mens.
Liewe Jesus het na jou gekyk,
Sterkte vorentoe.

Tannie ·

Mag God se vrede wat alle verstand te bowe gaan, soos koel water oor jou spoel.

Genieve ·

Jyt op die bybel gele..God se hand was oor jou,dankie Here.

Deklerkie ·

Dankie de klerk en die liberales. Europa enamerika, leer asseblief uit ons fout.

Theresa ·

Wat ‘n vreeslike ervaring! Wense dat jy sal herstel van die onnodige trauma. Is ‘n identikit van hierdie 2 kriminele gedoen? Word daar daadwerklik na hul gesoek??? Sit hul gesigte (sketse) op pale – sodat meer mense nie so uitgevang word nie!

Liamari ·

Wat seker die skokkendste is, is dat terwyl sy per ongeluk by ‘n doodloopstraat gekom het, daar net perongeluk 2 mense was wat gereed was om die situasie uit te buit. Wys net hoeveel skurke is daar buite wat net rondloop, gewapen en kyk waar kan hulle roof en moor.

Tanya ·

Ek weet waardeer jy gaan was vir 2 ure aangehou was ook met ons rondegry ook ons bankkaarte gevat geld getrek en kaarte geclone ook vir ons gese ons moet rustig wees hulle sal ons nie seer maak nie hulle soek net geld. Toe hulle kry wat hulle wou gehad het het hulle ons ook verduidelik hoe om uit lokasie uit te kom en ons laat gaan. Hou Vas aan ons Hemelse Vader hy sal jou rustig maak.

Theresa ·

Het jul identikits laat teken by die polisiekantore??? Hierdie mense se gesigte moet in die Rekord en oral gewys word, dat nog mense dit nie oorkom nie. Moet dit nie daar laat nie.

Esther ·

Ai die arme mens. Dit gebeur hier onder ons neus, ons woon net n plot weg en ons was salig onbewus van alles. As ons gesien het sal ons beslis iets gedoen het. Sterkte

Didi ·

God het jou bewaar ons dien n almagtige God. Dankbaar jys veilig. Dit wat met jou gebeur het is van satan.

Andre ·

Dit is ‘n wonderwerk en Genade van Bo dat hierdie dame nie vermoor of verkrag is nie. Misdaad is lankal buite beheer; die polisie is in baie gevalle op die misdadigers se “payroll” of self die misdadigers, of bloot te onbekwaam om sake te ondersoek. Dan praat mens nie eens van wat by die Howe aan die gang is en die lekker hoteltronke nie. Dinge raak by die dag erger. En die “dom regses” het sowaar al hierdie dinge korrek voorspel in ’92!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.