Student wat by NSFAS steel, kry 18 jaar

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

ʼn Oudstudent aan die Walter Sisulu Universiteit (WSU) is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sowat R1,2 miljoen se fondse van hulpskemas vir studente gesteel het.

Siyambonga Mhlakaza (35) is Vrydag in die Mthatha- gespesialiseerde handelsmisdaadhof in die Oos-Kaap tot 18 jaar gevonnis op aanklag van geldwassery en 15 jaar op aanklagte van bedrog. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Volgens Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het Mhlakaza, wat aptekerswese studeer het, skuld erken. Hy het in ʼn pleitooreenkoms erken dat hy deel was van ’n bedrogspul waarin toelaes vir finansieel benadeelde studente en salarisse van akademiese personeel na sy bankrekeninge herlei is.

“Minstens 81 studente, van wie sommige uiteindelik weens finansiële uitdagings die universiteit verlaat het, is deur dié bedrogspul geraak,” sê Tyali.

In die pleitooreenkoms beweer Mhlakaza dat hy deur ’n werknemer van die universiteit wat by die finansiële hulpburo-afdeling werk, genader is. Volgens Mhlakaza het die werknemer sy (Mhlakaza se) bankrekeningbesonderhede gevra om geld daarin te deponeer. Mhlakaza sê weens die finansiële uitdagings wat hom in die gesig gestaar het, het hy toe sy besonderhede vir die werknemer gegee.

“Mhlakaza het nie die naam van die werknemer aan die owerhede bekend gemaak nie.”

Volgens die ooreenkoms is tussen R6 000 en R89 000 tussen April en Junie 2016 in Mhlakaza se bankrekeninge gedeponeer.

“Mhlakaza het aan die hof erken dat hy die geld na verskillende bankrekeninge by verskillende banke oorgeplaas het. Hy het ook beken dat hy Intellimali, ’n private maatskappy wat verantwoordelik is vir die verdeling van toelae aan studente, gebel en hom voorgedoen het as ’n kwalifiserende student wat toelaes wil nagaan en hul bankbesonderhede wil verander. Intellimali-amptenare sou dan fondse verskuldig aan hierdie studente in sy [Mhlakaza] verskillende bankrekeninge deponeer.”

Die universiteit het ’n interne ondersoek van stapel gestuur nadat alarm gemaak is deur een van die studente wie se toelae nie in haar rekening betaal is nie. Die ondersoek het aan die lig gebring dat geld van die Motsepe-stigting en die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) na Mhlakaza en ander persone herlei is.

“Die daaropvolgende ondersoek deur die polisie se provinsiale kommersiële ondersoek het gelei tot Mhlakaza se inhegtenisneming in Mei verlede jaar. Hy is saam met sy makkers, Nolufefe Matera, Sibongiseni Matshamba en Loyiso Siyo, in hegtenis geneem en vir bedrog aangekla. Die drie het onskuldig gepleit en hul verhoor, wat op 16 Maart plaasvind, is van Mhlakaza s’n geskei.”

Die staatsaanklaer, adv. Ncedo Buso, het die hof versoek om Mhlakaza tot direkte gevangenisstraf van nie minder nie as 15 jaar te vonnis. Hy het aangevoer dat nie eens ’n enkele sent van die geld wat deur Mhlakaza bedrieg en gewas is, teruggevind is nie.

“Die aanklaer het bygevoeg dat Mhlakaza se skulderkenning nie ’n teken van berou was nie, maar hy het gesien dat die getuienis teen hom oorweldigend was.”

Met die uitspraak van die vonnis het landdros Shylock Ndengezi met die staatsaanklaer saamgestem.

Ndengezi het amptenare van die universiteit wat die hofsaak bygewoon het, gewaarsku dat die meesterbrein agter die uitgebreide bedrogspul steeds onbekend en in hul midde is. Mhlakaza het tot die dag van sy vonnis geweier om dié persoon se identiteit bekend te maak.

Ndengezi het Mhlakaza in die hof aangespreek en gesê dat sy optrede verreikende en verwoestende gevolge vir die toekoms van arm studente het.

Maroela Media het vroeër berig Sibongile Mani, ook ʼn oudstudent aan WSU, is verlede week skuldig bevind daaraan dat sy honderde duisende rand van die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) geblaas het.

Mani het sowat R800 000 verduister nadat R14 miljoen in Junie 2017 verkeerdelik in haar rekening inbetaal is. Sy het ʼn gedeelte van die geld op allerlei luukshede soos slimfone en ontwerpersklere uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mellivora ·

18 Jaar vir R1.2 miljoen.
Teen daardie skaal gaan ‘n paar kaders laaank sit.

Elize ·

Sjoe dan behoort Zoempie nooit weer die son te sien nie. Hoop die student hou plek vir Gigaba ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.