Student wat eie lewe neem begrawe

Khensani Maseko. Foto: Instagram

Khensani Maseko, die student van die Rhodes-Universiteit in Makhanda wat haar eie lewe geneem het nadat sy verkrag is, is Donderdag op Vrouedag in Johannesburg begrawe.

Maseko se begrafnis is by Nasrec gehou. Sandiso Maseko, ʼn familielid, het ʼn roerende huldeblyk namens Khensani se ma voorgelees.

“Toe ek jou gevat het om die gr. 1-asseseringstoets te skryf, het jou telling die maatstaf ver oorskry. Toe ek gekyk het hoe jy aan die 100 m deelneem, het jy soos ʼn sterretjie gehardloop. Toe jy na jou matriekdans is, het jy gesê jy soek ʼn rok wat blink want jy het gesê jy wil soos ʼn kandelaar skitter. Toe jy universiteit toe is, het jy aanhou skitter…”

Volgens die ma was haar dogter ʼn rolmodel vir mense rondom haar. “Jy was ʼn modelkind, ʼn inspirasie vir my en die familie. Vriende en bure het opgekyk na jou. So, ek wil vandag vir die Here dankie sê vir die 23 jaar wat Hy jou vir ons gegee het om te deel. In dié tyd het ons intieme oomblikke gedeel en ek sal dit koester tot ek doodgaan. Ek weet nie hoe ek sonder jou kan aangaan nie, maar ek vertrou op God dat ons deur dié verwarrende tyd in ons lewe sal kom.”

Die 23-jarige BA-student was besig met haar finale jaar toe sy verlede week by haar ouerhuis in Alberton, Johannesburg, dood aangetref is. Sy het aan depressie gely nadat sy verkrag is, vermoedelik deur ʼn kêrel wat ook aan Rhodes studeer. Die voorval het in Mei plaasgevind.

Maseko was deel van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) in 2016 en het net voor haar selfmoord ʼn ontstellende boodskap op Instagram geskryf: “Niemand verdien om verkrag te word nie.”

Maseko het die voorval in Julie by die universiteit aangemeld. Volgens Daily Dispatch, die Oos-Londense koerant, het ʼn woordvoerder van die universiteit, Veliswa Mhlope, gesê die universiteit het met haar familie kontak gemaak nadat sy die verkragting aangemeld het.

Die gesin het na Makhanda gereis vir ʼn vergadering met die bestuur van die universiteit. Die gesin het daarna besluit om Khensani vir ʼn ruk lank huis toe te bring en Rhodes het ingestem om die saak op te volg. Sy sou later na die universiteit terugkeer om terugvoer oor die saak te kry.

Rhodes het Maandag aangekondig dat hy ʼn kennisgewing uitgereik het om die beweerde verkragter te skors.

Die universiteit het Maandag en Dinsdag akademiese aktiwiteite opgeskort om Maseko se lewe te gedenk en die soeklig te plaas op geslagsgebaseerde geweld en verkragting. Die nabygeleë Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth het ook klasse opgeskort toe studente teen die verkragting van vrouestudente op die kampus betoog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nita ·

Skokkend die voorkoms van verkragtings en moorde aan Suid-Afrikaanse universiteite. Geen dissipline en reels meer nie. In die ou dae(ja, lag maar) het mans en vroue studente nie vryelik oor en weer in mekaar se kamers gekuier nie. Drank was nerens op kampus toegelaat nie. Streng koshuisreels het gegeld. jy het daarby gehou of jy moes jou goed vat en loop.

SNEL ·

Hartseer dat haar dood eers moes lei tot die ontslag van daardie skuldige student. Dink sy het gevoel niemand glo haar nie en almal kyk vir haar en oordeel haar en dan moes sy nog elke dag op kampus in hom vas kyk. Hoekom moet goed eers altyd hand uit ruk voordat daar opgetree word. So baie mense sit om mens met seer en pyn en as hulle selfmoord pleeg sê almal; hoekom het hulle nie gevra vir hulp nie. Help as jy sien mense kort hulp, moet nie altyd wag dat hulle vra nie. Baie seer en hartseer daar buite. Ons is God se hande en voete. Dis soos om al die kos met n ete op te eet en te bid dat God die res van jou gesin voer. Hy het ons hier gesit om te help en deel met ander. Al is dit net n oor wat luister of ondersteuning, maar ons is hier om mekaar te dra en te help. Ons is God se hande en voete op aarde. My hart gaan uit na hierdie ouers toe. So n pragtige mensie, so baie om nog voor te geleef het, sy het so goed gedoen in alles, wens meer hande het uitgereik na haar en haar ondersteun. Baie sterkte aan haar ouers. Vir die wat so voel 1Kor 15:26 laaste vyand wat vernietig word is die dood, die dood is ons vyand, veg om te bly lewe tot God jou kom haal.

Vra Net ·

Jammer oor ‘n lewe wat verloor is en ook die rede daarvoor.
RIP
Was sy ‘n lid van die eff? Lyk my so as ek op ander webtuistes kyk.

Ella ·

Wat de hel het dit met die inhoud & strekking van die berig te doen?

Ander Annie ·

Dit is tragies dat hierdie mooi Jong kind so moes sterf. Ek huil saam met haar ouers. Verkragting is ‘n groot NEE!!! “Vra net” dit maak tog sekerlik nie saak wat haar politieke uitgangspunt is nie. Mag haar ouers en geliefdes vertroosting vind. RIV

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.