Student wil oorlede pa ‘in sterre soek’

Micaela Liebenberg het sewe onderskeidings ontvang [Foto: Verskaf]

’n Jong skoolverlater wil haar pa onthou deur voort te bou op die passie wat hulle al twee vir die sterre gedeel het. Daarom het Micaela Liebenberg (18) ingeskryf vir ’n kursus in fisika aan die Universiteit van Pretoria. Haar einddoel is om ’n astrofisikus te word, sodat sy haar pa “in die sterre kan soek”.

Liebenberg het die afgelope matriekeksamen aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria met sewe onderskeidings geslaag.

Haar pa, Danie Liebenberg (63), is in 2015 onverwags uit haar lewe geruk toe hy in ’n motorongeluk oorlede is. Vir haar was haar pa haar “alles”.

“Hy het altyd vir my gesê om na die sterre te mik en my drome na te streef,” vertel Liebenberg.

Liebenberg het onderskeidings behaal in Afrikaans huistaal, lewensoriëntering, Engels huistaal, fisiese wetenskap, lewenswetenskap en Duits tweede addisionele taal. Sy het 91% in fisiese en lewenswetenskappe behaal en wiskunde met ’n trotse 89% geslaag.

Micaela Liebenberg sê sy wil haar pa in die sterre soek [Foto: Verskaf]

Fisiese en lewenswetenskappe was nog altyd haar gunstelingvakke en sy het van kindsbeen af ’n liefde daarvoor gehad om wetenskaplike inligting in te win en te ontleed. Sy sê dit verskaf haar ook baie genot om wetenskaplike teorie op die alledaagse lewe toe te pas.

Sy sê haar pa het by haar ’n liefde en passie vir die heelal en veral kosmologie (sterrekunde) gekweek.

“My pa het altyd ’n boek oor ’n wetenskaplike of wetenskap op sy tafel gehad. Ek het altyd as kind dit gesit en deurkyk, al het ek nie altyd verstaan wat ek lees nie. Hy het later my belangstelling in daardie rigting aangemoedig deur vir my sulke boeke te koop en dokumentêre te wys.”

Liebenberg sê sy kon eindelose gesprekke met haar pa oor die sterre voer.

Danie was ’n ingenieur, maar het net voor sy dood as projekbestuurder by sy eie konstruksiemaatskappy gedien.

‘Styg bo omstandighede uit’

Liebenberg moes as matrikulant talle uitdagings trotseer, maar het deurgedruk en steeds presteer.

Liebenberg se ma, Karin, was heeljaar uitstedig vir werk en sy was genoop om koshuis toe te gaan. Dit was vir haar ’n groot uitdaging om in matriek vir die eerste keer ooit in ’n koshuis te moet bly.

Sy het naweke by familie en vriende gebly en het gevolglik voortdurend as’t ware tussen huise gespring.

“Dit was ’n groot aanpassing om vir die eerste keer in my lewe op my eie twee voete te moet staan, maar ek het kosbare lesse daaruit geleer.”

Haar ma het ook met haar gesondheid gesukkel wat tussendeur die eksamenstres ook ’n groot bekommernis vir Liebenberg was.

“Ek het net die kopskuif gemaak om my uitdagings aan te pak en te oorwin. Ek het deurgedruk deur heeltyd my toekomsvisie in gedagte te hou. Ek wou my pa en ma trots maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Fantasties.

Shakespeare

Voorspoed en baie geluk meisiekind.

ES

Sterkte meisiekind – streef jou drome na!

lollapot

Pragtig! Vryf die sterrre blink my pop! Liefde, n Oud Affie xxx

Yvonne

Doen so voort meisiekind…supertrots op jou