Studente deur onstuimige see meegesleur

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Twee mans word vermis nadat hulle Saterdagmiddag tydens onstuimige seetoestande by die Strand in die Wes-Kaap deur die see meegesleur is.

Alan Meiklejohn, Gordonsbaai-bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê bemanningslede is omstreeks 15:10 na die toneel ontbied nadat lewensredders gemeld het dat twee jong mans en twee jong vroue by ʼn gebied genaamd Pipe die see in getrek is.

Die vier het glo saam met ʼn kerkgroep van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in die see geswem by ʼn gebied waar swem verbode is. Volgens Meiklejohn was dit ʼn hele ent weg van waar lewensredders by die swemstrand aan diens is. Die gebied is ʼn gewilde plek vir branderplankryers omdat baie groot branders daar voorkom.

“Die Strand-lewensredders is omstreeks 15:00 ontbied en het hulle na die toneel gehaas. Daar het hulle een vrou gevind wat deur ander groeplede gehelp is om uit die water te kom. Lewensredders het die tweede vrou gered,” het Meiklejohn gesê. Een van die vroue is vir simptome van byna-verdrinking behandel.

Hy het gesê lewensredders het na die twee vermiste mans gesoek, maar moes hulle weens die stormagtige seetoestand noodgedwonge aan die reddingspoging onttrek toe ʼn seereddingsboot by die toneel opgedaag het.

Seereddingsbote, NSRI-reddingswemmers, die Kaapstadse duik-en-reddingseenheid, die polisie se duikeenheid, die provinsiale nooddienste en verskeie ander dienste was vinnig op die toneel om met die soektog na die twee mans te help.

“ʼn Nooddiens-helikopter het ook by die soektog aangesluit, maar ten spyte van ʼn uitgebreide soektog vanuit die lug, in die water en al langs die kuslyn, was daar geen teken van die twee mans nie,” het Meiklejohn gesê. “Die seetoestande was stormagtig met tot drie meter hoë branders in ʼn wind van tot 50 knope met swak sigbaarheid in die water.”

Die twee mans, onderskeidelik 19 en 20 jaar oud, is vermoedelik studente by UWK.

Die polisie het die res van die kerkgroep bygestaan en die groep is later met busse van die toneel af geneem. Die polisie se duikeenheid sit vandag die soektog voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Landrot ·

Tragies, UITERS tragies. Nee-wat ek bly UIT die see!! Ja, ek is ‘n rot wat kan swem en ook goed watertrap. Sowat 65 jaar gelede het ek saam met my ouers in die Gordonsbaai-omgewing gery waar die kruise op die rotse gestaan het langs die see. Op navraag aan my ouers oor die kruise was die antwoord: “Dis die mense wat van die rotse afgeslaan is deur fratsbranders”. Dit sal my altyd bybly.

Christa ·

Waarom wil mense altyd swem waar dit verbode is. Die see is so groot en daar is so baie plek om te swem!!!!

Carin ·

Mense moet onthou om altyd aan die “kant” van ‘n seestroom “uit” te swem, anders gaan jy jouself net uitput. Ongelukkig was dit ‘n te stormagtige dag. Ek stem, moet nooit swem waar swem verbode is. Dit sê juis verbode omdat die see daar te rof is. My innige simpatie met die families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.