Drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Delia Adonis, ʼn skoonmaker, aangerand het, is op borgtog vrygelaat.
William Booth, die drie se regsverteenwoordiger, het gesê hy het Woensdagmiddag ʼn dringende aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof gebring waarna die drie beskuldigdes op borgtog vrygelaat is. “Daar was geen regsgronde om hulle aan te hou nie en die landdros was verkeerd om hulle nie al Dinsdag op borgtog vry te laat nie,” het Booth in ʼn SMS aan Sapa gesê.
Volgens Booth het die Wynberg-landdroshof Dinsdag gelas dat hulle in aanhouding moet bly tot Donderdag wanneer hulle weer in die hof verskyn. “Die staatsaanklaer het geen gronde gehad om borgtog teen te staan nie en dit is ongewoon om dit te doen wanneer daar geen regsgeldige rede bestaan om dit te doen nie.”
IOL.co.za het berig dat die verdagtes, waaronder ʼn student van die Universiteit van Kaapstad, van poging tot moord aangekla is in verband met die aanranding op Adonis. Hulle is ook van aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen injuria aangekla.
The Star het Maandag berig Adonis is deur vyf universiteitstudente by die Stadium on Main-winkelsentrum in Claremont aangerand. Sy het glo gesien hoe die mans ʼn ander man aanrand toe hulle uit ʼn nagklub gekom het, waarna sy hulp ontbied het. Die mans het haar toe glo later aangerand en gevra hoekom sy die ander man gehelp het.
Sy wou net help glo ek, omdat sy self ‘n mamma is en toe doen die buffels dit…. Nee manne, gaan dat jul opvoeding kry…..