Studente moet hulself kan beskerm, sê AfriForum

'n Skermskoot uit die video waar lede van EFF studente van Tuks uitgedaag het (Betoging tydens die openbare vergadering oor die taalbeleid van die UP, 18 Februarie 2016)

‘n Skermskoot uit die video waar lede van EFF studente van Tuks uitgedaag het (Betoging tydens die openbare vergadering oor die taalbeleid van die UP, 18 Februarie 2016)

AfriForum ondersteun die reg van AfriForum Jeug-lede en ondersteuners om hulself binne die raamwerk van die wet teen die EFF en ander radikale groepe se aggressiewe dade by die Universiteit van Pretoria (UP) en ander kampusse te beskerm.

“Om dié rede het AfriForum sy regspan opdrag gegee om die feit dat AfriForum en AfriForum Jeug ook by die interdik ingesluit is wat die UP-bestuur teen die EFF bekom het, in die hof teen te staan,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Kriel wys beeldmateriaal van Donderdag se gebeure op UP duidelik dat die EFF die aggressors was en dat AfriForum Jeug hulself geensins skuldig gemaak het aan dié tipe optrede wat die UP-bestuur nou met die interdik probeer verhoed nie. “AfriForum is trots op die selfbeheersing wat AfriForum Jeug getoon het toe hulle hulself en die kampus vreedsaam teen die uitdagende en aggressiewe optrede van die EFF verdedig het,” het hy bygevoeg.

Volgens Kriel wil AfriForum Jeug se lede en ondersteuners hulle studies in ’n vreedsame omgewing voortsit en kan hulle nie net terugsit wanneer die EFF klasse ontwrig en die kampus vandaliseer nie.

Hy het daarop gewys dat die UP-bestuur se besluit om AfriForum Jeug by die interdik in te sluit, bevestig dat die universiteit se bestuur nie in staat is om die EFF se aggressiewe optrede te beheer nie en nou na strooihalms gryp deur ander partye by die saak in te sleep.

Die EFF en ander radikale groepe se aandrang dat Afrikaans as onderrigtaal by universiteite geskrap moet word, is volgens Kriel ’n aanduiding van dié groepe se “anti-Afrikaanse rassisme in terme waarvan Afrikaanse studente as politieke slaansakke op kampusse gebruik word”. Hy het die onbillike behandeling van twee studente wat by die Universiteit van Stellenbosch (US) se persgesigdebakel betrokke was as voorbeeld hiervan uitgewys. “Die feit dat Afrikaanse studente sterk hierteen begin standpunt inneem – soos met AfriForum Jeug se optrede by US – begin reeds vrugte afwerp met onder meer die rektor van US wat ’n onafhanklike ondersoek na die US se hantering van die persgesigdebakel gelas het.”

Volgens Kriel sal AfriForum aanhou om te doen wat nodig is om Afrikaans en Afrikaanse studente se regmatige plek aan universiteite en in skole te beskerm.

Lees alle vorige berigte oor Tuks / Universiteit van Pretoria op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Dagvaar die eff vir skadevergoeding vir die ekstra kostes aangegaan vir ekstra sekuriteit ,open sake by die sapd vir aanranding daar is video materiaal wat onbetwisbaar is in die hof en haal die moeilikheid makers so uit.

Piet Snot

Julle manne moet self besluit wat jul strategie gaan wees, maar my beskeie mening is dat elke EFF-lid teen wie daar ‘n goeie saak uitgemaak kan word, van aanranding aangekla moet word. Dis tog een van die redes waarom jy self nie terugslaan nie.
Julle manne is die voorvegters in ‘n stryd vir geregtigheid, en een van jul wapens is die kriminele howe.
Ai, vertel ek nou vir Afriforum se manne om die hof te gebruik. Asof hulle dit nie self al agtergekom het nie!
Doe zo voort!

Marous

Trots op ons seuns! Geen teken van vrees of dat hulle geintimideer kan word nie…

Flippie

Ek weet Solidariteit en Afriforum hou nie van geweldadige verset nie. En daarom word geen kommentaar wat lyk of dit geweld goedpraat geplaas nie. Ek dink dit is kortsigtig, want die Afrikaner/Boer word toenemend in sy land van geboorte gereduseer tot ‘n laer orde burger. Dit nieteenstaande ltalle hofsake en allerlei vreedsame aksies absoluut niks vir die EFF ANC eon SAKP nie. Hulle is absoluut net nie gepla nie. In hulle oë gaan niks hulle keer om die Afrikaner/Boer totaal aan hulle gesag te onderwerp nie. Hulle sal ook nie rus totdat dit so is nie. In die begin was… Lees meer »

Ant

Boekenhout klonge, mooi so manne, dink ou Wilko sal nou trots wees.