Studente moet hulself kan beskerm, sê AfriForum

'n Skermskoot uit die video waar lede van EFF studente van Tuks uitgedaag het (Betoging tydens die openbare vergadering oor die taalbeleid van die UP, 18 Februarie 2016)

‘n Skermskoot uit die video waar lede van EFF studente van Tuks uitgedaag het (Betoging tydens die openbare vergadering oor die taalbeleid van die UP, 18 Februarie 2016)

AfriForum ondersteun die reg van AfriForum Jeug-lede en ondersteuners om hulself binne die raamwerk van die wet teen die EFF en ander radikale groepe se aggressiewe dade by die Universiteit van Pretoria (UP) en ander kampusse te beskerm.

“Om dié rede het AfriForum sy regspan opdrag gegee om die feit dat AfriForum en AfriForum Jeug ook by die interdik ingesluit is wat die UP-bestuur teen die EFF bekom het, in die hof teen te staan,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Kriel wys beeldmateriaal van Donderdag se gebeure op UP duidelik dat die EFF die aggressors was en dat AfriForum Jeug hulself geensins skuldig gemaak het aan dié tipe optrede wat die UP-bestuur nou met die interdik probeer verhoed nie. “AfriForum is trots op die selfbeheersing wat AfriForum Jeug getoon het toe hulle hulself en die kampus vreedsaam teen die uitdagende en aggressiewe optrede van die EFF verdedig het,” het hy bygevoeg.

Volgens Kriel wil AfriForum Jeug se lede en ondersteuners hulle studies in ’n vreedsame omgewing voortsit en kan hulle nie net terugsit wanneer die EFF klasse ontwrig en die kampus vandaliseer nie.

Hy het daarop gewys dat die UP-bestuur se besluit om AfriForum Jeug by die interdik in te sluit, bevestig dat die universiteit se bestuur nie in staat is om die EFF se aggressiewe optrede te beheer nie en nou na strooihalms gryp deur ander partye by die saak in te sleep.

Die EFF en ander radikale groepe se aandrang dat Afrikaans as onderrigtaal by universiteite geskrap moet word, is volgens Kriel ’n aanduiding van dié groepe se “anti-Afrikaanse rassisme in terme waarvan Afrikaanse studente as politieke slaansakke op kampusse gebruik word”. Hy het die onbillike behandeling van twee studente wat by die Universiteit van Stellenbosch (US) se persgesigdebakel betrokke was as voorbeeld hiervan uitgewys. “Die feit dat Afrikaanse studente sterk hierteen begin standpunt inneem – soos met AfriForum Jeug se optrede by US – begin reeds vrugte afwerp met onder meer die rektor van US wat ’n onafhanklike ondersoek na die US se hantering van die persgesigdebakel gelas het.”

Volgens Kriel sal AfriForum aanhou om te doen wat nodig is om Afrikaans en Afrikaanse studente se regmatige plek aan universiteite en in skole te beskerm.

Lees alle vorige berigte oor Tuks / Universiteit van Pretoria op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Michael ·

Dagvaar die eff vir skadevergoeding vir die ekstra kostes aangegaan vir ekstra sekuriteit ,open sake by die sapd vir aanranding daar is video materiaal wat onbetwisbaar is in die hof en haal die moeilikheid makers so uit.

Andrea van Vuren ·

Nee Michael. Die saak sal uitgegooi word a.g.v ‘not enough evidence’!

Piet Snot ·

Julle manne moet self besluit wat jul strategie gaan wees, maar my beskeie mening is dat elke EFF-lid teen wie daar ‘n goeie saak uitgemaak kan word, van aanranding aangekla moet word. Dis tog een van die redes waarom jy self nie terugslaan nie.
Julle manne is die voorvegters in ‘n stryd vir geregtigheid, en een van jul wapens is die kriminele howe.
Ai, vertel ek nou vir Afriforum se manne om die hof te gebruik. Asof hulle dit nie self al agtergekom het nie!
Doe zo voort!

Marous ·

Trots op ons seuns! Geen teken van vrees of dat hulle geintimideer kan word nie…

Flippie ·

Ek weet Solidariteit en Afriforum hou nie van geweldadige verset nie. En daarom word geen kommentaar wat lyk of dit geweld goedpraat geplaas nie.

Ek dink dit is kortsigtig, want die Afrikaner/Boer word toenemend in sy land van geboorte gereduseer tot ‘n laer orde burger. Dit nieteenstaande ltalle hofsake en allerlei vreedsame aksies absoluut niks vir die EFF ANC eon SAKP nie. Hulle is absoluut net nie gepla nie.

In hulle oë gaan niks hulle keer om die Afrikaner/Boer totaal aan hulle gesag te onderwerp nie. Hulle sal ook nie rus totdat dit so is nie.

In die begin was dir ANC/EFF en hulle meelopers veprsigtig vir die Boere, maar nou minag hulle ons. Want weet julle want hulle het gesien ons kan absoluut niks teen hulle doen nie, al doen hulle wst.

Die Engelse het ‘n spreekwoord wat sê: “Nice guys come second”. Miskien moet ons ophou om “nice” te wees.

FJV ·

Ongelukkig is dit so! Ook met ons Regering. Hulle reageer net op geweld. Zuma self het nou die dag sy definisie van demokrasie verduidelik: “the majority rules ….” daarmee saam geen verwysing na die beskerming van die mindehede. Ons sal moet aanhou aktief terug druk anders gaan daar binnekort niks oor wees van ons kultuur en (geordende) manier van dinge doen. In die publieke universitieite is die oorweldigende swartkultuur getalle van so ‘n aard dat al “wen” ons hofsake en beinvloed die universiteitsreels om Afrikaans te beskerm, dit in die praktyk baie moeilik toegepaas sal kan word. Verder sal die ANC/EFF druk en benadering van verwoesting en geweld ‘n situasie skep dat die “goeie kwaliteit” student, lektore, navorsers, belegers, etc. eenvoudig sal wegloop. Sulke mense wil net leer en/of werk en het nie tyd of lus vir sulke deurmekaar gemors soos wat nou aan die gaan is nie. Ons sal moet veg en werk vir private enkelmedium Afrikaanse universiteite.

Ant ·

Boekenhout klonge, mooi so manne, dink ou Wilko sal nou trots wees.

Chris N ·

Ja de Klerk waar is al jou wigte en teen wigte? En nou is jy ook tjoep stil. Wanneer gaan jy bieg vir al jou mislukkings? Leon Wessels en Roelf Meyer.

FJV ·

Kom nou, Chris! Water ander opsies was daar? Om teen die hele wereld te baklei? Vir iets wat fundamenteel verkeerd was? Wat die swaart gemeenskape destyds voor geveg het is basies dieselfde wat ons nou doen: selfbeskikking. Die geveg nou gaan oor die beskerming van minderhede, waaronder ons sorteer en die feit dat die meerderheids regering nie dit beskerm nie. Wat ons nou ervaar maak nie destyds se besluit verkeerd nie. Net ter inligting – dit was nie de Klerk en Kie wat dit besluit geneem het nie die was die meerderheid wit mense.

André ·

Baie trots op die jong mense wat vas staan. Ons moet begin opstaan teen hierdie rasiste! Afrikaners is hier om te bly! Dankie ook vir Afriforum wat die studente bystaan. Julle moet net laat weet wanneer ons moet kom bystaan. Ek voorsien dat daar binnekort op die res van ons se knoppie gedruk gaan word. Ek hoop net die mense sal dan saamstaan en nie net kla op elektroniese media nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.