Studente ondersteun Pukke se SR-voorsitter

Monica van Schalkwyk. Foto: Facebook

Monica van Schalkwyk. Foto: Facebook

Die Studenteraad van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus ondersteun die standpunt wat Monica van Schalkwyk oor veto-stemreg vir die ISR ingeneem het voor haar skorsing, asook haar optrede om haar posisie te herstel.

Maroela Media het vroeër berig Van Schalkwyk, studenteraadsvoorsitter van die Potchefstroomkampus, is glo onregmatig van die Institusionele Verteenwoordigende Studenteraad (ISR) geskors nadat sy die ISR se voorstel om veto-stemreg te implementeer, teengestaan het.

“Die Noordwes-Universiteit is ʼn instelling saamgestel uit drie kampusse, naamlik Mafikeng, Potchefstroom en Vaaldriehoek,” het die Studenteraad van die Puk in ʼn verklaring verduidelik. “Elke kampus beskik oor sy eie kampusstudenteraad (SR) wat studenteaangeleenthede op die onderskeie kampusse hanteer en koördineer. Uit hierdie drie studenterade word daar elke termyn ʼn ISR saamgestel, wat uit vier lede van elke kampus se studenteraad bestaan. Die voorsitters van die kampusstudenterade is outomaties deel van dié vier kampusverteenwoordigers op die ISR en dien ook op die Raad van die NWU. Alhoewel die skorsingsbrief geen rede vir die skorsing verskaf nie, het die skorsing na bewering geskied nadat daar standpunt ingeneem is deur Van Schalkwyk rakende ʼn ISR Grondwet-wysiging. Die wysiging sou tot gevolg hê dat besluite van ISR nie meer geneem word op die basis dat die kampusverteenwoordigers saamstem oor ʼn besluit nie, maar dat besluite geneem word sonder die instemming van al die lede van die ISR. Dit sou beteken dat die ISR besluite oor kampusaangeleenthede kon neem, sonder dat hulle deur dié betrokke kampusse verkies is of hulle verteenwoordig.”

Van Schalkwyk het intussen ʼn prokureursbrief aan die universiteit gestuur waarin sy eis dat die skorsing voor of op 6 Maart teruggetrek word. Indien die universiteit nie hieraan gehoor gee nie sal Van Schalkwyk se regsverteenwoordigers om ʼn dringende hofbevel aansoek doen.

“Ons ondersteun haar ten volle hierin aangesien sy in die beste belang van die Potchefstroomkampus spesifiek en die Universiteit in geheel opgetree het,” het die SR bygevoeg. “Ons as NWU-Potchefstroomkampus Studenteraad plaas ons vertroue in die NWU se Institusionele bestuur en spesifiek die visekanselier, prof Dan Kgwadi, om die onregmatige skorsing wat die ISR opgelê het, ongedaan te verklaar. Dit sal aan Van Schalkwyk die geleentheid herstel om die studente wat haar verkies het op die ISR asook die Raad van die NWU verder te verteenwoordig en optree in die beste belang van die Universiteit.”

Die SR het dit benadruk dat studente op ʼn kampus die reg tot vryheid moet hê om oopkop te kan dink, hul opinies te kan lewer, hul eie sake te kan bestuur en só gesamentlik ʼn bydra kan lewer tot die kampus en die groter Universiteit se doeltreffende funksionering. “As akademiese instelling wil ons verantwoordelike landsburgers oplewer en daarom moedig ons gesonde debat aan sodat alle studentestemme gehoor kan word,” lui die verklaring. “Ons ondersteun die feit dat daar opgestaan is vir eienaarskap oor ons kampusse en glo dat dit voordelig is vir die hele instelling dat elke studenteraad verantwoording doen oor sy eie kampus. Die ISR se rol moet en kan nie meer wees as wat tans in die konstitusie en statuut verwoord is nie.”

Die SR versoek die Potchefstroomkampusstudente se ondersteuning in hierdie saak en moedig hulle aan om saam te staan die kampus en studentelewe.

Lees alle vorige berigte oor die Puk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.