Studente ruk op na stadsaal oor medestudent se dood

‘n Vorige betoging deur studente wat eis dat iemand vervolg word in verband met Mlungisi Madonsela se dood. Dié foto is in Februarie 2019 geneem. (Foto: Doctor Ngcobo/African News Agency)

Studente van die Durban Universiteit van Tegnologie (DUT), asook ander gelei deur die EFF Studentekommando, sal na verwagting Maandag na die Durbanse stadsaal opruk om “geregtigheid te eis” vir die gestorwe student Mlungisi Madonsela.

Vandag, 5 Augustus, is presies ses maande sedert Madonsela geskiet is gedurende ʼn onderonsie met veiligheidswagte by die DUT. Hy het later in die hospitaal gesterf.

Sandiso Buthelezi, die sameroeper van die optog, het Sondagaand aan African News Agency (ANA) gesê die studente sal vanaf Currie Fountain tot by die stadsaal stap waar hulle ʼn memorandum van eise aan die Nasionale Vervolgingsgesag en die provinsiale polisiekommissaris sal oorhandig.

“Ons soek geregtigheid vir ons studente en ons soek geregtigheid vir Mlungisi Madonsela. Die NVG het gesê hulle gaan niemand vervolg nie, want hulle het nie genoeg bewyse nie,” het Buthelezi gesê.

“Ons het ʼn komitee saamgestel wat al lank gelede besluit het ons sal veg vir geregtigheid vir Mlungisi, en daarom het ons die optog gereël. Almal wat betrokke was by die moord moet verantwoordelikheid neem.”

In die dae voor Madonsela se dood op 5 Februarie vanjaar het studente by verskeie tersiêre instansies in KwaZulu-Natal gewelddadige protesaksies van stapel gestuur by die onderskeie kampusse. Hulle het betoog teen onvoldoende of geen akkommodasie en probleme met toegang tot studentefinansiering.

Sporadiese en dikwels gewelddadige en verwoestende betogings oor dieselfde kwessies het sedertdien elke nou en dan weer opgevlam.

Mlungisi Madonsela. (Foto: ANA)

Madonsela was deel van ʼn groep van ongeveer 30 studente, gewapen met bakstene en klippe, wat probeer het om die DUT-administrasiegebou te storm om toegang tot die instansie te kry toe hy geskiet is.

DUT-personeellede is ook ernstig beseer gedurende die geweld – ʼn vrouestudenteraad-administrateur is in die hospitaal opgeneem met ʼn gebreekte neus nadat sy met ʼn baksteen in die gesig getref is. Nog ʼn personeellid se eggenote is ook ernstig beseer tydens die voorval.

Weke ná Madonsela se dood het die DUT afgekondig dat 5 Februarie voortaan ʼn dag van herdenking by die instansie sal wees.

Buthelezi het aan ANA gesê kerke, burgerlike organisasies en studente van ander kampusse het aangedui dat hulle by vandag se optog sal aansluit. “Dit kan nie reg wees dat ʼn student doodgemaak word nie. Ons soek net geregtigheid,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Keelvol

Dit is jammer iemand het in die situasie gesterf. Dit is ‘n probleem wat deur hulle geskep is en nou eis hulle iemand moet boet.
Hoeveel van die studente is in hegtenis geneem? Die persone wat met bakstene gegooi het en die dame se neus gebreek het moet mos aangekla word vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Hulle eie nonsens het op iemand geboemerang en nou moet iemand boet. Iemand behalwe hulleself. As die studente hulle gedra het , het niks gebeur nie. ahet hulle al ooit gedink dat hulle verantwoordelik ws vir die sterfgeval?

Rooikappie

Studentekommando? Wil die ouens oorlog maak of studeer? Tyd dat elke buurt in die stede ook sy eie kommando begin om eiendom te beskerm, asook in landelike gebiede. As die EFF studente dit kan doen, dan kan almal dit doen!

Wielspore

Die studente is op die kampus op my en jou onkoste, hulle betaal nie self om kastig te studeer, gevolglik is dit vir hulle ‘n groot jol. Vogende jaar is hulle weer terug of hy nou geslaag het of nie, dit gaan aanhou tot hulle 30 jaar oud is, dan is hulle werkloos want hulle is slapgat.
Dit alles omdat daar geen waardering is en die voorreg daarin gesien kan word, om te kan studeer.

Koos

Dis nie reg dat n student wat gewapen is bakstene en klippe doodgemaak word nie maar dis maar reg dat n ou mense op plase en boere en families wat ongewapen is dood gemaak word. Wat is regverdig daaraan?

Sarel

As julle nie daardie dag betoog het op die manier wat julle besluit het nie, was hierdie lid nog met julle.
Wie is nou eintlik verantwoordelik?