Studente, veiligheidswagte bots by UJ

Universiteit van Johannesburg Foto: Aurobindo Ogra - Eie werk. via Wikimedia Commons

Universiteit van Johannesburg Foto: Aurobindo Ogra – Eie werk. via Wikimedia Commons

Geweld het Donderdag by die Universiteit van Johannesburg uitgebreek tydens ʼn onderonsie tussen studente en werkers met veiligheidspersoneel tydens betogings teen kontrakwerk by die instansie.

ʼn Groep studente het by die werknemers, hoofsaaklik skoonmakers, aangesluit en hulle het buite die kampus betoog toe privaat veiligheidswagte en die betogers slaags geraak het.

Drie persone is na ʼn hospitaal geneem nadat veiligheidswagte hulle met pepersproei gespuit het toe hulle die groep wou verjaag. Die betogers, waaronder ouer vroue, is glo geskop en hardhandig behandel.

Die instansie het bykomende veiligheidswagte aangestel ná betogings Maandag by die kampus begin het.

Die studente het Woensdag die privaat firma van aanranding beskuldig tydens ʼn vreedsame betoging deur die werkers. “Ons is vir geen rede nie geskop en geslaan,” het regstudent Mogapi Kgonare gesê. “Dit is wat die bestuur by die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) op sy studente en werkers losgelaat het, terwyl hulle slegs behoorlike lone eis.”

Kgonare het gesê die studente sal die werkers onder die “beset UJ”-banier ondersteun.

“Die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Kaapstad het direk met bestuur onderhandel,” het hy bygevoeg. “Hoekom kan ons visekanselier [Ihron Rensburg] nie kom om met ons te praat nie? Nou skors hy die SR-leierskap en kry veiligheidswagte om ons aan te rand.”

Die studente het hul eie eise, waaronder dat studenteskuld by die instansie afgeskryf moet word en registrasiefooie gekanselleer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tony ·

Wat de joos het ‘n ‘student’ met die uitkontraktering van dienste te doen? Jaag die spul huis toe en oorweeg volgende jaar heraansoeke vir toelating. Laat die wat hertoegelaat word die jaar herhaal.

Gesie ·

Nou ja toe! Wat wil die klomp belhammels nou nog hê??? Die spreukwoord sê: Koop, koop (in hierdie land ‘gee, gee’) se bek is oop; betaal, betaal se gat is kaal! Van hierdie melkkoei is daar amper net vel en been oor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.