Studente verwerp Nzimande se voorstel

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het Dinsdag, die tweede dag ná gewelddadige studentebetogings landswyd, gesê ʼn ooreenkoms is bereik om die verhoging van studentegelde te beperk tot 6%.

Daar was egter dadelik berigte dat studente dié voorstel verwerp het en daarop aandring dat hulle nie enige verhoging vir volgende jaar sal duld nie.

Nzimande het tydens ʼn perskonferensie gesê aandeelhouers het ʼn ooreenkoms bereik dat studentegelde nie volgende jaar meer as die VPI-verwante verhoging van 6% sal styg nie. Hy het studente gemaan om die aanbod te aanvaar. “Ek doen ʼn dringende beroep op hulle om hierdie aanbod te aanvaar in die belang van die stelsel.”

Wits, Rhodes en die Universiteit van Kaapstad het al vir twee dae lank alle klasse opgeskort. Nzimande het gesê dit is noodsaaklik dat hulle weer oopmaak en het bygevoeg pres. Jacob Zuma het ook die voorstel, wat uit die vergadering gekom het, verwelkom. “Die president het sy verligting uitgespreek dat daar moontlik lig aan die einde van die tonnel is,” het Nzimande bygevoeg. “Ons kan nie, as ʼn land, dit bekostig dat eksamens nie betyds geskryf word nie. Ons is reeds besorg oor die impak wat hierdie verlies op akademiese werk gaan beteken. Dit is ons versoek, dat die partye tot ʼn vergelyk sal kom.”

Adam Habib, visekanselier van Wits, het tydens dieselfde perskonferensie gesê onderhandelinge moet met studente begin indien hulle nie met die voorgestelde verhogings tevrede is nie. Hy het gesê dit sal “verskriklik” wees indien lesings verder ontwrig word en studente nie eksamen kan aflê nie.

Die Universiteit van Pretoria het intussen aangedui dat alle akademiese aktiwiteite en ondersteuningsdienste Woensdag opgeskort word, “om personeel en studente die geleentheid te bied vir ʼn konstruktiewe vergadering oor sleutelkwessies wat hoëronderwysinstellings tans beïnvloed”.

Die spanning bly hoog by die Universiteit van Kaapstad. Betogers het buite die Rondebosch-polisiestasie saamgedrom en gewag dat 23 van hul eweknieë vrygelaat moet word nadat hulle die hoofweg in dié voorstad versper het. Hulle het daarmee gespog dat hulle die voorstad tot ʼn stilstand gedwing het.

Lesings sal ook eers Maandag by die Universiteit van die Witwatersrand hervat. Wits het laat Dinsdagmiddag in ʼn verklaring bevestig daar was ʼn versoek vir ʼn “nasionale dag van solidariteit” wat op 21 Oktober moet plaasvind. “Om die veiligheid en sekuriteit van ons personeel en studente te verseker, het die uitvoerende bestuur besluit om alle universiteitsbedrywighede vir die res van die week op te skort. Dit sluit alle personeel – akademies, professioneel, ondersteunend en administratief – en studente in.

Studente het landswyd begin betoog ná die “Fees must fall”-betoging wat verlede week by Wits begin het oor ʼn voorgestelde verhoging van 10.5% in studentegelde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Winston ·

Hierdie eise is net n dekmantel en word gebruik om elke instelling waar nog orde is aan te val. Alles word ge eis. Die hele debakel kan voor die deur van die ANC regering gelê word. Oorsaak en gevolg. Saai en maai.

Sputnik ·

Ek stem 100% saam. Die boompies moes reg gebuig gewees het toe hulle nog jonk was.

Dalena Vogel ·

Dis n ou truuk van meestal swak studente om gedurende eksamentye te ontwrig. Goeie studente word weggehou van noodsaaklike lesings en eksamens en die ontwrigters wil deurgesit word.

Jaco Grobler ·

Wat ek wil weet is Blade en sy trawante die eskalasie van 10.5 na 6 % kon verlaag na ‘n dag se vergadering. Begrotings vat lank om uit te werk met deeglike beplanning, en elke instelling se benodigdhede is anders. Ek vermoed dit is maar die trant waarop meeste besluite geneem word wat ons land se toekoms bepaal.

ELSABE ·

Hulle kry reeds omtrent alles verniet dan trek hulle dit nogsteeds deur hulle agterstewe!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

JWK ·

16 Junie 1976……Marikana…….Dalk nog ‘n vakansiedag oppad??

Alki ·

En dan is daar volgens mister nzimande geen krisis nie. Daar is niemand so blind soos die een wat nie wil sien nie, en so doof soos die een wat nie wil hoor nie. Die ligte is aan maar daar is niemand by die huis nie.

Henri ·

Verkeerd Alki. Die ligte brand nie eers nie, dis beurtkrag.

neelsie ·

Maak dit gratis vir almal vir die eerste jaar. (net een keer)
As hy druip , verban die persoon van die kampus vir 10 jaar.
Ander sal deur omkoop en bedrog dit kan omseil maar dit sal hulle moontlik laat studeer.
Sou iemand deurgesit word sal hy wel gou- gou uitsak.
Moet net nie toelaat dat die paar onbevoegdes die land aan die brand steek nie!
Wat kan nog gedoen word?
Hulle sal nie ophou voor die ekonomie op sy kniee is nie.
Chaos is deel van hulle daaglikse denkwyse.

Griet ·

Neels, hierdie is een van dis mees sinvolle voorstelle wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Maak die eerste jaar gratis vir almal – onder sekere voorwaardes:
Laat ALMAL ‘n basiese toelatings eksamen skryf, as die student nie die toelatings eksamen slaag nie, gaan hy/sy huistoe. Period. GEEN oproer, GEEN “demands”. VERLAAT DIE KAMPUS ONMIDDELIK!!!

Ek is nie 100% op hoogte met watter toelatings eksamens tans by alle Universiteite van topassing is nie, maar sover ek weet skryf almal in elk geval deesdae ‘n toelatings eksamen vir die meeste rigings (Ingeneurswese, Rekenmeester, Agitek, alle B Sc rigtings, ens) . As die student nie aan die eerste jaar ten minste 90% van sy/haar vakke geslaag het nie, SKOERT! Die vakke wat hulle wel kan “sleep” (soos studente daarna verwys) kan vakke wees vat hulle saam met tweede jaar vakke kan neem, maar dan betaal hulle self vir die tweede probeerslag.

‘n Student wat EEN keer deelneem aan ENIGE oproer, vir ENIGE rede, word verban van die kampus. “No questions asked.”

Gideon ·

Studentestakings en betogings is niks nuuts in die wereld nie en heelwat positiewe gevolge het al daaruit gekom. Hierdie plaaslike studente betoog egter teen dieverkeerde instansie – universiteite – wat bitter min aan die saak kan doen. Die betoging moet teen die regering wees wat ‘n oplossing kan bied. In so ‘n geval kan die stakings positiewe gevolge bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.