Studente woedend oor Unisa-aansoeke

Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Unisa het Dinsdag gesê bedrywighede op die kampus is terug na normaal nadat studente en werkers verlede week op die kampus betoog het, maar talle studente beweer dit is nie die geval nie.

Volgens ʼn verklaring van die universiteit moes alle kampusse en dienssentrums verlede week gesluit word, ter wille van die veiligheid van personeel en eiendom. Hierdie persele is Dinsdag almal heropen. “Unisa-personeel, studente en ander rolspelers van die universiteit het nou vrye toegang tot alle kampusse. Registrasie by alle kampusse gaan voort,” het die verklaring gelui.

Verskeie ontstoke studente het egter op sosiale media teen Unisa uitgevaar en gekla omdat hulle navrae nie beantwoord word nie. Maroela Media het ook klagtes van studente en ouers ontvang wat vertel hulle kan ten spyte van talle pogings geen antwoorde uit Unisa kry oor aansoeke of registrasies nie.

Op Unisa se amptelike Facebook-blad het studente vertel hulle het die spertye van verskeie beurse se aansoeke misgeloop, omdat Unisa glo steeds nie hul aansoeke verwerk het of enige terugvoer op hul navrae gegee het nie. Verskeie studente het vertel Unisa se telefoonlyne is óf deurentyd beset óf word net nooit beantwoord nie.

Sommige studente het gekla hul aansoeke is aanvaar, maar hulle het steeds nie studentenommers ontvang nie, terwyl ander beweer Unisa reageer ook nie op fakse nie.

Maroela Media het Dinsdag en Woensdag verskeie kere probeer om Unisa te bereik via die nommer wat gegee word vir aansoeke- en registrasienavrae, maar dit wil voorkom asof die lyn ontkoppel is. E-posse en SMSe aan die studentehulplyn het ook onbeantwoord gebly.

Maroela Media kon ook nie daarin slaag om die woordvoerder van die universiteit Woensdag per e-pos of telefonies te bereik nie.

Intussen het Unisa op sy webtuiste aangedui die sperdatum vir registrasies is van 30 Januarie na 14 Februarie verleng om studente te akkommodeer. Volgens die inligting op die webtuiste het die universiteit 180 498 nuwe aansoeke vir 2016 ontvang, waarvan 58% reeds verwerk is. Die universiteit het gesê daar is geen agterstand in die verwerking van studenteregistrasies nie en 218 171 studente is reeds vir die jaar geregistreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

D ·

Wat is nuut. Dit is noual jare dat Unisa nie hulle telefone beantwoord nie.

DPJ ·

Wat verwag die studente anders. Fone is daar vir personeel se eie gebruik nie studente se gebruik nie.

E vd Westhuizen ·

Ek het 1 eksamen uitslag uitstaande en kry geen terugvoer wat van my punte of vraestel geword het nie.

Zoey ·

As ek moet vertel van al my klagtes met UNISA gaan ek lank besig wees, jy kry net nooit ooit terugvoer nie, en ja die telefone is duidelik net ‘n ornament in die kantore. Baie dankbaar dat hulle uitstel gegee het tot 14 Februarie, Wag nou nog vir Mei verlede jaar se hermerk waarvoor ons aansoek gedoen het.

Desire ·

Ons wag ook in spanning en die tyd stap aan….waar kan mens nog aansoek doen vir afstandsonderrig?

Fanie ·

Die personeel hou nog vakansie. Al wat sal werk is taxi hooters of vuvuzellas!! Om hulle wakker te maak!!! Hahahaha………..

Johan ·

As jy afstand wil doen in ‘n BA rigting, kan jy die AP Akademie oorweeg. Hulle doen afstand.

Lynette ·

Desire jy kan Kovsies probeer hulle het n e-learning. Ons nou al net so moedeloos met UNISA ons my dogter nou daar ingeskryf. Hulle aansoek sluitingsdatum is 31 Januarie en hulle antwoord hulle fone as jy bel!!

Primaria ·

Registrasies is nie al probleem nie. Ons moet studie materiaal van die web af lees. Jy kan mos nie so leer nie en word dus verplig om jou eie bundels te druk. Vir 4 vakke was net die tutorials en studie gidse meer as 3000 bladsye. Bladsye wat ons teen eie onkoste moet druk al het ons reeds studies betaal. Dis belaglik en diens bestaan nie want niemand antwoord fone die webblaaie werk omtrent elke tweede dag nie en as jy iemand kry kan hulle jou nie help nie. Pathetic

MJ ·

Ai, dis jammer om te sien dat dinge so agteruit gaan. Ek het by Unisa studeer en in 2013 my graad voltooi. Ek het nooit enige probleme ondervind nie. Registrasies (aanlyn) was altyd binne n dag of 2 verwerk, studie gidse was onmiddelik beskikbaar, die dosente het my selfs tegemoet gekom toe ek een keer ‘n eksamen gemis het omdat ek soos my agterent gelees het en vir die middag sessie opgedaag het in plaas van die oggend sessie. Dis hartseer dat hulle diens in 3 jaar so verswak het.

Jessica Nel ·

Ek is al drie jaar ‘n student by UNISA en alles loop stiptelik. Ek ontvang my boeke in die week wat ek betalings gemaak het. Ek het ook al vir RPL aansoek gedoen en is uitstekend bygestaan. Maar as assessor en moderator self, ken ek ook die anderkant van die spieel…studente wat nie studiegelde betaal en dan weer wil registreer, of te laat wakker skrik met aansoeke vir vrystelling, onsuksesvolle werkstukke en eksamens ens.

Ons moet op die plek kom waar ons eers ons eie huis in orde kry en dan mag dinge dalk net meer vlot verloop.

Liesel ·

Daardie plek is so pateties. Hulle het my aansoek om my Meesters te doen afgekeer omdat ek “nie my dokumente ingestuur het nie”. Ek het alles seker 4 keer op hulle online aansoek platform ingestuur en dit ook omtrent 4 keer, as nie meer, per e-pos deurgestuur. Ek het dit al 2 keer verwys na UNISA se ombud, waarvoor ek steeds wag vir ‘n antwoord. Hulle sê ek kan weer aansoek doen vir die 2017 akademiese jaar. Pateties verby. Niemand antwoord enige e-posse nie. Gatvol is nie eers die woord nie. Pateties verby. Ek soek antwoorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.