Studentebetogings is ʼn aanval op die samelewing, sê Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het Saterdag gesê om boeke, skole en lesinglokale af te brand, is ʼn aanval op die fondamente van die samelewing.

Hy het tydens Erfenisdagvieringe in Galeshewe in Kimberley in die Noord-Kaap gesê dié dag moet dien as ʼn herinnering dat opleiding Afrika se trotse erfenis is en dat dit die magtigste bate is in die hande van mense wat hul waardigheid wil herstel.

“Ons moet die geleentheid om te leer koester, en ons moet opleidingsinstrumente jaloers bewaak. Om boeke, skole en lesinglokale af te brand, is ʼn aanval op die fondamente van ons samelewing,” het hy gesê. “Hierdie optrede is asof mens spoeg op die grafte van diegene wat die samelewings van Zimbabwe, Mapungubwe en Timbuktu gebou het. Ons moet hierdie optrede en gedrag veroordeel.”

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika sal slegs maatskaplike kohesie en vooruitgang behaal wanneer die vrug van demokrasie gelyk gedeel word met diegene wat in ʼn kringloop van armoede vasgevang is. “Maatskaplike kohesie sal bereik word wanneer mense se woorde en gedrag nie meer diegene, wat nie dieselfde velkleur of haartekstuur as hulle het nie, beledig of afkraak nie.

“As ons weier om ʼn toevlug te wees vir diegene wat haatspraak lewer teen kwesbare gemeenskappe, sal ons kan sê ons maak vordering om ʼn samelewing te bou wat vry is van die kettings van vooroordeel. In hierdie Suid-Afrika van ons drome, kan seksisme, stamgebondenheid en rasse-vooroordeel nie geduld word nie.”

Ramaphosa het gesê Erfenisdag bied die geleentheid om na te dink oor ons geskiedenis en ons kulturele erfenis, ons gebruike en ons tale. “Dit dwing ons om aandag te skenk aan die waardes waarop ons ʼn verenigde en vooruitstrewende nasie wil bou. Dit herinner ons dat ons almal Afrikane is, nie net individue en groepe wat bloot dieselfde geografiese ruimte deel nie. Dit moet ons ook daaraan herinner dat ons onverpoosd moet werk om ʼn gedeelde toekoms te bou op gelykheid, deernis en maatskaplike geregtigheid.

“Ons mag nie stilbly oor geweld teen vroue, kinders, bejaardes en persone wat kwesbaar is nie. Wanneer ons – swart en wit – saam daarna streef om ʼn nuwe verenigde samelewing in die gees van ubuntu te bou, moet dit duidelik wees in alles wat ons doen. Ubuntu leer ons dat ons slegs ons eie menslikheid verklaar wanneer ons die menslikheid van ander erken. Ons ekonomiese herlewing sal gewortel wees in ʼn kulturele revolusie wat die waardes van vriendelikheid, vrygewigheid, onselfsugtigheid, en grootmoedigheid hernu.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Attie Dippenaar ·

Studente betoog die tyd elke jaar, om nie eksamen teskryf. Hul eie prestasies is brandstigting en skade aan geboue. Na vier jaar op universiteit kan die studente nie ordentlike werk doen.

My opinie ·

Die anc is verabtwoordelik vir hierdie chaos. Húlle het beloftes gemaak wat nie gerealiseer het nie. Húlle spreek nie geweld aan nie. Húlle ontneem ouers en onderrig instansies die outoriteit om kinders te dissiplineer….en dan sit hul agteroor, speel onskuldig en “veroordeel” dít wat juis deur hul veroorsaak word.

Koos ·

100 % korrek gestel en dit is die wit en bruin studente wat te na gekom word en niemand wil die feite soos dit is weergee nie.

Ander Koos ·

Klomp mooi woorde en frases wat niks beteken en ver van die werklikheid is

Johann Marx ·

Mnr Ramaphosa, was dit nie jou “struggle organisation” wat gesê het “Liberation before Education” nie? Hoekom is dit nie nou meer aanvaarbaar nie? Dis dan wat julle wou gehad het? Uneducated liberated masses….? Nou’s dit skielik nie meer goed nie? Wat het verkeerd gegaan?

Martin ·

P resies Johan, hulle werk dan al van 1976 hieraan. Toe was dit in die haak om skole af tebrand en ‘n Regering omver te werp. Dit is nou wat ek noem deursetting vermoe. Mooi so ANC.

Garath ·

In die apartheidsjare moes almal vir hulle studies betaal, behalwe as jy gelukkig was om ‘n beurs te ontvang. As jy uit ‘n arm huis kom, soos ek, was UNISA jou voorland met langafstand onderrig. Geen internet daardie tyd. EN NIEMAND HET EEN KLIP OF EEN PETROL BOM GEGOOI NIE.

KarooKlong ·

Rampie probeer vure doodslaan en op ‘n subtiele manier die blaam verskuif. Meeste van ons het nie nodig gehad om te leer om te verstaan dat die huidige regering besig is om te tuimel nie. Hulle kan my laat weet as daar iets is wat ek kan doen om te help om hulle te sink. Ek help graag en verniet.

Jakobus ·

Mnr die adjunkpresident, Vrydag met jou toespraak by die Universiteit van Venda, het jy hulle aangemoedig dat hulle hul struggle vorentoe neem, met dit wat nie vir hulle aanvaarbaar is nie, hulle gaan die nuwe leiers van die land wees, hulle moet die land hervorm soos hulle dit wil beleef. Jy het beduie die studente moet die pad oop kalwe vir die volgende geslag, die rewolusie weer aan die brand steek, om hul doelitte te bereik. Ook het jy vir hulle gesê hul roep om vrye onderrig, weergalm in die gange van mag, hulle word gehoor.

Ander Koos ·

Hy mag nou dom wees, maar by Kodesa was hy baie slim en het vir Roelf Meyer en Leon Wessels lekker ore aangesit wat uitgeloop het op vandag se gemors

Bessie Buyd ·

Houop praat en tree op. Hierdie studente weet hul kom weg met moord en gaan nog swakker leiers wees as Ramaphosa en kie.

Netta ·

Die opstande en anargie steek my dwars in die krop. As hierdie studente in opstand kom teen finansiële verkwisting en korrupsie deur die staat, kan ek hulle frustrasie verstaan, maar nie hoe hulle dit hanteer nie. Jaag die ANC weg, nie die instansies waar jy jouself kan verbeter om ‘n toekoms vir jou en jou mense te verseker nie.

nico ·

Hulle wil eenvoudig nie werk nie en hoekom studeer hulle kyk op na hulle leiers wat lekker korrupsie pleeg en geld maak sonder om te werk voeer het die anc dieselfde gedoen

Faan ·

LW. Timbuktu, Groot Zimbabwe en Mapungubwe is nie deur “koloniste” vernietig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.