Studentebetogings: TUT stel aandklokreël in

TUT Soshanguve-kampus

TUT Soshanguve-kampus

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het Dinsdag ʼn aandklokreël by sy Soshanguve-kampus ingestel in ʼn poging om betogers te beheer wat die finale eksamen probeer ontwrig.

Die universiteit het gesê die eerste twee dae van die eksamen het suksesvol afgeloop, ten spyte daarvan dat 16 mense Maandag op die Soshanguve-kampus in hegtenis geneem is omdat hulle glo ʼn hofbevel verontagsaam het.

“Die veiligheid op die kampusse is opgeskerp om enige oortreder onmiddellik vas te trek. Om studente, personeellede en eiendom te beveilig, sal ʼn aandklokreël vanaf Dinsdagaand 17:00 op die Soshanguve-kampusse geld vir die res van die eksamentydperk,” het die universiteit Dinsdag gesê. “Geen besoekers sal toegelaat word om die Soshanguve noord- of suidkampusse tussen 17:00 die middag en 05:00 die oggend te verlaat of binne te gaan nie.”

Die TUT-bestuur het ook die eksamensentrums verskuif van die universiteit se onderskeie kampusse na die Tshwane Events Sentrum in die middestad. Busse word gebruik om studente tussen die sentrum en die kampusse te vervoer. Studente van die Ga-Rankuwa-kampus sal hul eksamens by die Grace Bible Church aflê.

Betogers het Maandag ʼn bus in Soshanguve aan die brand gesteek. Sommige TUT-studente eis dat die eksamens tot volgende jaar uitgestel word, omdat hulle nie genoeg tyd gehad het om voor te berei nie, weens die FeesMustFall-betogings wat weke lank op die land se kampusse gewoed het. Die universiteit is egter vasbeslote om die 2016 akademiese jaar te voltooi en het gesê enige student wat die eksamen misloop, sal hul hele 2016 akademiese jaar verbeur.

Veiligheidsmaatreëls is by al die TUT-kampusse ingestel, insluitend die afstandsleerkampusse soos eMalahleni, Mbombela en Polokwane. Die polisie is deurentyd op bystand gedurende die eksamentydperk.

Die universiteitsraad het verlede maand aangekondig daar sal geen verhoging in studiefooie wees in 2017 nie en geen student sal by die akademiese program uitgesluit word weens agterstallige skuld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

charmaine ·

As jy nie deel was van klip gooi en brandstigting het jy baie tyd gehad om te leer. Hoekom nou die betogings die skuld gee? Ons kinders het maar by hulle huise gebly en geleer en dis hulle wat met die goeie punte en die Graad gaan wegstap.

Ook n ouer ·

Daar word agteroor gebuig om hulle te akkomodeer maar nog is daar n klomp wat net aanhou verwoes…dis siek verby

Jan ·

Mentaliteit, ingesteldheid word by die huis geleer. Die gebrek daaraan, op straat.

callie ·

Maroela plaas asb my kommentaar. Weer, studente brand busse pleks van eksamen skryf en leer. Die laaste paar maande is om geboue af te brand, voertuie te vernietig en te dans belangriker gewees as klasloop. So ek het geen simpatie. Moet ook nie noem die meerderheid was onskuldig nie, hulle was te slapgat om iets te doen. My kinders het studie lenings gehad waaraan ek nou nog betaal want na hul grade verdien hulle nog nie genoeg om ordentlik te leef nie . Kry vir jou as jy wil geboue brand waarvoor my belasting geld betaal. Gaan kyk na die velkleur van die wat alles afbrand, dan vra die minister hoekom gradueer 6 wittes vir elke swarte.

Cornelia ·

Die wat nou kla, het genoeg tyd gehad om verwoesting op kampusse te saai, maar
nie genoeg tyd om te leer…

Jean ·

Nou werk die aandklokreel, in die apartheidsera is dit as ‘n verskriklike inperking van regte beskou en diskriminasie en rassisme, te vreemd hoe die dinge wat werk weer stil stil teruggebring word.

Piet Pompies ·

Snaaks genoeg, gedurende 1992 het ons onluste beheer gedoen in Shoshanguwe en daar was ‘n aandklokreel by staats instansies (Skole, regeringskantore ens). Die rede vir die onluste was om die land vry te maak van onderdrukking.
Nou, heelwat later is die land vry van onderdrukking en daar weer onluste oor “Fees must fall” in dieselfde dorp.
Ek sluk swaar aan die “Fees must fall motief”

Alida ·

Hulle gaan apartheid die skuld gee want die “aandklokreel” was ‘n apartheids term.

CK ·

Darem maar ironies né. Hulle verwoes als, lê rond en dan is dit TUT se skuld dat hulle nie kon leer nie. Nee my magtig man, WAT gaan jy doen wanneer jou werkgewer jou verlof nie toestaan nie? Ook staak en sy motor brand en dan eis vir menslikheidsverlof omdat jou regte geskend is.

Belinda ·

Daai reel moet nou verewig hou geen betogings en speel nie hulle is daar om te leer en hou op om net af te breek en te vernietig………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.