Studentedialoog op NWU-kampusse van stapel gestuur

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), het vanmiddag aangekondig dat hy studentebelangegroepe om ʼn tafel byeen wil kry vir ʼn reeks gesprekke oor die toekoms van die universiteit.

“Hierdie gesprekke is ʼn poging om studente op ʼn wye vlak te bereik oor al drie die kampusse om te gesels oor temas soos ras, taal, sport, die studentelewe en maatskaplike samehorigheid onder die vaandel van ‘Ons is die NWU’”, het prof. Johannes Froneman, Kgwadi se woordvoerder, gesê.

Volgens Froneman is die onlangse protesaksie by die institusionele kantoor van die NWU net een van die aspekte wat aanleiding gegee het tot die beplande gesprekke met die studente van die kampusse.

“Kgwadi loop al ʼn geruime tyd met die gedagte om ʼn dialoog tussen die studente van die kampusse te begin. Ons kry elke dag kommentaar van verskillende oorde wat ʼn mens laat besef daar is vrees, terwyl sommige mense selfs kwaad is en daar is baie onduidelikhede oor die toekoms van die universiteit onder die verskillende belangegroepe. ʼn Insident soos die protesaksie het ons opnuut laat besef dat daar erns gemaak moet word met hierdie gesprekke,” het Froneman gesê.

Volgens Froneman wou hulle net wag dat die nuwe studenterade en huiskomitees van die koshuise aangewys en die strategiese hersieningsdokument ingehandig word, voordat hulle afskop met die gesprekreeks.

“Ons sal binne die volgende week ʼn datum vir die eerste gesprek vasmaak. Hierdie gesprekke sal gestruktureer wees en ons sal dit selfs oorweeg om die gesprekke weg van die kampusse te hou sodat die studente mekaar ook in ʼn ontspanne, neutrale omgewing kan ontmoet,” het Froneman verder gesê.

Volgens Kgwadi is daar baie aktiwiteite wat op die kampusse plaasvind wat positief is en aangemoedig moet word. “Hoewel die studentelewe op die drie kampusse in ʼn mate mag verskil, wil alle studente ʼn veilige, lewendige studentelewe hê waar menswaardigheid, die beskerming van hul regte en die nakom van verantwoordelikhede deel is van hul alledaagse ervaring.”

Kgwadi het ʼn beroep op die studente gedoen om oor hul vrese en ervarings te praat en gevra dat studente die moeite moet doen om mekaar beter te leer ken. “So maak ons die universiteit ʼn baken van hoop,” het hy bygevoeg.

Froneman het verder gesê die gesprekke se formaat mag verskil, maar dit sal ʼn deurlopende proses wees. “Ek hoop dit word ʼn institusionele aksie, want studenterade en -organisasie word elke drie tot vier jaar heeltemal hernu. Ons sal die gesprekke hou vir solank as wat dit nodig is. Ons is tans in ʼn kritiese fase van die NWU se geskiedenis en hierdie is ʼn poging om nie net die studente in bestuursposisies van die studentlewe byeen te bring vir gesprekke nie, maar ook om die stem van die stille meerderheid studente te betrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
HEVW

Ek het net die gewaarwording hier skuil n slang in die gras. Kgwadi het omonwonde reeds bewys dat sy sg edele doel met NWU polities gemotiveer is en dat dit strook met die kommunistiese aanslag waarin die Afrikaner die uitgewisde moet wees. Kgwadi ek reken die protesaksie het jou ideal vir NWU mateloos skade berokken. Aan die hand van dit wat daar gese is en gebeur het, is dit tog duidelik wat in jou beplande samesprekinge gese gaan word. Al wat jy sal bereik is verdere polarisasie. Al wat positief daaruit mag gebeur is dat jy tog uiteindlik sal besef… Lees meer »

Johann Marx

Hoekom moet daar gesprekke gevoer word met studente van “verskillende kampusse” oor mekaar se kampusse. Elke kampus is uniek, met sy eie identiteit. Praat met studente van ‘n kampus oor hulle kampus……want wat daar aangaan het NET betrekking op die studente van daardie kampus. Die enigste rede hoekom gesprekke gevoer moet word met studente van verskillende kampusse oor mekaar se kampusse…..is omdat EEN kampus funksioneel is, resultate toon, finansieel gesond is, en min of geen oproerigheid nie….en die ander twee kampusse nie!

Alrina

Dialoog? Nou leer ek sowaar iets nuut! Eensydige afdwinging van konsepte = dialoog. Dan Kgwadi, aanvanklik het ek jou die voordeel van die twyfel gegee, maar jou motiewe stel regtig nie die belange van die NWU Potchefstroom voorop nie.
U breek af waar ander gebou het.
Bewys my asseblief verkeerd.

Dup du Plessis

……….maar ook om die stem van die die stille meerderheid studente te betrek………Word hiermee verwys na die hele NWU of per kampus? Ons weet mos wat is die demografiese verhouding van die verskillende rasgroepe en hul voorkeur taalgebruik. Getalle gewys oor die hele NWU is daar geen kans vir die voortbestaan van ‘n Afrikaanse kampus as die ander 2 kampusse daaroor moet besluit nie. Dis hoekom die behoud van Afrikaans by Puk vir die meeste ouers so belangrik is. As dit nie beskerm gaan word vir Afrikaanssprekendes nie behoort Kgwadi / Froneman die aankondiging so gou as moontlik te doen.… Lees meer »

Peet Schabort

Ja-nee, kyk dis nou WARE DEMOKRASIE.
DIS WANNEER JY DIE MINDERHEID OOK “N KANS GUN OM DEEL TE NEEM AAN HULLE EIE ONDERGANG.
Ruim dan ook die misverstande uit die weg en gaan voort met diegene met geen verstand.