StudentePlein sal klagtes oor Afrikaans met US deel

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

StudentePlein, ’n organisasie wat Afrikaanse akademiese ondersteuning aan Matie-studente bied, sal basiese besonderhede van taalklagtes, rondom die verdrukking van Afrikaans in studentegemeenskappe aan die Universiteit Stellenbosch met die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) deel. Die doel is sodat daar ʼn behoorlike ondersoek gedoen kan word en regstelling kan plaasvind.

Direkteure van StudentePlein en Pieter Kloppers, van die SSG, het op 19 Maart vergader.

“Dit is wel StudentPlein se posisie dat sodanige inligting net gedeel kan word in sover die SSG aan StudentePlein se prosedurele eise oor ondersoeke na taaldiskriminasie voldoen, naamlik: oorsig oor die ondersoek, ʼn oudit van alle studentegemeenskappe oor taalpraktyke, opleiding rakende meertaligheid, en regstelling van onregte.”

Deur inligting oor taalwanpraktyke te deel, sal die SSG ʼn ondersoek oor die voorvalle in onder andere Irene, Minerva, Huis Francie van Zijl en die AmaMaties-klos van gemeenskappe van stapel kan stuur.

“Dit sal hulle in staat stel om die reikwydte van misverstande, asook moedswillige optrede jeens moedertaal deur studenteleiers, te peil. Die inligting sal ook as roetekaart kan dien om ʼn oudit van koshuis- en PSO-gemeenskappe van stapel te stuur, sodat die vlak van onkunde oor meertaligheid bepaal kan word,” het StudentePlein bygevoeg.

“Daarvolgens sal beter opleiding rondom die hantering van meertalige omgewings in  leierskapsopleidingsprogramme vir huisleiers bygewerk kan word. Ook hier sal StudentePlein ʼn inset kan lewer.”

Kloppers het onderneem dat regstelling in die betrokke studentegemeenskappe moet plaasvind. “Dit kom daarop neer dat huisleiers aan studente om verskoning sal moet vra waar gevalle van taalonderdrukking bevind word. Dit behels ook dat die gees van verleentheid en vrees aktief teëgewerk moet word. Dit mag ook dissiplinêre optrede insluit na gelang van die geval.”

StudentePlein sê indien hy van mening is dat die SSG of Afdeling: Studentesake nie besig is om daadwerklike ondersoeke te doen of strukturele veranderinge aan meertaligheidsbestuur aan te bring nie, sal hulle eerder buite-kanale gebruik om sy lede te beskerm. “Ons verseker lede dat ons nie bereid is om  leë woorde en ʼn versuim om op te tree, goedsmoeds sal aanvaar nie.”

StudentePlein is nie heeltemal tevrede met verduidelikings waarom die voorvalle van taaldiskriminasie tydens verwelkomingsweek nie met dieselfde erns en inisiatief as geskiedkundige verwelkomingsvoorvalle hanteer is nie. “Ons aanvaar wel dat die SSG graag ʼn nuwe koers wil inslaan. Hierdie is immers ʼn gulde geleentheid om strukture vir die behoorlike bestuur van veeltalige leefomgewings op te rig, pleks daarvan om die onregmatige en ondeurdagte slegs Engels-benadering te handhaaf. Ons onderneem aan ons lede dat ons ʼn fyn en kritiese oog oor elke stap van die oorsig, oudit, opleiding en regstellingsprosesse sal hou. Ons moedig ook ons lede en alle studente aan om ons by te staan in ons werk om die US-bestuur op hierdie wyse verantwoordbaar te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andries ·

Die meerderheidstaal in die Wes-Kaap en Noord-Kaap is Afrikaans. Waarom kan studente nie in Afrikaans studeer tot op B graad vlakke? Meesters en Doktorale studies kan in Engels gedoen word ter wille van internasionale publikasie en erkenning, Dis ‘n totale skande dat Afrikaans geminag word deur die US en dat daar nie voldoen word aan die behoeftes van die inwoners van Wes-Kaap en Noord-Kaap nie.

Anel ·

Stem nie heeltemal met jou saam oor die Meesters en Doktorale nie. Doen dit in Afrikaans en as dit gepubliseer word, laat dit dan vertaal. Die net so goed jy sê vir ‘n skrywer hy moet slegs in engels skryf anders gaan ander lande se mense nie sy boeke lees nie. Dis hoekom daar vertalers is. Nou verwag jy van iemand wat sy lewe lank in een taal gestudeer het om die belangrikste studies in ander taal te doen. Dis net soos om vir ‘n Fransman of Italianer te sê hy moet sy verdere studies in engels doen. Ek sou eerder wou sien dat alle tale tot op Doktoraal gebruik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.