Studie: Geslagsongelykheid steeds wêreldwyd ʼn probleem

ʼn Nuwe wêreldwye studie vir Internasionale Vrouedag deur Ipsos en die Globale Instituut vir Vroueleierskap aan King’s College in Londen het bevind dat die meerderheid mans saamstem dat vroue nie gelykheid sal bereik sonder mans se ondersteuning nie, maar die helfte van hulle voel te veel word van hulle verwag om dié gelykheid te ondersteun.

Dié studie is gedoen met mense onder die ouderdom van 65 van 27 verkillende lande. 65% van die deelnemers glo dat vroue nie gelykheid in hulle lande sal kry indien mans nie ook aktief vroueregte begin ondersteun nie. ʼn Kwart (25%) het nie met dié stelling saamgestem nie. 75% van die deelnemers in Suid-Afrika het saamgestem met die stelling, terwyl slegs 47% van die deelnemers in Japan saamgestem het.

Mense is wel onseker oor of daar te veel van mans verwag word in die stryd om gelykheid. 43% van die deelnemers wêreldwyd het gemeen dat te veel van mans verwag word. 50% van die mans het gesê te veel word van hulle verwag, terwyl slegs 36% van vroue so gedink het.

Meer as die helfte van die respondente het gesê hulle dink daar is meer voordele daarin om ʼn man, eerder as ʼn vrou, in vandag se samelewing te wees. Slegs 12% glo daar is meer voordele vir vroue as vir mans. 26% van die deelnemers glo wel daar is geen verskil aan voordele vir mans en vroue nie, Die meerderheid van dié deelnemers was mans.

Suid-Afrikaners is veral geneig om te dink dat mans meer voordele in die samelewing het as vroue; 55% van Suid-Afrikaners het daarmee saamgestem.

Meer as die helfte (52%) van Suid-Afrikaners in die studie het ook gesê hulle dink nie die druk om gelykheid te bereik het al ver genoeg gevorder nie.

Meer as die globale gemiddeld (44%) van Suid-Afrikaners het hulself as feministe beskryf. Wêreldwyd het slegs ʼn derde (33%) van die deelnemers gesê hulle is feministe, en vroue was meer geneig daartoe om daarmee saam te stem as mans.

Die studie het verder bevind dat daar steeds ʼn lang pad is om te stap om geslagsgelykheid te bereik, maar dat houdings besig is om te verander.

Die helfte (50%) van die deelnemers het saamgestem dat jong vroue vandag ʼn beter lewe sal hê as vroue van hul ouers se generasie. Daarteenoor het 42% van die deelnemers gesê dat jong mans ʼn beter lewe as mans in hul ouers se generasie sal hê.

Lande wat die positiefste was oor hul toekoms, teenoor hul ouers se lewe, is Chili, Colombia en Indië.

Groter hoeveelhede mense in Turkye, Hongarye en Serwië glo wel dat vandag se jongmense slegter af is as vorige generasies.

ʼn Derde van die deelnemers wêreldwyd (65%) het gesê dat gelykheid tussen mans en vroue vir hulle van persoonlike belang is. Mense in Peru, Colombia en Suid-Afrika stem makliker saam met dié stelling, terwyl minder mense in Japan, Rusland en Nederland daarmee saamstem.

Houding teenoor geslagsrolle is ook besig om te verander.

Om kinders groot te maak is nie meer net die vrou se werk nie en 75% van die deelnemers het gesê mans wat by die huis bly om kinders groot te maak is nie minder van ʼn man nie. 75% van mense het ook gesê hulle sal gemaklik wees daarmee om ʼn vrou as baas te hê.

In Suid-Afrika het 70% van die deelnemers gesê hulle sal gemaklik wees met ʼn vrou as baas, terwyl 24% gesê het dit sal hulle ongemaklik maak.

Hoewel stappe in die regte rigting gedoen word om geslagsgelykheid te bereik, is seksuele teistering, seksuele geweld, fisieke misdaad, huishoudelike mishandeling en ongelyke betaling steeds groot kwessies wat vroue reg oor die wêreld in die gesig staar.

Seksuele teistering word deur 30% van die deelnemers uitgesonder as die grootste kwessie waarmee vroue moet sukkel. Seksuele geweld word wel deur mense in Colombia, Spanje en Suid-Afrika as die belangrikste kwessie gesien.

Gelyke betaling word in die kollig geplaas in baie Europese lande soos België, Hongarye, Duitsland en Nederland.

Die meerderheid van die deelnemers glo dat werkgewers mans en vroue dieselfde moet betaal vir dieselfde werk. Hulle glo ook dat strenger reëls teen geweld en teistering teen vroue ingestel moet word. 69% van die deelnemers glo dié veranderinge sal ʼn positiewe impak op die strewe na gelykheid hê.

Amper die helfte (48%) van die deelnemers het gesê hulle dink dat kinders grootmaak die area is waar daar nie genoeg gedoen word om gelykheid te bewerkstellig nie. Deelnemers glo wel dat onderwys die area is waar geslagsgelykheid eerste bereik sal word. 47% van die deelnemers het gesê hulle is positief dat diskriminasie teen vroue in die onderwys binne die volgende 20 jaar sal verdwyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Judge Dredd ·

Wel as jy tuiste-skepper as beroep aanvaar dan is vroue eintlik bevoordeeld :-)

T.Rol ·

@Judge, ja nee “tuiste-skepper” haha nee jys n huis vrou.

Menseregte is krities ·

Dit is jammer dat vrouens nog steeds as minderwaardig teenoor ‘n man beskou word deur sommiges. Net soos mense (nie almal nie) wat dink hulle is verhewe en beter as ander mense en daardie mense op grond van hul velkleur, seksuele oriëntasie en kultuur ens. as minderwaardig beskou. Dit is alles groot leuens – geen mens is beter as ‘n ander nie.

Inteendeel vrouens is in baie gevalle sterker en dapperder as mans. Ek sien gereeld hoe mans (weereens nie alle mans nie) vanaf hul laat 40’s al hoe meer op hul vrouens se sterkte staatmaak en afhanklik word van hul vrouens om leiding te neem en om dinge gedoen te kry. Ek ken vrouens wat nog steed in hul laat 80’s brutaal innerlik sterk is en nie skroom om dinge gedoen te kry nie! terwyl mans van daardie ouderdom meesal wegkwyn of alreeds weggekwyn het (weereens dit is nie in alle gevalle so nie).

Kortom wat ek wil sê dit is belangrik om jouself en ander mense te alle tye te respekteer en gelyk te behandel.

Judge Dredd ·

Bly om te hoor Usain Bolt is nie vinniger as ekke nie.

LK ·

Bring dan maar net n kwota sisteem in vir vrouens, maak die blanke man nog minder werd.

jakes ·

Kom nou vroue, kry vir julle. As julle op alle vlakke dieselfde ge ag moet word as mans sou God julle nie anders geskape het as mans nie. Onthou asb dat vroue nie in die oorspronklike skepping daar was nie maar na die die tyd geskape is.

Afrikaner ·

Ek het idee dat hoe die man en vrou geskape is, fisies, het baie daarmee te doen, indien nie als. En dan wil vrouens ook soos ‘n vrou behandel word en so voel, dit laat sekere mans met die siening dat die ‘swakker’ geslag nie gelyk aan die man is nie. En dan kyk die man met ‘n vonkel in die oog na die vrou. Die beroepsvrou glo ek dus moet soveel harder werk as die man, en almal is nie daartoe bereid nie, want die skepping tree nou en dan tussenin, dan moet ma en pa elkeen sy/haar kant bring. Al is dit so dat wat vrou aan betref al weg gedoen is met die benaming bestuurderes soos met meeste ander vroulike terme en word die manlike vir beide geslagte gebruik.

Mev die Mev en Ma ·

Ek is n ma wat kinders groot gemaak het met liefde.
Daarna eers voldag gaan werk.
Het gereis voordat kinders gekom het.
Ek het nie n probleem met myself nie.
Ek is bly en tevrede dat ek n vrou is en ek gun enige man sy plek en salaris in die lewe.
Los die mans uit want die vroue wat ontevrede is is maar ontevrede met hulself. Hierdie vroue probeer die manne in n blik druk en dit is onnodig.
Maak vrede met julself vroue en los die mans uit.
O ja laaste ding…mans is ook beter voertuig bestuurders as vroue.

Dries Moolman ·

Wens ons kon die klok terugdraai sodat elke liewer sosiale aktivis wat so kerm oor al wat ‘n ongelykheid is, maak nie saak van kleur, geslag of wat ook al nie, kan sien hoe erg dinge KAN wees, as dit nog moes wees soos 20 of meer jaar terug. Mens sou sweer ons leef nog in die vorige eeu soos wat party te kere gaan.

Waarheid ·

Jy is reg Dries.Stem saam met jou.
Ek stem ook vir Mev die Mev.
Ware woorde wat sy praat.
Laat mens dink….
Baie het hulle roots verlore laat gaan en hang die vreemde aan.
Dankie tog ek is nie een van hulle nie.
Hulle maak probleme vir hulself want hulle self is die probleem.

Jacobus ·

Stem nie saam met die artikel.

Soos meeste mans werk ek ook saam met vroue en daar word werklik ‘n verskil gemaak tussen vroue en mans; mans moet meer werk doen, harder werk en vir langer ure maar kry die selfde of minder salaris as die vroue.

Mans doen ook meestal die gevaarlike werk en in die werkplek maak mans 98% van die besering aan diens ongevalle uit.

Mans word ook seksueel geteister by hul werkplekke maar die vrou word eerder geglo.

Vroue en veral die feministe wil nie gelyk aan mans wees nie, hulle will meer gelyk wees maar nie die risiko’s loop nie.

Maak ‘n studie oor watter geslag geroep word by die werk deur vroue as die toilet verstop is, die deur nie wil oop, om swaar goedere te dra, om moeilike kliënte te hanteer. Julle sal verbaas wees dat 99% sal sê dat hulle ‘n man sal roep.

Kyk by enige besigheid waar mans die meerderheid is, daar word deur vroue (feministe) aangedring dat hulle 50% van die werkmag uitmaak op alle vlakke maar waar vroue in besighede die meerderheid is, word daar nie deur vroue (feministe) aangedring dat mans 50% van die werkmag uitmaak nie.

Daar is ‘n goeie studie gemaak deur die oorlewing spesialis Bear Grylls tussen die vermoë van mans en vroue in een van sy programme.

Die program kan hier gesien word op die internet om my punt te staaf ; bear grylls men vs women.

Gys ·

Ons mans het beslis ‘n lekkerder (meer sorgelose) lewe.
Lekker baaanja speelgoed soos skietpiete, motorfietse en vliegtuie.
Vrouens benader die lewe hopeloos te ernstig.
Hulle het ‘n oorontwikkelde verantwoordelikheidsin.
Dis net trou en kinders kry “left, right & centre”.

Pieter ·

Hehehehe, jy moet in jou pasoppens wees, jy gaan nou nou pak kry.

John ·

Waar kom kinders in die prentjie? Al die staatshoofde wil vroueregte bevorder maar die regte en pligte van kindersgrootmaak is ‘n minor. Kyk hoe gaan dit in skole en na skool smiddae en in die latere lewe… Geen maniere, geen respek vir ander en geen verantwoordelikhede nie. Wie help kinders met huiswerk, lees stories, gaan saam bib toe, gee godsdiensonderrig en speel saam as ma’s die heeltyd elders is… besig om hulself ‘uit te leef’ en baie mans sit sonder werk en sonder selfvertroue. As ‘n ma nie tuis is nie… is sy afwesig… plain en simple.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.