Studie toon antibiotika word onnodig voorgeskryf

Dr. Duane Blaauw (regs), van die Skool vir Openbare Gesonheid aan die Universiteit van die Witwatersrand, en dr. Mylene Lagarde, van London School of Economics and Political Science. (Foto: Wits)

Kenners wat as deel van ʼn studie toetspasiënte na private dokters en openbare klinieke in Suid-Afrika gestuur het, het bevind antibiotika word meestal voorgeskryf, al is dit nie nodig nie.

En, selfs al het van die jong gesonde “pasiënte” wat glad nie siek was nie, gesê hulle wil nie antibiotika hê nie, het 50% dit steeds ontvang.

Dié bevinding is gemaak tydens ʼn studie wat deur die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se Skool vir Openbare Gesondheid en die London School of Economics and Political Science (LSE) onderneem is.

Die toetspasiënte, soms ook spookpasiënte genoem, was nie regtig siek nie, en was deel van die studie om te sien wat dokters en verpleegkundiges in primêre sorg doen. In dié geval wou die navorsers sien wat word voorgeskryf vir akute brongitis – ʼn toestand wat glad nie antibiotika vereis nie.

Daar is bevind 78% van pasiënte wat na 73 openbare klinieke gestuur is, en 67% van die wat na 186 private huisdokters gestuur is, het wel antibiotika ontvang, al was daar geen simptome nie. Die gemiddelde koste van die middels in die openbare sektor was R35 en in die private sektor R157, maar in beide sektore is soms twee tot drie voorgeskryf.

Dit, terwyl die enigste behandeling eintlik simptomatiese middels is.

Die pasiënte (tussen 20 en 25 jaar) het aan die mediese praktisyns gesê hulle het die afgelope week ʼn loopneus, seerkeel en ʼn hoes gehad. Hulle voel nou beter, maar die hoes is na ʼn week nog nie weg nie. Hulle het ook geen koors, borspyn, kortasem of ander simptome gehad nie, met geen familiegeskiedenis van siektes nie.

Volgens die studie is die bevindinge van groot belang omdat dit die onnodige voorskryf van antibiotika is wat daartoe lei dat die mikrobes weerstandig raak teen bestaande middels. Veral in Suid-Afrika, waar daar ʼn groot siektelas is, is dit problematies. Antibiotika is hoegenaamd nie doeltreffend teen virusse nie – waarvan griep een sodanige siekte is.

Ná die tyd is onderhoude gevoer met die betrokke dokters en susters, wat in die primêresorgklinieke werk. Diegene wat die nasionale behandelingsriglyne geken het, en geweet het antibiotika moet nie vir akute brongitis gegee word nie, was vier keer minder geneig om dit nie te gee nie. Die ander het.

Die studie wat deur dr. Duane Blaauw van Wits se Skool vir Openbare Gesondheid en dr. Mylene Lagarde van LSE gelei is, het bevind diegene in primêre gesondheidsorg volg meestal nie die bewese riglyne in ongekompliseerde gevalle nie. Ook dat baie mense in Suid-Afrika waarskynlik antibiotika vir virusinfeksies ontvang, terwyl dit nie nodig is nie.

Tog is een van die redes wat dokters en verpleegpersoneel aanvoer dat mense antibiotika verwag en selfs daarop aandring. Dit was nie die geval in dié studie nie.

ʼn Tweede groep pasiënte is gestuur en die groep het aangedui hulle wil nie antibiotika hê nie, tensy hulle dit regtig nodig het. Die voorskryf daarvan het met 20% geval, maar die helfte van dié pasiënte het dit steeds ontvang, al het hulle gesê hulle wil nie antibiotika hê nie.

Dié deel van die studie is volgens die kenners ʼn bewys dat om ʼn openbare inligtingsveldtog onder die publiek te voer oor die gepaste gebruik van antibiotika, nie noodwendig die oplossing is nie.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hb ·

Dis so di waarheid. Daars mense by my werk wat amper elke maand antibiotika kry vi enige onbenullighede. Ek verstaan dit gladni. As di verkoue langer ad 3 dae duur, antibiotika

Lina Smit ·

Ek weet regtig nie hoekom n studie nodig was nie, ons weet dit al lankal

Hannatjie ·

Antibiotika is op die lange duur baie sleg vir mens. Ek koop probiotika en dit werk nog beter vir my as antibiotika en dis goedkoper en jy het nie nodig om eers dr toe te gaan nie.

Spook op thaba ·

Gee nie om wie wat se maar ek glo aan antibiotika. Al is dit vir vetkoue of n loopneud

HJ ·

Ek het nie n studie nodig om dit te weet nie. Mens word vol antibiotika geprop vir elke ding en dan kon vitamines help

San ·

Mense moet besef dat antibiotika nie vir virus infeksies werk nie maar slegs vir bakteriële infeksies. Daar word baie min nuwe antibiotika”s vervaardig , so die wat ons wel het moet spaarsamig en net vir bakteriële infeksies gebruik word.

Jo,ANLI ·

Uit goeie eie ondervinding persoonlik bevind, ek hhet ontrent 8 jaar laas antibiotika gebruik vir ń ernstige infeksie, daarna net geweier vir antibiotika en nog nooit weer nodig gehad om te gebruik nie. Gewone probiotika en multivitamine doen dit. Persoonlik gewerk by spreekkamers, so kan uit ondervinding praat. Moenie net altyd vol antibiotika pomp nie.Griep en verkoue gaan self weg. Bedrus en higiene.

Connie ·

Die vervaardigers van medisyne maak GROOT geld. Dis waaroor dit gaan.

Vra net ·

Hierdie studies is verskeie kere in die verlede gedoen. Deur groot instansies hier en oorsee. Is dit maar net nog ‘n manier van ‘n free lunch op iemand anders se rekening? Laat my onwillekeurig dink aan sendelinge. Gereed in ‘n sekonde om oorsee te gaan na eksotiese bestemmings om iets te gaan doen wat herhaaldelik bewys is, nie werk nie. Jy sal nie een van hulle hier in SA in’ n township kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.