Studie wys olifante slaap net 2 uur per dag

Foto: Wits

(Foto: Wits Universiteit)

ʼn Omvattende studie oor olifante in die natuur se slaappatrone het interessante bevindinge aan die lig gebring.

Prof. Paul Manger van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) was deel van die studie. Volgens Manger is ʼn fiksheidsmonitor gebruik om die olifante se slaappatrone te meet.

Die toestelle is in onder die vel van die slurpe van olifante in die Chobe Nasionale Park in Botswana ingeplant. “Ons het aangeneem as die slurp vir langer as 5 minute nie beweeg nie, slaap die olifante.” Die olifante is vir 35 dae aaneen gemonitor.

Prof. Paul Manger. Foto: Wits

Prof. Paul Manger. Foto: Wits

“Tot ons verbasing slaap die olifante in die natuur ongeveer twee uur per dag,” het Manger gesê.  Daar is gevind die olifante slaap meestal in die vroeë oggendure. Hulle slaap gewoonlik terwyl hulle staan, maar gaan lê en slaap omtrent een keer elke drie tot vier dae.

Die studie het ook aangedui REM-slaap is ongewoon vir die olifante en hulle slaap moontlik net diep as hulle lê en slaap. “Indien dit waar is dat olifante slegs in REM-slaap ingaan wanneer hulle lê, impliseer die bevindinge van hierdie studie dat olifante slegs elke drie tot vier dae in REM-slaap ingaan,” skryf Manger.

Die studie dui ook aan dat olifante 48 uur sonder slaap kan klaarkom, indien iets hul slaap versteur. As daar stropers en roofdiere is wat olifante moontlik in gevaar stel, sal hulle vlug en tot 30 km ver loop om weg te kom van die gevaar.

Volgens die navorsing lyk dit asof olifante die soogdier op land is wat die minste slaap. Die gryswalvis slaap tot nege ure per dag, ʼn perd ongeveer twee ure en 53 minute en ʼn kameelperd slaap sowat vier ure per dag.

Wits, die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles en die nie-winsgewende organisasie Elephants Without Borders was deel van die navorsing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christa ·

Dit is baie intetessant!! Ek hoop hulle gaan voort met die navorsing om hierdie bevindinge te bevestig!!

Marina ·

In die nag moet hulle seker maar waaksaam wees vir preditors. Sjoe dis min slaap hoor

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.