Studie wys talle steenkoolmyne in Mpumalanga oortree glo waterregulasies

mynboubedryf-02

Foto ter illustrasie. (Foto: Wilhei/Pixabay.com)

ʼn Studie deur ʼn omgewingsgroep wys verskeie steenkoolmyne in Mpumalanga voldoen nie aan die voorwaardes van hulle waterlisensies nie.

Die studie deur die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) is Woensdag vrygestel. Dit is opgestel ná ʼn ondersoek na voldoening by agt groot myne in die provinsie.

Die groep sê die verslag wys ʼn algehele versuim deur die departement van water en sanitasie om toe te sien dat daar aan die voorwaardes van die waterlisensies vir agt groot steenkoolmyne voldoen word. Die departement doen ook nie stappe waar daar ooglopende oortredings is nie.

“Dit skets ʼn prentjie van ʼn wanfunksionele nasionale departement wat nie sy plig om waterhulpbronne te beskerm, kan nakom nie,” het CER in ʼn verklaring gesê.

Die CER het gesê die gebrek aan voldoening duur voort “ten spyte van die feit dat die boonste Olifantsopvangsgebied, waar die agt steenkoolmyne geleë is, deur die departement uitgewys is as ʼn gebied wat onder die meeste druk is wat betref watergehalte en -hoeveelheid”.

Ses van die mynmaatskappye gebruik gesamentlik agt miljoen kubieke meter water per jaar.

Die CER-verslag sê steenkoolmyne is besonder skadelik vir waterhulpbronne weens die dreinering van mynsuur wat oppervlak- en grondwater met suur, metale en sout besoedel.

Die boonte Olifantsopvangsgebied bestaan uit verskeie aktiewe én verlate steenkoolmyne, steenkoolkragsentrales en suurwaterstortingsterreine, wat bydra tot die afname in die watergehalte in die opvangsgebied.

Van die myne wat geassesseer is, sluit in Tweefontein-Suid (Glencore Operations SA (Pty) Ltd), die Leeuwpan-steenkoolmyn (Exxaro Resources Limited), die Vanggatfontein-myn (Wescoal Mining (Pty) Ltd), asook die Goedgevonden-myn (Glencore Operations SA (Pty) Ltd).

Die navorsing het bevind onafhanklike omgewingsouditeurs het ook versuim om onpartydige opnames te doen oor die voldoening aan die voorwaardes van waterlisensies. Die CER-verslag het bevind in talle gevalle is ongegronde gevolgtrekkings gemaak. Soms was daar boonop ʼn versuim om besoedeling en die skending van lisensievoorwaardes aan te meld.

“Die oudits is veronderstel om ʼn veiligheidsnet vir reguleerders te wees, waar oortredings en risiko’s ondervang kan word wat inspekteurs tydens gewone oorsigbesoeke om voldoening te monitor, mis,” het Leanne Govindsamy, hoof van die CER se Korporatiewe Verantwoordbaarheidsprogram, gesê.

“Pleks daarvan is hulle nou die enigstes wat voldoeningsmonitering doen, wat ʼn enorme skuiwergat skep waar oortredings nooit aangemeld of teen opgetree word nie.”

Die CER sê hy het sy verslag aan die departement gestuur en het talle pogings aangewend om met senior amptenare te vergader vóór die verslag gepubliseer is. In dié stadium kon geen vergadering nog belê word nie.

“Suid-Afrika se waterhulpbronne word bedreig en dié bedreiging gaan net vererger weens die veranderings wat aan ons klimaat voorspel word,” het Govindsamy gesê.

“Die verslag gee bewyse van die skokkende minagting waarmee die staat en nywerhede ons waterhulpbronne hanteer, asook die manier waarop sogenaamde onafhanklike beroepslui die wanfunksionele stelsel aan die gang hou.

“Ons doen ʼn beroep op wetgewers, reguleerders, nywerhede, finansierders én beleggers om hulle invloed te gebruik om onmiddellike optrede vir sinvolle hervorming te help bewerkstellig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marlene ·

By Ogies/phola is vleigrond wat ook nou gemyn word. die vlei is in elkgeval so bemors met afval riool, maar dit is tog kommer wekkend dat daar gemyn word.

Gert van Wierdapark ·

‘Dis ‘ n skreiende SKANDE en Sabotasie teen die omgewing en SA se inwoners!!! Die skuldiges is nommer een die sogenaamde department van Water en Sanitasie, en tweedens die (bekende) myngroepe!!! Dit is Kaping van die waterbronne deur die myne en goed- keuring daarvan deur die regeringl Dis om van te ween (saam met die natuur)

Johanna Botha ·

Verwag dit as riool in die vaal beland …water wat ons moet drink …die mense voel niks vir wette nie !

Bmw ·

Aan wie behoort die myne? Seker die so genaamde agter geblewenes.

Vraagteken ·

Ek kan nie verstaan nie. Almal soek elektrisiteit, maar terselfde tyd het daardie selfde mense iets te sê oor die prosess waar die elektrisiteit vandaan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.