Studietrust belê 15 jaar lank in Afrikaanse studente se drome

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die voorreg gehad om die Helpende Hand Studietrust se gedenkboek eerste te teken. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Helpende Hand het sedert die ontstaan van sy Studietrust in 2009 reeds meer as 12 000 studielenings aan 6 935 behoeftige studente toegeken – ʼn somtotaal van R338 miljoen.

Die besonderse mylpaal is Woensdag tydens ʼn glansgeleentheid saam met donateurs by die Sol-Tech‑kampus in Monumentpark, Pretoria, gevier.

“Hierdie jaar was die Helpende Hand Studietrust in staat om 1 030 studente te help met R54 miljoen vir hul studies. Die goeie nuus is dat ons ook reeds daarin geslaag het om R70 miljoen in te samel om studente in die komende jaar te help,” het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gesê.

Die droom vir dié Studietrust is dat elke student wat wil studeer, wel kan studeer. Noëth het verduidelik dat die trust al reeds duisende versoeke van studente en hul ouers ontvang het om te help.

“Dit is nie net name nie, maar mense met hulle eie stories wat vra: Gee vir my ʼn toekoms. Ons wil hierdie studente hoop gee en hulle drome vlerke gee.”

Lizelle van der Klashorst is die bedryfshoof van dié Studietrust. (Foto: Reint Dykema)

Volgens Lizelle van der Klashorst, bedryfshoof van dié Studietrust, word die hart van die trust weerspieël in die kragtige simboliek van sy visiestelling wat lui “sewe generasies van hoop gegrond in studie”.

“Dit is waarom verhoudings vir ons so belangrik is, want ons werk met ʼn nalatenskap van elke donateur wat vanaand bywoon – elke bydrae is meer as net ʼn lening, dit is iemand se toekoms. Die rentmeesterskap hiervan is iets wat ons ernstig opneem, want ons besef dit is ʼn gawe van Bo. Ons is gevul met dankbaarheid vir dit wat ons kon bereik en ʼn gevoel van verantwoordelikheid.”

Van der Klashorst het bygevoeg dat ʼn mens nie werklik ʼn prys kan plaas op die waarde van goeie opleiding en onderrig nie. “Tog is daar ʼn koste om nie daarin te belê nie en as ons wel daarin kan investeer, kan ons seker maak ons gemeenskap word ʼn stelsel van hoop.”

Dawie Roodt was die gasspreker van die aand. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep en aanbieder van Ontbytsake, was die gasspreker van die aand. In sy praatjie het hy benadruk dat die wêreld‑ en die plaaslike ekonomie tans onder geweldige druk verkeer.

“Jongmense vra my altyd of hul in Suid-Afrika moet bly of eerder moet emigreer. Hulle wil ook gereeld by my weet wat hulle moet studeer. My antwoord is dat ek glo die toekoms gaan beter lyk, veral as jy na die verlede kyk.

“Nie net het lewensverwagting oor die afgelope honderde jare drasties verbeter nie, maar ons ekonomieë raak al meer dienste en tegnologies gedrewe. Dit beteken dus dit maak nie eintlik saak van waar jy werk nie. Jy moet net in staat wees om jou risiko’s te identifiseer en dan te bestuur.

“Politici hou van fisieke goed, maar na mate alles na ʼn datawolk beweeg, gee dit al minder beheer en maak die politici ook al minder relevant.”

ʼn Gedenkboek is by die aand bekendgestel. Die gedenkboek vang die hoogtepunte van die trust oor die afgelope 15 jaar vas.

“Dit is ʼn simbool van die seëninge en getuienisse van God oor die werk wat ons gedoen het. Ons is dankbaar vir elke persoon wat die afgelope jare hulle helpende hand uitgereik het om dit vir jongmense moontlik te maak om te studeer.

“Ons dra die boek op aan elke student wat al gehelp is en elke student wat nog kom. Mag hulle vir hulle kinders vertel,” het Yolandi Theron, administratiewe hoof van die Studietrust, gesê.

Daar is ook ʼn legkaart by die geleentheid uitgestal wat wys dat die Studietrust se sukses nie deur een persoon alleen moontlik was nie.

“Hier by Solidariteit Helpende Hand glo ons baie sterk dat as elke persoon net sy legkaartstukkie bestuur, instandhou, en uitbou, dan sal die legkaart volledig wees. Dankie aan elke persoon wat sy deel van die legkaart bygevoeg het,” het Zander Botha, fondsbestuurder van die Studietrust, bygevoeg.

Ruhan du Toit het die feesviering op ʼn hoë noot met musiek afgesluit, maar nie voordat Noëth vir hom ʼn Familiebybel uit 1886 uit sy eie versameling geskenk het nie om hom te bedank vir sy bydrae aan Helpende Hand en die Solidariteit Beweging.

  • Besoek www.hh-studietrust.co.za om meer oor die Studietrust uit te vind of om dié trust te ondersteun.
  • Kyk hier na ʼn video oor wat die Helpende Hand Studietrust oor die afgelope 15 jaar vermag het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Baie dankie Helpende Hand Studietrust! Julle maak ‘n verskil – ons sal self – want cANCer haat dit wat julle doen.

Althes ·

Dankie Solidariteit en al julle filiale. Julle gee ons gewone Suid-Afrikaners hoop. Jul help ons jeug om hulself te bemagtig. Alle goedheid en guns rus op julle.

annie ·

Fantasties vir ons kultuur en taal maar soos Israel sy eie in stand hou, studeer hul jeug ook ander vakke en tale want Afrikaners kan ook nie werk verskaf vir al ons Afrikaanses nie. Hoe wil ons dit kombineer vir oorlewing in die buitewêreld? Destyds het die Engelse en hul swart leerders aan die Kaap hul doodgelag vir die swak Engels van die trekkerboere ook vir dood en aanneming deur Engelse predikante. Ons jeug is slim genoeg vir albei prosesse.

Anel ·

Baie dankie wat julle vir ons Afrikaaners doen. Afrikaans sprekende kinders of jongmense wat in Afrikaans gestudeer het is baie gesog oorsee wat daardie mense weet dat ons kinders goed geleerd is, hardwerkend is en gedisiplineerd. Doen so voort!

Republikein in die Wes Kaap ·

Emigreer na die Wes-Kaap. Nuwe tegnologie maak dit vir jou moontlik om in die Suid-Kaap, Klein Karoo en Weskus te vestig en te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.