‘Stuur hulle tronk toe, pres. Ramaphosa’ – DA

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa moet klagte van korrupsie teen sy eie partylede aanhangig maak en hulle dadelik skors – hy moenie die ANC se integriteitskomitee toelaat om ʼn waarskuwing en ʼn vergoedingspakket uit te deel nie.

Só het die DA Sondag gereageer nadat Ramaphosa lede van die regerende party in ʼn sewe bladsy lange brief voor stok gekry het oor korrupsie, en in sommige gevalle, ANC-lede se aandadigheid daaraan.

John Steenhuisen, DA-leier, sê Ramaphosa is lamgelê en is ʼn blote toeskouer in sy eie party waar korrupsie die organisasie nou al so laat verrot het, dat dit nie doeltreffend uitgeroei kan word sonder om die ANC heeltemal te laat inplof nie.

Steenhuisen sê “korrupte kaders moet tronk toe gestuur word, nie net op die vingers getik word nie”.

“Die brief is lippetaal terwyl Ramaphosa gewys het, soos onlangs nog, dat korrupte kaders in sy party steeds beloon word en nie uit hul poste verwyder gaan word en in ooreenstemming met die land se wetgewing gestraf sal word nie,” het Steenhuisen gesê.

Hy het onder meer verwys na Zandile Gumede, die voormalige burgemeester van Ethekwini, wat die afgelope week as lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer teen ʼn salaris van R1,1 miljoen per jaar beëdig is. Gumede word betrek by grootskaalse tenderkorrupsie ter waarde van R400 miljoen.

Steenhuisen het ook verwys na Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wie se seuns, Tshepiso en Thato, Covid-19-tenders ter waarde van R2,7 miljoen gekry het.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Ramaphosa het in sy brief geskryf die ANC moet hom in die openbaar distansieer van diegene wat van korrupsie beskuldig word of daarby betrek word. Hulle moet voor die party se integriteitskomitee verskyn om verantwoording te doen.

Steenhuisen sê hy gaan nou ʼn lys saamstel van elke ANC-lid en staatsamptenaar wat bewerings van korrupsie in die gesig staar en dit aan Ramaphosa voorlê. Die DA gaan dan fyn dophou hoe ernstig Ramaphosa is oor die stryd teen korrupsie.

“Ek het vandeesweek self opdrag gegee dat klagte van diefstal en bedrog teen burgemeesters en munisipale bestuurders aanhangig gemaak word wat self nie hulle Eskom-rekeninge betaal nie, maar steeds betaling vir dienste van inwoners ontvang.

“Suid-Afrikaners kan nie langer betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie omdat gulsige ANC-kaders die geld steel.”

Steenhuisen sê Ramaphosa moet nou ʼn streep trek – nie ʼn streep wat elke keer geskuif word met net nog ʼn leë belofte wat gemaak word nie.

“As die ANC sê hy ‘sak sy kop in skaamte’ oor korrupte lede, begrawe hy inderwaarheid sy kop in die sand en hoop dat Suid-Afrika sal vergeet wat hy gedoen het.”

Steenhuisen sê Suid-Afrika vergeet nie hoe ANC-lede aanhou om die land te stroop nie en dat mense moeg is vir Ramaphosa se huiwering en besluiteloosheid.

“Skors en vervolg jou kaders soos beloof. Enigiets minder is blote praatjies en minder optrede van ʼn toeskouer-president.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks

Wat van kopdoek en haar kinders wat onwettige geld op swart mark en word steeds nie vervolg nie huh???

Cyril wys ons jy is ernstig oor korrupsie en hou op met BEE, want dit werk nie so nie! Julle is korrup verby! Die hele lot is onbevoegd verby om die minste te sê!

Stuur hulle tronk toe en laat hulle elke sent terug betaal met rente ons is gatvol om te betaal vir die gemors van jou regering!

Trotse Boervrou

John Steenhuizen, soos jy self sê, die sogenaamde president is ‘n “toeskouer” in die ANC. Hier gaan niks van kom nie. Hy het nie ‘n sê nie. Dit het ons mos darem eerstehandse kennis van gedurende die Inperking. “Kop in skaamte laat sak” glo ek nie. Om die waarheid te sê ek dink niemand glo meer enige iets wat hy sê nie, nie eens sy eie party nie.

PieterP

Wensdenkery

Sarel

Daar is nie meer plek nie.

Mallie

In die ou Suid Afrika sou hulle onmiddelik ontslaan geword het of geskors gewees het sonder betaling, maar die ANC en hulle kaders kry mos alles want hulle demand mos.