‘Stuur inspekteurs na polisiestasies,’ smeek polisielede

Só lyk dit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkantoor in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Solidariteit ontvang sedert Woensdag al meer klagtes van polisiebeamptes wat beweer dat hul werkplek nes die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se hoofkantoor in Pretoria, nie meer geskik is vir menslike gebruik nie.

Die SAPD se hoofkantoor in die Telkom-toring in Pretoria is Dinsdag ná ’n inspeksie ontruim en gesluit nadat daar klagtes ontvang is oor ’n gebrek aan skoon drinkwater, swak of stukkende lugversorging en ventilasie, stukkende en vuil toilette, geslote en ongemerkte nooduitgange, hysbakke wat nie werk nie, onvoldoende toerusting vir brandbestryding en algemene vuil en besmette kantoorruimtes.

Johan Böning, afdelingshoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sê talle polisielede vra nou dat daar by hulle polisiestasies soortgelyke inspeksies gedoen word.

“Dié oproepe kom van lede van die polisie wat desperaat is om verbetering in hulle eie fasiliteite en omstandighede te sien. Ons hoor ook van lede wat deur bestuur geteiken of gedreig word wanneer hulle dit waag om gebreke by fasiliteite te rapporteer.

“Baie van hierdie lede is wanhopig en twyfel of dit ooit weer sal regkom. Daarom is hulle maar net verlig om van die aksie by ’n plek soos die Telkom-toring te hoor – al het dit ongelukkig nie uit die polisie se eie inisiatief gebeur nie,” sê Böning.

Só lyk dit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkantoor in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het voor die inspeksie by hoofkantoor klagtes ontvang van beweerde lugwegsiektes en allergiese reaksies, vermoedelik weens die vuil kantoorruimtes en gebrek aan vars lug. Sommige werkers het ook oor vuil matte, luise en kakkerlakke gekla.

Daar is eindelik ná talle klagtes en etlike onbeantwoorde skrywes aan die polisie se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid en lt.genl. SW Chamane, afdelingskommissaris van regsdienste by die polisie, besluit om ʼn ter plaatse ondersoek te doen.

Die polisie het intussen gesê sy besluit om die gebou te ontruim, is geneem weens besorgdheid oor werknemers se welstand en veiligheid.

“Ons wil graag wel vir die departement van indiensneming en arbeid dankie sê dat hulle opgetree het. Dis immers hulle wat die statutêre mag het om dit te kan doen,” sê Böning.

Böning sê die SAPD se hoofkantoor is beslis nie die enigste ellendige baken van staatsverval in die verdedigingsektor nie.

Die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Lugmag moes ook vandeesweek ontruim en gesluit word – óók na ’n inspeksie deur die departement van indiensneming en arbeid waartydens toestande ontdek is wat werknemers se gesondheid bedreig.

  • Solidariteit het intussen verneem die polisie se ontruimde hoofkantoor is Woensdag, minder as 24 uur ná die verpligte ontruiming, reeds weer deur werknemers betree. Die gebou moes toe opnuut in opdrag van die nasionale polisiekommissaris ontruim word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Philip ·

Wat is die probleem, dit pas mos in by die res van die kamstige nuwe Suid Afrika, ons weet mos niks werk nie.

JohnnyS ·

Brakpan se SAP kantore is skoon en netjies. Baie te doen met wie die stasie bevelvoerder is. Dankie Brigadier Friedel Jonck.

Riaan ·

Dit is belaglik! Die geld om die stasie in stand te hou is sonder twyfel in n Kadre lid se beursie.

Aai ·

Niemand wil meer herstelwerk vir die staat doen 90 dae is lank om vir jou geld te wag as jy betaal word na 90 dae.

Martie ·

Niemand hoef 90 dae te wag vir hulle geld nie, dis openbare werke se plig om staatsinstellings te diens. En dis die mense wat daar werk wat die plek laat verval. Ken nie van beter.

Nici ·

Ons was die naweek by ‘n stasie om vingerafdrukke vir ons klarings te doen. Geen seep om jou hande mee te was nie, geen handoekpapier nie EN geen toiletpapier nie….. Die personeel was darem vriendelik!

Wicus ·

@Aai, nee niemand kry meer kans om vir die staat die werk te doen nie, Alle werk word deur “tenders” aan pelle en familie gegee, die word wel betaal, maar die werk word nooit gedoen nie.

RissiepitAnna ·

@SjN nou het ek lekker gelag, baie skerp. Jy slaan die spyker op die kop, (het myself voorgeneem om nie weer in te skryf nie, want my kommentaar word afgevee), maar ek moes net. Konnie beter gestel word in een sin nie. 10 uit 10.!!!

Jakkie ·

Die staatsdepartement van sekerlik die heel swakste is, is Openbare Werke wat verantwoordelik is vir die instandhouding. Soos JohhnyS noem dit moet die stasiebevelvoerder wees at voortdurend druk moet plaas op Openbare Werke.

RS ·

Ag tog, wat ‘n grap.
Dit is nou hoe die kantoor lyk waaruit geregtigheid moet geskiet, maar die SA regering sien kans om sake in die wereld hof aan te gee oor mense oortredings. Hulle kan nie eens ‘n basiese ding regkry soos om ‘n kantoor/werks plek skoon en in orde te hou nie.

Keelvol ·

En nou weet ons waar hulle die geld vir af verkwansel het, om n kinderagtige saak teen Israel te bring. Instandhoudingsprincipe werk is n westerse konsep mos.

Jasmyn ·

Doen sommer ondersoek na die polisielede self ook asb. In Wepener vind ons die grootste mensehandel in die land en in Vanstadensrus polisie wat hiermee help, asook help om karre uit die land te smokkel. Zastron ook. Hoe is dit dat almal hiervan weet maar niemand doen iets hieromtrent nie. Dosyne onwettige Lesotho burgers woonagtig in hierdie areas.

ANNAMARé ·

Kantoorriumtes en toilette word nie vanself vuil nie, dit is die mense wat daar werk!!!!

Di ·

Ek persoonlik dink ook dat die meeste polisielede nie “geskik” is om die werk te doen nie. Hoekom begin hulle nie self ‘n poging aanwend om die werksplekke ten minste “netjies” te hou nie, DIT kos nie geld nie

Marina ·

As elkeen net om hulself netjies maak (en hou) sal die plek mos nie so lyk nie? Hierdie is n anderste nasie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.