Stuur jonger grade eerste terug skool toe – kenner

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

’n Onderwyskenner aan die Universiteit Stellenbosch meen die risiko vir onderwysers en ouers om Covid-19 op te doen, sal aansienlik minder wees indien die jongste leerders toegelaat word om eerste terug te keer skool toe tydens afsondering. Dit omdat jonger kinders minder vatbaar is vir die nuwe koronavirus, sê dr. Nic Spaull, verbonde aan die universiteit se departement ekonomie en navorser oor onderwyssake.

Spaull voer aan dat leerders in die grade R, 1, 2 en 3 eerder as die graad 7’s toegelaat moet word om saam met graad 12-leerders terug te keer skool toe. Dit is omdat dié kinders nie so maklik die virus opdoen nie, maar ook meer aandag tuis verg as ouer kinders.

“Die kans dat kinders tussen 0 en 10 jaar oud [die nuwe koronavirus] sal opdoen, hetsy van mekaar of van volwassenes, is heelwat minder as dié van volwassenes. Selfs al het hulle die virus, dra hulle dit nie maklik oor nie en gevalle waar hulle ernstig siek word of aan Covid-19 sterf, is uiters skaars,” meen Spaull.

Maroela Media het vroeër berig Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het aanvanklik gesê die skole sou die afgelope Maandag vir bestuurspersoneel oopmaak en onderwysers sou volgende Maandag terugkeer skool toe. Motshekga sal na verwagting Donderdag verdere besonderhede oor die heropening van skole aankondig.

Daar is tot dusver bekend gemaak dat leerders in gr. 7 en gr.12 eerste terug sal gaan skool toe, gevolg deur leerders in laer grade.

Volgens Spaull dui bewyse uit lande reg oor die wêreld daarop dat kinders se kanse om Covid-19 op te doen en weens die virus te sterf, skraal is.

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Spaull wys daarop dat syfers wat deur OurWorldinData.org uitgereik is, daarop dui dat die Covid-19-sterftekoers per ouderdomsgroep vir China, Italië, Spanje en Suid-Korea ’n sterftekoers van 0% vir die kategorie 0-9 jaar oud en 0,3% vir dié jonger as 40 jaar oud aandui.

“Navorsingsbevindings in alle lande blyk besonder konsekwent te wees. Kortom, kinders is minder geneig om geïnfekteer te raak, hetsy van mekaar of deur volwassenes, en is minder geneig om die virus oor te dra; selfs al het hulle die virus,” verduidelik Spaull.

Volgens Spaull stem Suid-Afrika se ouderdomsprofiel van infeksies en sterftes ooreen met die internasionale tendense, hoewel ons aansienlik minder infeksies en sterftes ervaar vergeleke met ander lande.

Hy wys daarop dat nie een van die 123 mense in Suid-Afrika wat teen 2 Mei aan Covid-19 gesterf het, jonger as 20 jaar was nie. Volgens Spaull was slegs 0,3% van die 3 144 positiewe gevalle in Suid-Afrika op 19 April boonop tussen 0 en 10 jaar oud en 4% was tussen 11 en 20 jaar oud.

Sosiale en ekonomiese voordele

Spaull is ook van mening dat ouers daarby sal baat vind, sou die departement van basiese onderwys besluit om leerders in jonger grade eerste terug skool toe te stuur. Dit omdat kinders van tien jaar en jonger die grootste versorgingslas op hul huishoudings plaas en verhoed dat baie ouers en versorgers terugkeer werk toe om ’n inkomste te verdien om hul gesinne te onderhou, verduidelik hy.

(Argieffoto: pixabayonderwys)

Volgens Spaull is jong kinders ook minder in staat tot selfgerigte leer tuis. “Dis deels daaraan te wyte dat hulle nog nie geleer het om selfstandig te lees nie, maar ook omdat jong kinders eenvoudig meer menslike interaksie en aktiwiteit benodig om te leer. Terwyl skole gesluit is, het alle kurrikulêre leer vir die meeste kinders in Suid-Afrika tot ’n einde gekom. Dit lei tot verdere ongelykhede in leeruitkomste,” verduidelik Spaull.

Hy voer ook aan dat kinders se welstand toeneem wanneer hulle skool toe gaan, aangesien sommige gratis skoolmaaltye by die skool kry om hul dieet aan te vul. Kinders by die skool het ook interaksie met kinders van dieselfde ouderdom en dít gee hul versorgers ’n blaaskans van andersins ononderbroke kinderversorging. “Dít verbeter op sy beurt ouers se geestesgesondheid en stel hulle in staat om te werk, te beplan en te ontspan, wat maak dat hulle beter versorgers is wanneer kinders ná skool huis toe gaan,” sê Spaull.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Llady ·

Ja, beslis Matrieks eerste. Maar saam met hulle (i.p.v. Graad 7), kleuterskole, en die jonger grade bv. Graad R en Graad 1.

Llady ·

Jonger kinders is baie meer aangewese op volwassenes om hulle deur die dag te help (nie net vir leer nie, maar ook bv. self-help vaardighede). Ouer kinders kan hulleself makliker help en besig hou, sonder hulle ouers se hulp. Ek persoonlik, sal dit verwelkom as eerder jonger kinders eerste kan teruggaan skool toe, terwyl ouer kinders kan aangaan tuis. Ek en my man werk voltyds vanaf die huis (daar word van ons beide verwag om 8 ure ‘n dag te werk), maar ons 4-jarige kinders benodig ook ons hulp en aandag deur die loop van die dag – om nie eers van stimulasie te praat nie! Soos wat hierdie afsondering aangaan en ons onderskeie werke aanpas by dié nuwe normaal, raak ons werk net al hoe meer. En ons tyd vir ons kinders al hoe minder. Of dis ‘n geval van, gee aandag aan die kinders bedags, en werk dan saans/snags tot ver na middernag (dikwels tot 2:00, 3:00 in die oggend) om net op hoogte van ons werk te bly. Dit is op die lange duur nie volhoubaar nie.

Francois ·

Ek stem 100% saam. Ouers moet gaan werk en kan nie klein kinders alleen by die huis los nie terwyl groter kinders alleen by die huis kzn bly as die ouers gaan werk

Luna ·

Ek stem ook saam! Dit sal verseker die beste wees om te doen.

Adam Adriaan ·

Die kinders sal seker eendag vir hulle kleinkinders kan vertel dat hulle deel was van die wêreld se kinders wat die langste vakansie gehad het in die geskiedens van skoolgaan

Alma ·

Dit is waar dat die sterfgevalle laag is by ouderdomsgroepe onder 9 jaar. Dit is ongelukkig nie 9 jariges wat voor in die klas staan en klasgee nie, aan spoegboeke en potlode moet vat en by banke moet buk om werk te verduidelik nie. Dis ook nie 9 jariges wat kinders wat glipsies kry en naar word moet help nie. 8 en 9 jariges sit nie stil nie, bly nie 1,5 m van mekaar af vir 6 ure nie. Hulle sukkel om hulle truie en skoolskoene aan te hou hoe nog n masker vir 6 ure.

Belinda ·

Verpleegsters moet werk, dis tyd dat onnies ook hul deel doen

E ·

Ek stem saam dat kinders nie die groot risiko is nie. Dit is die onderwysers – baie van hulle is ouer of het siektes wat hulle groot risiko maak. Ouer onderwysers sal dalk tydelik vervang moet word met jongeres. Solidariteit is baie oulik, hulle gee onderrrig in verskeie sentra oor groot skerms, geen fisiese onderwyser. Net ‘n onderwyser as daar practise toetse gedoen moet word, Dit gaan seker maar die toekoms word. Net kinders met spesiale behoeftes gaan dalk iemand in die klas moet he. Of baie klein kinders.

Duck ·

Nou moet die onskuldige kindertjies die virus huis toe bring en so steek die heel gesin aan. Back to square one!

minniemuis ·

Klink eerder vir my of ouers kinder opasser sien in plaas van opvoeders. Matrieks is in hulle laaste jaar en graad 7 moet reg wees vir volgende jaar se hoer skool. Meeste kommentare gaan oor hulle niemand het wat na hulle kinders kan kyk nie en voel vere dat dit eintlik oor leer opvoeding gaan of is ek verkeerd? Juffrou moet haar familie los om na jou kleinding om te sien☻

sammy ·

My Graad 2 kind gaan beslis nie as ‘n proefkonyn gebruik word nie! Ek stem, kinders is minder vatbaar, volgens studies, maar ek weet hoe kan maatjies aanmekaar hang en pouses saam speel. Hoër grade gaan beter verstaan van social distancing en maskers dra heeldag. Begin bo en werk dit dan ondertoe. Onderwysers gaan ook verkies om hoër grade eerste terug te kry by die skole agv die hoeveelheid skoolwerk wat agterwee gebly het tydens die inperking. En glo my, ek weet van Gr1-3’s wat méér skoolwerk in dié tyd bygehou het as hoërskool kinders. Dis mos vakansie!

Raakvatter ·

Ek stem dat die jongeres eerste skool toe gaan. Die grondslag fase is belangrik. As alle kinders bloot deurgesit word wat nog nie die basiese onder die knie het nie, gaan hulle sukkel in die volgende graad.
Boonop, tuis onderrig is rof vir 2 ouers wat voltyds werk (met 3 kinders jonger as 9).

Mariana ·

Ek doen van dag een af skoolwerk met my kleinseun van 9 jaar oud en Gr 3. Dit was moeilik maar nou raak ons gewoond aan die tye vir leer, speel, ontspan ens. Ek kan dink hoe ouers wat albei werk nog skooldag ook moet inpas. Ek is heeldag tuis en kan help met baie goedjies deur die dag maar my prioriteit is die versorging van my kleinkind. Dit is ‘n voorreg om dit te doen, maar dit sal goed wees vir skole om te heropen. Kinders moet interaksie met ander kinders ook hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.