Stuur ʼn bietjie liefde (en ʼn koopbewys) na SA

Die onlangse identifisering van die Omikron-variant van Covid-19 en Suid-Afrika se aanmelding daarvan by die Wêreldgesondheidsorganisasie, het beteken tientalle lande het summier hul grense vir reisigers van Suid-Afrika gesluit. (Foto: Dept. van toerisme)

Daar is geen rede om nié die toerismebedryf aan die suidste punt van Afrika te ondersteun net omdat jy nie self jou paspoort hier kan laat stempel nie, glo Hayley Reichert, stigter van die To South Africa, With Love-veldtog.

Daarom het dié Suid-Afrikaner in Londen ʼn veldtog van stapel gestuur waarmee sy mense aanmoedig om die Suid-Afrikaanse toerismebedryf vanuit elke uithoek van die aarde te ondersteun.

Dit kom nadat talle reisigers se planne om Suid-Afrika in Desember te besoek, op die nipper in die wiele gery is toe reisbeperkings na Suid-Afrika opnuut ingestel is.

Reichert het ʼn beroep op alle diaspora gedoen om geld of koopbewyse aan vriende en familie in Suid-Afrika te stuur wat dit dan hier by restaurante, op uitstappies, vir ondervindings of hotelverblyf te gebruik.

(Argieffoto: Love South Africa/Facebook)

Sy het ook ʼn beroep gedoen op diegene in Suid-Afrika wat self die vermoë het om die plaaslike toerismebedryf te ondersteun, om familie en vriende vir uitstappies te nooi en namens hulle daarvoor te betaal.

“Nooi iemand wat ʼn taai jaar agter die rug het iewers heen en betaal die rekening,” is een van Reichert se voorstelle, “of los ʼn lekker groot fooitjie vir ʼn hardwerkende kelner.”

Die onlangse identifisering van die Omikron-variant van Covid-19 en Suid-Afrika se aanmelding daarvan by die Wêreldgesondheidsorganisasie, het beteken tientalle lande het summier hul grense vir reisigers van Suid-Afrika gesluit. Dié reisigers wat van plan was om in Suid-Afrika vir ʼn sonnige Desembervakansie aan te meld, sal dit weens die streng reisbeperkings nou ook nie meer kan doen nie.

Talle reisigers se planne om Suid-Afrika in Desember te besoek, is op die nipper in die wiele gery toe reisbeperkings na Suid-Afrika opnuut ingestel is. (Argieffoto: Unsplash)

Reichert, wat al 13 jaar lank in Engeland woon en nou betrokke is by verskeie projekte om Suid-Afrikaners in die buiteland te help, sê die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) het net in Desember vanjaar sowat 300 000 toeriste uit die Verenigde Koninkryk verwag.

Suid-Afrika het teen verlede week egter reeds minstens R1 miljard in besprekings verloor vir reise wat tussen Desember en Maart volgende jaar gemaak is. Die plaaslike toerismebedryf ondersteun sowat 1,5 miljoen werksgeleenthede op ʼn regstreekse of onregstreekse manier en dra jaarliks miljarde rande tot die staatskas by.

Die afsonderingsregulasies wat sedert verlede jaar ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te stuit, het dié bedryf egter besonder swaar getref. Die sektor het gehoop dat die Desembervakansie die geleentheid gaan wees vir die bedryf om weer kop op te tel – en ook internasionale reisigers terug te verwelkom – maar die verskynsel van Omikron het dié hoop laat verskraal.

“Daar was nou ʼn klemverskuiwing van die internasionale na die plaaslike mark – en die plaaslike mark is reeds onder druk – en ons probeer om steeds geld uit die buiteland in Suid-Afrika in te pomp.”

Uiteindelik gaan dit egter nie net oor groot bedrae nie, maar oor mense en hul gesinne, sê Reichert.

Maar sy glo ook daar is hoop. Reichert sê duisende mense het reeds op die oproep gereageer en verskeie sakeondernemings het aangedui dat hulle deel van die veldtog wil wees. Sy sê hulle beoog nou om ʼn landingsblad op die been te bring wat dit makliker sal maak vir diegene oorsee om deelnemende ondernemings op te spoor.

Suid-Afrikaners wat op hulle beurt die gelukkige ontvangers van enige koopbewyse is, word aangemoedig om foto’s van hul geliefdes oorsee te druk en saam te neem wanneer die koopbewyse bestee word. Hoewel hulle dus nie bymekaar kan wees nie, kan geliefdes minstens in gees saamkuier. En boonop help om werksgeleenthede te red.

(Foto: LoveSouthAfrica/Facebook)

Reichert het ook ʼn beroep op SA Toerisme, Satsa-lede, plaaslike toerismebemarkingsorganisasies, plaaslike regeringsinisiatiewe en bekendes gedoen om by die veldtog betrokke te raak en To SA With Love-koopbewyse op hul webwerwe te skep wat diegene in die buiteland sal toelaat om maklik regstreeks by spesifieke ondernemings of plekke te koop.

Reichert was verlede jaar ook nou betrokke by pogings om sowat 20 000 Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand was nadat die koronaviruspandemie uitgebreek het, te help om na Suid-Afrika terug te keer. Naastenby nog 20 000 mense wat weens verskillende redes oorsee moes reis, is ook destyds gehelp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

… geld in te pomp… SA se naam moet verander word na Pledgeïanië.

JohanCzu ·

Baie goeie idee. Ons was ook in die toerismebedryf en het ons besigheid (herberg) en in die proses ons “life savings” wat daarin belê was verloor weens covid se afsluiting van die toerismebedryf. Die enigste verskil is, ons is in Paraguay, Suid Amerika. Daar is dus geen hulp of ondersteuning beskikbaar vir ons nie.

Mallie ·

Dis alles goed en wel. Wanneer begin die toerismebesighede vir ons as Suid Afrikaners “cater”. Hulle is so duur dat ons liewer by ons huise bly.

Elmarie ·

100% Mallie. As daar meer goeie pryse is SAL ons eie mense plekke ondersteun. sommige plekke “cater” uitsluitlik vir die buitelandse mark, ons wil ook soms luuks vakansie hou maar nie met pryse soos wat baie plekke kos nie, selfs nie eers luukse plekke nie. Nietemin, goeie idee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.